Monday, 31 October 2011

Hoeveel diesulkes op huigelkansels?

Die geskiedenis, waarby inbegrepe ook die kerkgeskiedenis, herhaal sigself. Van dit wat vandag in die kerk aan't gebeur is ten opsigte van sommige leraars se huigelary en verraad teenoor Christus en hul roeping, is daar talle soortgelyke voorbeelde in die Bybel. 'n Voorbeeld hiervan is waar God by monde van Esegiël (34:7,10) sê: "...die herders het vir hulleself gesorg en nie vir my kleinvee nie...Ek gaan optree teen die herders: Ek eis my kleinvee van hulle terug..."

Daar is diegene wat beweer dat daar vandag leraars is wat Christus vir materiële gewin en mense-aansien verraai. Hierdie bewering word dan ook gedeeltelik gestaaf deur beriggewing in "Rapport" (23.10), "Predikante bieg oor twyfel", waarin vyf predikante anoniem juis dit deur hul bekentenisse in 'n nuutverskene boek, "Hier staan ek", erken. Hulle bieg dat "...in hul harte glo hulle nie meer wat hul werk se posbeskrywing van hulle vereis nie." Van hulle sê: "Ek kan nie meer bid nie...Ek lees nie meer die Bybel nie" en glo ook nie meer in Jesus se maagdelike geboorte, opstanding uit die dood of 'n hiernamaals nie. Nog een vind eerder aanklank by "die kontemplatiewe spiritualiteit van die Katolieke mistici." Nog een sê, soos die Moslems en Budhiste ook sê, Jesus is " 'n navolgenswaardige leermeester"   -   en dis al! Hulle durf hul Christus-verloënde oortuigings nie openbaar maak nie ter wille van "My loopbaan...". Loopbaan?   -   'n loopbaan van huigel en om lidmate te mislei? Hoe kan sulke predikante met hul gewete saamleef in ag genome ook die aflegging van hul legitimasie-eed?

'n Kritieke vraag is: Hoeveel soortgelyke dominees bevind hulself vandag op kansels, besig met hul vernietigingswerk? Broer Andrew van "God se Smokkelaar"-faam het gesê: "Either you get radical for Jesus Christ, or you get out (of the Church)". Dit geld ook dié huigelleraars.                        (ngn)






Tuesday, 25 October 2011

ANC-Jeugliga gedryf deur ras

Volgens "Die Burger" (24.10) het Malema gesê: "Ons wil álles hê wat witmense het, dit is waarvoor ons veg." Die eerste indruk is dié van dubbelsinnigheid: 1. Swartes wil presies dieselfde hê wat wittes het, of 2. wittes moet alles wat hulle het aan swartes afstaan. Wanneer Malema sê: "Die land met alles daarin behoort aan ons!", verdwyn dié potensiële dubbelsinnigheid. Wat hy sê, is totaal ongrondwetlik, maar is die grondwet die papier werd waarop dit geskryf is, die ANC se partybevoordelende vertolking daarvan in ag genome?

Indien Malema met sy uitlating opsie een bedoel het, sou hy uit alle oorde steun ontvang het. Trouens, hoeveel van ons onthou nog die NP se herhalende refrein van: Wat ons vir onsself opeis, gun ons ook vir elke ander bevolkingsgroep in Suid-Afrika. Maar dit is juis met laasgenoemde wat die sosialistiese rasverabsoluterende en magsbehepte ANC probleme het  -   onderskeibare mensegroeperinge met diverse behoeftes wat slegs harmonieus en vreedsaam saamgebind kan word deur die beginsel van "eie belange" en "gemeenskaplike belange" te erken.

Die "ANC Youth League Manifesto  -  1944" werp lig op waaroor dit werklik gaan. Hierin word verklaar: "The contact of the White race with the Black has resulted in...a set of conflicting living conditions and outlooks of life...the conflict has emerged as one of race...This has made it imperative for the African to view his problems... through the perspective of Race."

Hiermee is die ras-aap uit die mou. Aan die wortel van alles lê vir hom ras, en dan ook die verabsolutering van sy eie ras, die swart Afrikaras. Alle ander rasse is ondergeskik, vreemdelinge en bywoners wat, volgens Afrikavoorwaardes, verdra en verduur moet word vir eie gewin. Die ANC-Jeugliga word gedryf deur ras waarin ander rasse, as die swart ras, geen plek het nie.



Sunday, 23 October 2011

Bly liewer weg van betogingsgebiede

Indien daar een persoon en organisasie in Suid-Afrika is wat nié onderskat moet word nie, dan is dit Julius Malema en die ANC-Jeugliga. Malema is soos 'n vonk vir 'n kruitvat. Hoeveel van ons weet van die Jeugliga se "Mass Mobilisation and Action Programme for October 2011", 'n dreigement wat geeneen ligtelik durf opneem nie.

Volgens dié Jeugliga se webblad het dit op Sondag 18 September vergader om 'n program vir massa-aksie vir 27 en 28 Oktober te beplan. Daar is besluit: "The youth league will roll out mass action throughout the country...(and) to strategic centres of power in South Africa."

Die Jeugliga beplan dat hul "mass action and protests" by die Kamer van Mynwese sal begin waar hulle die nasionalisering van myne en gelyke verdeling van mineraalbronne sal eis. Daarna beweeg hulle na die Johannesburgse Effektebeurs waar hulle die gelyke verdeling van die nasionale rykdomme, vinniger ekonomiese transformasie en werksgeleenthede vir die werklose jeug gaan eis. Vanhier sal na die Uniegebou in Pretoria beweeg word waar 'n memorandum aan die regering oorhandig sal word waarin eise om gratis onderwys, die onmiddellike wegdoen met arbeidsmakelaars, werksgeleenthede vir die jeug, beter behuising, sanitasiegeriewe, water en elektrisiteit gestel sal word.

Hierdie oproep is gerig aan "all economic freedom fighters...The people shoud rise and demand what rightfully belongs to them." Die volgende groepe word tot mobilisasie opgeroep: die werklose jeug; minderbevoorregte studente; petroljoggies, plaaswerkers, kelners(-inne), ontvangspersoneel, ens; plakkerkampbewoners; almal wat nie dienslewering ontvang nie; die grondloses en persone sonder water en elktrisiteit. Dit impliseer 'n groot aantal mense en potensieel grootskaalse ontwrigting.

Alhoewel op Johannesburg en Pretoria as hoofbrandpunte van dié protesaksies besluit is, moet landelike bewoners nie oorgerus wees nie, en mense moet liewer wegbly van betogingsgebiede.             (ngn)










Monday, 17 October 2011

NG Kerk-sinode verloën die waarheid

Op 12.10.11 het die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk soos volg besluit: "Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer" (AS-agenda, a.14.7), met ander woorde, die bestaan van satan mag ontken.

Jesus self getuig van die bestaan van satan. Ontkenning van satan maak Jesus tot leuenaar, is 'n aanslag op Bybelse geloofwaardigheid, is 'n verwerping van die geloofsbelydenisse van die NG Kerk, is 'n verbreking van NG Kerkleraars se legitimasie-belofte, maak ruimte vir die bemagtiging van dwaalleraars in dié kerk, vernietig die geloofwaardigheid van dié kerk in  die oë van lidmate en is daarom niks anders as 'n godslasterlike en dus sondige besluit nie. Enige sonde begaan teen die Woord van God, asook verwerping van die kerklike belydenisskrifte, soos in die geval van dié AS-besluit, is volgens artikel 61 van die Kerkorde tugwaardig.

Dr.Henrietta Klaasing sê op Kerkbode-aanlyn (KBA) as satan nie bestaan nie, was daar geen sondeval nie; en geen sondeval, geen verlossing nodig vir die mensdom nie. Jesus se kruisdood en sendingwerk deur die eeue was dan verniet. Ds.Jan Louw vra op KBA "...waarom die belydenisskrifte so belangrik is wanneer die kinderdoop verdedig moet word, maar van minder belang wanneer dit gaan oor die bestaan van satan?"

'n "Beeld"-peiling (13:10) na die waarde wat die AS-besluite vir mense het, het die volgende aangetoon: Baie waarde: 9% ; Geen waarde: 63% ; Neem kennis: 29%. 'n Soortgelyke "Die Burger"-peiling (13:10) na die AS se ja-stem vir Belhar het die volgende opgelewer: Ondersteun: 20% ; Verwerp: 27% ; Onbetrokke: 53%.

Lidmate moet ernstig kennis neem van die Bybelse opdrag: "Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid" (1 Tim.3:15b). Die AS het die waarheid verloën.               (ngn)








Thursday, 13 October 2011

Moderator steun Ontluikende Kerk

Prof. Nelus Niemandt is tot moderator van die NG Kerk verkies (DB,11.10). In hóm het dié kerk nou 'n uitgesproke denk- en geesgenoot van die Ontluikende Kerk (Emerging Church) tot leier verkies. Hoe weet ons dit? Sy geesgenootlike vriend, prof. Stephan Joubert, skryf in sy voorwoord tot Niemandt se boek, "Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede", dat die skrywer "uitgediende kerklike maskers...rondom ons almal afhaal...deur nuwe geloofspraktyke vir ontluikende kerke op ons etenstafel neer te sit..." Dit het Joubert se "kop van voor af geswaai...(met) 'n klompie radikale nuwe insigte..."

Van die Ontluikende Kerk, waaromtrent hyself en Niemandt ewe opgewonde is, sê Joubert die volgende: "...die jonger generasie sien die kerk as 'n struikelblok om die Here te dien...(hulle) is nie lojaal aan 'n denominasie nie", en die kerk moet aanpas by veranderde tye   -   "Dis wat die emergent church sê."

Die kerk moet nuwe gespreksgenote vind soos die Boedhiste, die vinnigste groeiende spiritualiteit in die wêreld. Ons leef in die tyd van die post-Christendom. Volgens Joubert beweer Peet Kruger, algemene hoof van News 24 se koerante, dat tradisionele Afrikaanse kerke se stem nie meer ernstig opgeneem en as nuuswaardig beskou word nie.

Joubert sê: Luister na die Boedhiste en lees hul geskrifte want "Hulle het dalk ook waarheid. Waarheid is nie net in die Christendom nie. Jy kan waarheid vind by ateïsme." En "mens stig nie kerke nie...(maar) begin net 'n nuwe movement en jy infiltreer alles wat jy kan...en op 'n nuwe manier die Evangelie neersit...Daarom gaan ek nie ander ouens se spiritualiteit aanvat en my waarhede postuleer nie...(en) die emerging church sê kom ons luister...(en) dis reg as jy glo soos jy glo. Ek gaan jou nie probeer verander nie..."

Dit is dus geen geheim dat die nuwe moderator die Ontluikende Kerk steun nie.                (ngn)



Tuesday, 11 October 2011

Belhar kwalifiseer nie as gereformeerd

"Die Burger" (10.10) wys NGK-lidmate op prof.Piet Naude se ope brief in "Kerkbode" waarin hy andermaal aanvaarding van die Belharbelydenis (BB) bepleit. Betekenisvol dat sy brief saamval met die huidige Algemene Sinodesitting.

Wat die BB betref, vra ds. Theo Danzfuss die volgende kritiese vrae in sy artikel, "Evaluering van die Belharbelydenis (3)", in "Waarheid en Dwaling", mondstuk van die Vereniging vir Gereformeerde Lewenswandel, onder die oorkoepelende vraag: Hoe vergelyk die Belharbelydenis met die algemene kenmerke van 'n gereformeerde belydenis? 1. Is Belhar 'n "repetitio sacrae Scripturae"?, met ander woorde, 'n "naspreke van die spreke van die Skrif". Danzfuss sê Belhar gebruik begrippe soos eenheid, versoening en geregtigheid en vul dit met nie-Bybelse betekenisse. Dit maak ook geen erns met die konteks van 'n teksvers nie.  2. Is Belhar 'n noukeurige geformuleerde belydenis?, met ander woorde, trek dit 'n duidelike lyn tussen waarheid en dwaling. Danzfuss sê nee.  3. Kan Belhar op die "Quia"-standpunt onderteken word?, met ander woorde, "omdat" dit met die Bybel ooreenstem en nie "in soverre" dit daarmee ooreenstem nie   -   die "Quatenus"-standpunt. Selfs drs.Bam en Smit, wat leiding verskaf het aan die BB-opstellers, het erken dat die formulering daarvan dubbelsinnig is.  4. Is Belhar 'n belydenis met 'n algemene karakter? Danzfuss sê nee. "As ons dit vergelyk met gereformeerde belydenisse, is die kontras soos dag teen nag...Belhar is 'n situasiegebonde protes teen sekere sosiaal-maatskaplike probleme."  5. Is Belhar 'n "Regula Fidei"?, met ander woorde, onderskei dit tussen ware geloof en dwalinge/kettery. Danzfuss sê nee; daarvoor is die BB te eensydig.  6. Hoe tyd- en plekgebonde is Belhar? 'n Ware gereformeerde belydenis is nie tyd- of plekgebonde nie en verouder nooit. Die BB voldoen nie hieraan nie.  7. Is Belhar 'n formulier van eenheid of verdeeldheid? Die BB verdeel Christengelowiges.

Ter gevolgtrekking sê Danzfuss die BB vertoon géén kenmerk van 'n ware gereformeerde belydenisskrif nie.



Thursday, 6 October 2011

NG Kerk-moderamen duld godslastering

My besware (DB,26 en 29.09) teen godslasterlikhede op Kletskerk (KK), waarvan Jean Oosthuizen die moderator is   -   terselfdertyd die NG Kerk se Kerkbode-nuusredakteur   -   berus op voorbeelde soos die volgende waarin hy vra: "Alles maar net 'n p..p in 'n bottel of wat." Hierop reageer ene Stefan: "Nuwe voorgestelde naam vir die Heilige Gees: Die P..p in die Bottel (of) dalk is P..p innie wind beter...ek en my vrou het seks met God...ek dink 'n ware Christen is by uitstek 'n p..ph.l". "Kameraad Eksteen" plaas Christus met 'n ereksie tussen twee kinders op KK, en Oosthuizen laat dit, en nog veel meer, op KK toe.

NG-gemeente Moreletapark asook 'n KwaZulu-Natalgemeente maak beswaar hierteen, gevolglik voer die NGK-moderamen 'n gesprek met Oosthuizen. Van dié ontmoeting sê laasgenoemde: "Op geen stadium tydens die vergadering het enige lid van die moderamen my op enige manier oor die vingers getik oor die wyse waarop ek Kletskerk modereer nie. Na afloop van die vergadering was daar...algemene instemming dat Kletskerk as 'n alternatiewe forum 'n noodsaaklike rol het om te vervul. Van die moderatuurslede het...in privaatgesprekke ook aan my bevestig dat hulle veral beïndruk is met die wyse waarop mense hier oor geloofsgrense heen op 'n unieke manier daarin slaag om verhoudings te bou"   -   ten koste van God Drieënig!

Ek vra (DB,29.09): "Oosthuizen én die NG Kerk moet verduidelik hoe hulle eersgenoemde se gelyktydige betrokkenheid by Kerkbode én Kletskerk-godslastering verantwoord." In die agenda van die Algemene Sinodesitting van 10 tot 14 Oktober 2011, word op p.210 soos volg gerapporteer: "6.4 Kletskerk: Die Moderamen het die klagtes hieroor saam met die ATKM hanteer en oordeel dat die saak op 'n goeie manier bestuur word"   -   dis al. Mag ons hieruit aflei dat die NGK-moderamen godslastering duld ter wille van "verhoudingsbou oor geloofsgrense", en Christus só verloën?                     (ngn)







Sunday, 2 October 2011

NG Kerk keer die rug op Afrikanervolk

In sy ringsaanvaarde voorlegging, "Afrikaanse armes sal met privaat inisiatief gehelp moet word", tydens die NGKerk-ringsitting van Louis Trichardt (12-13.08), verduidelik ds. Petrus Kriel waarom die NGKerk teen die Afrikanervolk draai en verarmde Afrikaners nie ondersteun nie.

Kriel sê Afrikanerarmoede is die gevolg van die ANC-owerheid sowel as geestelike instellings se strukturele geweld teen volksgenote. Die staat diskrimineer op velerlei wyses teen arm NGKerklidmate as "voorheen begunstigdes". Hierbenewens staan ook kerke toenemend afsydig teenoor verarmende Afrikaners.

Voor 1994 het Afrikaners én -kerke hulself as behorende tot die Afrikanervolk beskou. Kriel sê tans is daar 'n nuwe gemeenskapsvorming in Afrikanergeledere. Waar verskille tussen ryk en arm Afrikaners voorheen nie so sterk beklemtoon is nie, is daar nou 'n materieel-bepaalde "klasseverdeling" onder Afrikaners. Arm lidmate is op diskriminerende ANC-hulp aangewese. Vermoënde lidmate, veral met sakebelange, vind dit voordelig om eerder met die armoedevraagstuk in ander gemeenskappe te assosieer. Talle Afrikaanse instellings is reeds tot ANC-nasiebouprojekte verbind.

Saam met die NG Kerk hou welvarende Afrikaners hulself voor as deel van 'n nuwe "geestelike elite" wat eerder ander gemeenskappe as die eie gemeenskap wil dien. Kriel beweer die Afrikanervolk mag sigself nie meer kerklik as volk identifiseer nie, maar eerder as individue in 'n breër gemeenskap in "vrye assosiasie" sonder enige gemeenskapsverbintenis, en as deel van 'n "geestelike gemeenskap" waarin "kleur" en "kultuur" geen rol speel nie. Die Afrikanervolk verteenwoordig dan kwansuis 'n "volksmentaliteit" van die "apartheidskerke", en dit is sonde.

Kriel sê Christelike kerke se strukturele geweld teen arm Afrikaners is om hul armoede as "'n geestelike saak te regverdig". Hiervoor sorg die "boetedoeningsinstelling van die moderne Christelikheid". ANC-gunssoekende kerke sal later ANC-taal móét praat. Kerklike hulp moet bydra tot "heling" en "versoening" met Afrikagemeenskappe. Hulp aan arm Afrikaners dra nie daartoe by nie en daarom word hulle in die kerk se welsyn "regverdig" gemarginaliseer.