Sunday, 31 March 2013

SA minderheidsgroepe en ons Bricsvennote

Ons kan slegs spekuleer oor die indrukke wat SA se Bricsvennote van hom verkry het na sy militêre fiasko in die Sentraal Afrikaanse Republiek. Dieselfde geld na dese ook vir die lidlande van die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se dunk van SA se gewaande leierskapsrol binne dié streek. SA geniet beslis nié meer die interstaatlike en internasionale aansien van vroeër nie. Indien realisties beskou, is SA se huidige leierskapsrol verreweg 'n totaal oorskatte rol.

Vir die agteruitgang van SA se vroeëre beeld en vermoë as voorste en toonaangewende land in Suider Afrika, is slegs die ANC te blameer onder wie se bewind ons tans van die heel boonste plekke inneem betreffende korrupsie, stakings, arbeidsonrus, verkragtings en moord, asook van die heel onderste plekke inneem betreffende onderwysgehalte, dienslewering, werkverskaffing en armoedeverligting. Watter soort leierskap impliseer dit?

SA is duidelik nie in dieselfde liga as sy Bricsvennote nie. Hiervan is Brandan se raak spotprent van "Soek vir Zuma in China se bosak" (DB,28.03) tekenend van SA se posisie daarbinne. Die naïewe ANC-leierskap besef nie dat dit vir sy vennote daaroor gaan om déúr SA 'n toegangspoort tot die res van Suider Afrika te verkry vir die vestiging van 'n ekploiterend neo-koloniale bedeling waartydens die kommunistiese ideologie, asook die storting van oortollige produkte én mense   -   veral vanuit Rooi China   -   gevestig sal word.

Die onversadigbare kommunistiese wolf, eens hand en tand met goed en bloed beveg, word nou die skaapkraal binne genooi. Met hul bedenklike menseregte rekord sou lande soos Rusland en Rooi China daarom goedkeurend kon toesien indien die ANC-mags-  en geldbelustes minderheidsgroepe in die toekoms sou boelie. Kan Suid-Afrikaners belangeloos staan ook teenoor die potensieel negatiewe invloed van ons Bricsvennote op die toekoms van ons land en sy mense?






Saturday, 23 March 2013

Op waaroms en hoekoms volg die daaroms

In sy skrywe, "Indoktrinasie so oud soos volkere" (DB,11.06.2010), sê Christian Martin die volgende van my: "Jy (Breitenbach) is nie altyd verkeerd in sekere van jou sieninge nie." In my reaksie daarop het ek gesê dat Martin "die integriteit openbaar om tussen debat (saak) en debattteerder (persoon) te onderskei" (DB,15.06.2010). In sy onlangse skrywe, "Passievolle Pienaar sal gemis word" (DB,15.03), bewys Martin my destydse stelling as korrek wanneer hy onderskei tussen Pienaar (persoon) en die DA (saak)   -   deur Pienaar gedien   -   waarin Martin slegs lof het vir Pienaar wanneer hy van hom sê: " 'n wonderlike kollega, opposisieleier en man van waarheid", 'n lofrede komende van Martin as ANC-LPW. Sodanige krediet aan 'n politieke opponent spreek vir sigself van Martin se grootmoedigheid en volwassenheid. Laat ons daarom kritiseer diegene wat gekritiseer moet word, maar ook erkenning gee waar erkenning verdien word.

In sy skrywe (DB,22.03) waarin Martin reageer op die skrywes van Johan Keyser (DB,21.03) asook dié van prof. Amanda Gouws (DB,18.03), lees ek dié waarheid wat hy daarin voorhou, naamlik "antwoorde kan alleenlik verkry en mense se optrede verstaan word as dit in konteks en in samehang met die verlede van ons land verstaan word." Ek het begrip daarvoor dat hy hierdie waarheid óók van toepassing maak op al die nie-stemgeregtigdes van voor 1994. Waarheid dwing egter ons respekvolle hantering daarvan af, en daarom moet dit konsekwent op ons almal van toepassing wees, selfs hulle wat die apartheidsbestel ingestel het, deur in die historiese verlede te gaan soek na die kompleksiteit van die "waaroms en hoekoms" daarvoor. Slegs deur op 'n eerlike, gebalanseerde en vreeslose wyse na historiese waarheid te soek, kan daar by Martin se "ná waaroms en hoekoms kom die daaroms", uitgekom word. Laat ons daarom almal hand in eie boesem steek.




Friday, 22 March 2013

Hospitaalbesoek help met prioritisering

Waarom geen Briewebladbydraes die afgelope tyd?, wil sommige by my weet. Gedurende dié tyd het ek die hospitaal   -   as besoeker en nie as pasiënt nie   -   besoek, eers tydens 'n diagnostiese vooroperasie, en daarna 'n opvolgoperasie, van my wederhelf. Ek het bewus geword van hoe die verpleegpersoneel, hulle wat so maklik deur ons gesondes tot die randgebied van ons alledaagse bestaan verplaas word, hul dag- én nagtaak met groot toewyding, liefde, deernis en professionaliteit verrig. Hier is werklik naaste- en gemeenskapsdiens waaraan SA in alle sektore so 'n dringende behoefte ervaar.

Gedagtig aan my eie vroeëre professie, die onderwys, en die mate waartoe dit in onlangse jare verval het, moet ek my kop in skaamte laat sak by die aanskoue van die diensleweringsgehalte van die verplegingsprofessie. Toegegee, daar sal sekerlik ook diegene wees wat dié professie tot oneer strek, sou ek nietemin graag wou sien dat die onderwysprofessie dié voorbeeld van professionaliteit en dienslewering, aan kind en gemeenskap, in alle opsigte sou navolg.

Dit was egter ook 'n veelbewoë tyd waartydens ek by die tragies onvoorsiene sterfbed van 'n jarelange vriendin gestaan het, en in haar man en kinders se droefheid kon deel. Ek neem my dus voor om, wanneer ek weer 'n hospitaal in sig sou kry, telkens 'n dankgebed vir die eie gesondheid en lewe na bo te rig. Ongelukkig is die duur van ons goeie voornemens en dankbaarheid dikwels ook maar kortstondig. Hospitaalbesoek, hetsy as pasiënt of slegs besoeker, help ons om weer ons prioriteite na te gaan en te hersien.




Saturday, 16 March 2013

Voldoen artikel aan SA Perskodewaardes?

Waardes is met gesag beklee, en as mense word ons juis deur die gesag van waardes aangespreek. 'n Verkeerslig ontleen sy gesag aan die onberekenbare waarde van menselewens. Waardesverval lei tot gesagsverval, en waardesbehoud 'n voorwaarde vir gesagsbehoud.

Teen hierdie agtergrond neem ek kennis van die Suid-Afrikaanse Perskode se waardes van waarheid, akkuraatheid, regverdigheid en gebalanseerdheid, en vra myself af in watter mate individuele joernaliste, asook koerante, wel die gesag van hierdie waardes konsekwent verreken in hul werk.

As voorbeeld aangaande dié vraag, lees ek Johann Maarman   -   senior assistent-redakteur van "Die Burger"   -   se artikel, "Die  'skop,skiet,bliksem' brigade" (DB,11.03.2013), en probeer die waardeskloutjie by die artikelinhoud bring.

Maarman se vergrootglas op die polisie maak dit moeilik om nié raak te lees dat dit ook 'n indirekte vergelykingsoefening tussen die vorige SAP en die huidige SAPD behels nie. Van die SAP skets hy 'n sodanige beeld van polisiewreedheid waarin hy dit nodig vind om nie minder nie as tien slagoffers se name te noem, waarvan sommige sterk emosies wek. Daarteenoor verwys hy slegs na die Marikana SAPD-slagoffers en na Mido Macia, 'n Mosambiekse burger. Ongetwyfeld sou Maarman die name van meer as tien SAPD-slagoffers kon vind, waaronder ook dié van Andries Tatane van Ficksburg. En wat van kommissaris Bheki Cele se "Shoot to kill"? Voldoen dit aan 'n waarheidsbalans?

Nog 'n voorbeeld van ongebalanseerde vergelyking is sy verwysing na die plakkaat: "The SAP killed Biko. The SAPS killed Macia". Let op die totale wanbalans in emosie-opwekkende potensiaal tussen Biko, leier van die swartbewussynsorganisasie en nasionale held, teenoor Macia, 'n buitelandse taxibestuurder. Voldoen dit aan gebalanseerdheid én regverdigheid, en volg dit die waardes-spelreëls van die joernalistieke spel?

Het ons hier te make met 'n getransformeerde waardesimplementering, en, indien wel, kan ons in die toekoms meer daarvan te wagte wees? Dit is bloot my indruk dat 'n afwatering van dié SA Perskodewaardes   -   veral ten koste van wit Afrikaners   -   'n wesenlike moontlikheid is. Lesers moet daarom voortdurend daarop bedag wees. Enigeen is welkom om hieromtrent van my te verskil.      (VB/ngn)







Tuesday, 12 March 2013

Maarman se vergelyking is wanbalansig

Met die lees van Johann Maarman se artikel, "Die 'skop, skiet, bliksem' brigade" (DB,11.03), word die leser getref deur sy gebruikmaking van die algemeen menslike geneigdheid tot vergelyking, 'n kenmerk wat hy dan ook subtiel benut. Maarman vergelyk die vorige SAP met die huidige SAPD waarin dit hom ontbreek aan billikheid en konsekwentheid. Van die ou SAP skets hy 'n sodanige beeld van polisiewreedheid waarin hy dit nodig vind om nie minder as tien slagoffers se name te noem nie, waarvan bekende name sterk emosies wek. Daarteenoor verwys hy slegs na die Marikana SAPD-slagoffers en na Mido Macia, 'n Mosambiekse burger, terwyl daar ongetwyfeld aansienlik meer as tien name van SAPD-slagoffers beskikbaar is wat hy wel sou kon noem, soos dié van Andries Tatane van Ficksburg. Die vraag is nou, waarom verswyg hy dié name, asook kommissaris Bheki Cele se "Shoot to kill", soos ondersteun deur polisie-minister Nathi Mthethwa?

Alhoewel Maarman tot die gevolgtrekking kom dat "dieselfde barbaarsheid in sekere polisielede maar net nie wyk nie", is my indruk egter dat, globaal gesien, die SAPD net in sagter eufemistiese kleed drapeer word as die ou SAP. 'n Voorbeeld hiervan vind ek in sy verwysing na die plakkaat, "The SAP killed Biko. The SAPS killed Macia". 'n Potensiële sein hiervan is: Die SAP het die leier van die swartbewussynsorganisasie, en nasionale held, vermoor. Die SAPD het maar net 'n onwelkome buitelandse vreemdeling gedood   -   'n geweldige verskil in emosionele reaksie by Suid-Afrikaners.

Maarman trek ook nie sy vergelyking deur na die groot verskille in kontekste waarbinne dié persone gesterf het nie. SAP-slagoffers wou, in 'n gedestabiliseerde en rewolusionêre klimaat, die staat omver werp. Dit geld geeneen van die SAPD-slagoffers nie. Sy vergelyking fokus ook nie op suksesvolle misdaadondersoeke en die omvang van interne korrupsie nie. Sy vergelykingsoefening ontbreek aan billikheid en balans.      (ngn)




Saturday, 9 March 2013

Vriendelike versoek gerig oor uitlatings

Prof. Jonathan Jansen se artikels   -   gereeld in 'n Oos-Kaapse Afrikaanse dagblad gepubliseer   -   bevat ongelukkige uitlatings oor Afrikaners, hul taal en godsdiens. Voorbeelde: Afrikaners wat buitelandse hulp soek om druk op die ANC te plaas om iets aan die skrikwekkende plaasmoorde te doen, noem hy "idiote" (DB,19.02). Na Ventersdorpers verwys hy as mense met " 'n lae IK en hoë testosteroon (wat) plofbare situasies skep" (DB,04.05.2010). Hy verwys na 'n "vreemde, etniese God...wat skynheiliges sal skep wat die Bybel vasklou", daarom: "Hou godsdiens uit die universiteit" (DB,04.09.2012). Van Afrikaans se oorlewingstryd sê hy: "Dit is grotendeels 'n volkseie gesprek" en dit is "Afrikaanse chauviniste (se) houding jeens Engels wat menseverhoudinge beduiwel" (DB,11.08.2009). Ruimte ontbreek vir verdere voorbeelde wat diep emosies by Christen-Afrikaners wek.

Die Oos-Kaapse Engelstalig gedomineerde tersiêre instellings dwing sommige Christen Afrikanerouers daartoe om ook ons noordelike universiteite vir hul kinders te oorweeg. Sulke uitsprake bemoeilik dié ouerkeuse.

As afgetrede dosent   -   vir etlike jare deel van 'n akademiese gemeenskap   -   begryp ek nie dié uitlatings gemaak teen 'n samelewingsegment waaruit 'n bepaalde groep studente kom nie. Indien dit deel vorm van die UV-transformasieproses, is die vraag hoe dit bydra tot die skep van 'n gesonde akademiese kampusomgewing, enersyds, en, andersyds, bydra tot nasionale versoening.

Indien toegelaat, doen ek 'n vriendelike beroep op prof. Jansen om ernstig te besin oor enige toekomstige uitlatings, rakende enige SA kultuurgemeenskap, en om deeglik rekening te hou met die implikasies daarvan. Ek wil vertrou dat dié soort uitlatings nog nie tot openbare norm aanvaar is nie, en dat my versoek aan hom daarom as legitiem beoordeel mag word.         (In VB geplaas)






Sunday, 3 March 2013

NG Kerk verswyg Belhar se "ander kant"

Chris van Wyk se brief (DB,02.03) verg kommentaar. Die Belharbelydenis (BB)   -   'n "belydenis" wat geensins voldoen aan die vereistes van 'n belydenisskrif nie   -   waaromtrent oningeligte lidmate eensydig ingelig word, het beslis ook 'n "ander kant" wat van hulle weerhou word. Ek verduidelik.

Ons selgroep is betrokke by kerklike gebeure. Einde Mei 2012 het   -   as selgroepinisiatief   -    'n bekeerde Moslemvrou haar getuienis in ons gemeente gelewer. As selgroep is ons bewus van lidmate se oningeligtheid oor die BB , en skakel daarom met ds. Theo Danzfuss, 'n BB-gesaghebbende, wat hom voorlopig beskikbaar stel om ons te besoek en BB-inligting eerstehands te deel. Toestemming vir sy besoek word summier geweier.

Op Sondag 23-09-2012 verskyn "Faan Gerber (Loerie-ouderling) se Damaskusreis met Belhar"   -   vanaf die Oos-Kaapse sinodale blad, "Grenspos", verkrygbaar   -   in ons weeklikse kerkblad. My antwoord daarop, met die versoek dat ook dit geplaas word, word geweier. Op 17-10-2012 rig ek 'n skrywe aan die kerkraad om groter duidelikheid oor dié plasing. Hul antwoord van 02-12-2012 beantwoord nie my vrae nie. Op 07-12-2012 rig ek 'n opvolgskrywe, dog verneem sedertdien niks. My skrywes bepleit 'n nie-propagandamakende, onpartydige en objektiewe hantering van die BB   -   'n hoogs emosionele aangeleentheid   -   en wys op die negatiewe uitwerking daarvan dusver op lidmate soos kerkverlating, gemeentelike verdeeldheid en weerhouding van bydraes.

Die sinodale Handelinge van 2011 beskryf die prosedure wat gevolg moet word, dog die kerkleiding   -    'n "mede-speler" in die "Belharspel"   -   bepaal sowel die grense van die "BB-speelveld" as die "spelreëls" daarvan met die lidmate as "toeskouers"; 'n potensieel manipuleerbare "spel". Kan Chris vir ons sê waarom die kerkleiding weier dat die volledige Belharverhaal   -   toegeligte standpunte vanoor die hele BB-spektrum    -   aan lidmate gekommunikeer word? Volgehoue weiering om lidmate ook aan die "ander kant" van die BB bekend te stel, is een van die duidelikste kenmerke wat die hele "Belharspel" ongeloofwaardig maak.                   (ngn)





Friday, 1 March 2013

Xingwana se karaktermoord op Afrikaners

Dit is met 'n mengsel van ongeloof en geregverdigde woede dat jy die berig, "Lulu is 'jammer' oor opmerkings oor Afrikaners" (DB,28.02), lees. Asof die talle fisiese moorde op wit Afrikaners nie reeds genoeg is nie, kom ook nog dié ministeriële karaktermoord-aanslag op hulle. Enige persoon, kultuurgemeenskap of volk met selfrespek het rede om beledig te voel deur Lulu Xingwana   -   minister van vroue, kinders en gestremdes   -   se onbesonne uitlating.

Xingwana het beweer dat "Afrikanermans...hul vroue en kinders as besittings beskou en...glo dat hulle die reg het om hulle dood te maak...(want) jong Afrikanermans word in die Calvinistiese geloof grootgemaak..." Sy het hierdie opmerking gemaak "met verwysing na die skietdood van Oscar Pistorius se vriendin, Reeva Steenkamp." Hiermee maak die minister minstens twee growwe en aanvegbare afleidings: 1. dat Pistorius   -   wie se huistaal Engels is en ook nie 'n lidmaat van die NG Kerk is nie   -   'n Calvinistiese Christen-Afrikaner is, en, 2. al sou hy ook een wees, maak sy Pistorius se optrede veralgemenend van toepassing op alle Afrikanermans.

Die NG Kerk-moderator vind haar uitlating 'n "kru veralgemening" en sê: "Dit wys nie net haar onkunde nie, maar is ook uiters beledigend teenoor 'n geloofsgroep." Die Menseregtekommissie het klagtes ontvang dat haar uitlating "rassisties en diskriminerend" is. Xingwana het dié gewraakte stelling tydens 'n onderhoud teenoor die Australian Broadcasting Corporation gemaak. Dié karakter-skadelike beriggewing het 'n internasionale trefwydte. Kan, en gaan, sy dit ook wêreldwyd probeer regstel? Indien haar bestuursvermoë van haar departement as maatstaf gebruik sou word, is die antwoord beslis 'n nee.               (ngn)