Met die lees van Johann Maarman se artikel, "Die 'skop, skiet, bliksem' brigade" (DB,11.03), word die leser getref deur sy gebruikmaking van die algemeen menslike geneigdheid tot vergelyking, 'n kenmerk wat hy dan ook subtiel benut. Maarman vergelyk die vorige SAP met die huidige SAPD waarin dit hom ontbreek aan billikheid en konsekwentheid. Van die ou SAP skets hy 'n sodanige beeld van polisiewreedheid waarin hy dit nodig vind om nie minder as tien slagoffers se name te noem nie, waarvan bekende name sterk emosies wek. Daarteenoor verwys hy slegs na die Marikana SAPD-slagoffers en na Mido Macia, 'n Mosambiekse burger, terwyl daar ongetwyfeld aansienlik meer as tien name van SAPD-slagoffers beskikbaar is wat hy wel sou kon noem, soos dié van Andries Tatane van Ficksburg. Die vraag is nou, waarom verswyg hy dié name, asook kommissaris Bheki Cele se "Shoot to kill", soos ondersteun deur polisie-minister Nathi Mthethwa?
Alhoewel Maarman tot die gevolgtrekking kom dat "dieselfde barbaarsheid in sekere polisielede maar net nie wyk nie", is my indruk egter dat, globaal gesien, die SAPD net in sagter eufemistiese kleed drapeer word as die ou SAP. 'n Voorbeeld hiervan vind ek in sy verwysing na die plakkaat, "The SAP killed Biko. The SAPS killed Macia". 'n Potensiële sein hiervan is: Die SAP het die leier van die swartbewussynsorganisasie, en nasionale held, vermoor. Die SAPD het maar net 'n onwelkome buitelandse vreemdeling gedood - 'n geweldige verskil in emosionele reaksie by Suid-Afrikaners.
Maarman trek ook nie sy vergelyking deur na die groot verskille in kontekste waarbinne dié persone gesterf het nie. SAP-slagoffers wou, in 'n gedestabiliseerde en rewolusionêre klimaat, die staat omver werp. Dit geld geeneen van die SAPD-slagoffers nie. Sy vergelyking fokus ook nie op suksesvolle misdaadondersoeke en die omvang van interne korrupsie nie. Sy vergelykingsoefening ontbreek aan billikheid en balans. (ngn)
No comments:
Post a Comment