Sunday 31 March 2013

SA minderheidsgroepe en ons Bricsvennote

Ons kan slegs spekuleer oor die indrukke wat SA se Bricsvennote van hom verkry het na sy militêre fiasko in die Sentraal Afrikaanse Republiek. Dieselfde geld na dese ook vir die lidlande van die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se dunk van SA se gewaande leierskapsrol binne dié streek. SA geniet beslis nié meer die interstaatlike en internasionale aansien van vroeër nie. Indien realisties beskou, is SA se huidige leierskapsrol verreweg 'n totaal oorskatte rol.

Vir die agteruitgang van SA se vroeëre beeld en vermoë as voorste en toonaangewende land in Suider Afrika, is slegs die ANC te blameer onder wie se bewind ons tans van die heel boonste plekke inneem betreffende korrupsie, stakings, arbeidsonrus, verkragtings en moord, asook van die heel onderste plekke inneem betreffende onderwysgehalte, dienslewering, werkverskaffing en armoedeverligting. Watter soort leierskap impliseer dit?

SA is duidelik nie in dieselfde liga as sy Bricsvennote nie. Hiervan is Brandan se raak spotprent van "Soek vir Zuma in China se bosak" (DB,28.03) tekenend van SA se posisie daarbinne. Die naïewe ANC-leierskap besef nie dat dit vir sy vennote daaroor gaan om déúr SA 'n toegangspoort tot die res van Suider Afrika te verkry vir die vestiging van 'n ekploiterend neo-koloniale bedeling waartydens die kommunistiese ideologie, asook die storting van oortollige produkte én mense   -   veral vanuit Rooi China   -   gevestig sal word.

Die onversadigbare kommunistiese wolf, eens hand en tand met goed en bloed beveg, word nou die skaapkraal binne genooi. Met hul bedenklike menseregte rekord sou lande soos Rusland en Rooi China daarom goedkeurend kon toesien indien die ANC-mags-  en geldbelustes minderheidsgroepe in die toekoms sou boelie. Kan Suid-Afrikaners belangeloos staan ook teenoor die potensieel negatiewe invloed van ons Bricsvennote op die toekoms van ons land en sy mense?






1 comment:

  1. Dis al 'n hele paar jaar wat China na Afrika in die algemeen en Suid-AFrika in die besonder vry. Hier op ons blog het 'n paar van ons dit bespreek: http://onsgeloofgesprek.blogspot.com/2011/05/goodbye-uncle-sam-hallo-my-tjaaina.html

    ReplyDelete