Wednesday 3 April 2013

Behou die kerk se ware karakter

Ek vind G.P.D.Terblanche se opmerking, "Kry jou ry dat ons kan aangaan met die Koninkrykswerk" (VB,02.04), vreemd vir 'n Christengelowige. Waarom? Omdat dit nie Christus se gesindheid weerspieël nie, Hy wat niemand verwerp nie, aanhou met pleit by ons, en selfs aan die kruis 'n verloregaande gered het. Ek kan my dus nie voorstel dat Hy ooit sou sê: "Kry jou ry..." nie, en Hy is immers ons model wat ons navolg.

Terblanche sê voorts die kerk "gaan van kardinale belang wees om beskawingstandaarde te handhaaf, menseregte te beskerm en die só kritiek belangrike versoening te laat slaag"   -   horisontale versoening tussen mense, of vertikale versoening met God? Is dit nie om verkeerde verwagtinge aan die kerk te stel nie? Is dit Jesus se doel met Sy kerk? Jesus is juis deur Sy eie mense gekruisig omdat Hy nie aan hulle mensgesentreerde verwagtinge voldoen het nie.

Terblanche verwys ook na lidmate wat "aanmekaar fout soek by die kerk", 'n kerk wat "instrumenteel moet wees om lig en hoop in ons land te bring". Die vraag herhaal homself; Is dit die primêre taak van die kerk, gedagtig aan die NGB se artikel 29 wat Protestantse gelowiges oproep om baie duidelik te onderskei tussen die ware en die valse kerk?

Ons mag nie uit die oog verloor dat ons onsself vandag in 'n nasionaalwye totaal getransformeerde omgewing bevind nie, 'n omgewing waarbinne ook die kerklike landskap transformasie ondergaan. Binne hierdie kerklike landskap-in-transformasie mag ons nie mense die kerk belet nie, veral nie hulle wat   -   soos 'n Martin Luther van weleer   -   stry om die behoud van die kerk se ware karakter in ooreenstemming met ons belydenisskrifte nie.







No comments:

Post a Comment