Die sakkende gordyn oor die lewe van barones Margaret Thatcher, die Britse Ystervrou, bied geleentheid vir die vlugtige wegskuif van die verledegordyn voor ons eie Afrikaner ystervroue van weleer. In sy boek, "Moeders van ons volk", beskryf A.P.van Rensburg die Afrikaner pioniersvroue, Voortrekkervroue en konsentrasiekampvroue op treffende wyse. Van die pioniersvroue sê die Duitse reisiger, Heinrich Lichtenstein: "Met 'n godsdienstig-sagsinnige voorkoms gaan daar 'n vasberadenheid en moedigheid gepaard wat 'n mens verbaas...wat die Afrikanervrou in staat stel om die wildernisse te oorwin." Haar kinders maak sy met 'n sterk vryheidsin, vaderlandsliefde en godsdienssin groot.
Die Groot Trek-heldinne word selde by name genoem, dog stilweg was húlle die verborge krag agter dié trekbeweging. Hulle het oor karige middele beskik, moes geriewe ontbeer, met gevaar saamgeleef en gewere help laai met selfgegote koeëls. As Christengelowiges was hulle kragtige beskawingsdraers van wie sterk besieling uitgegaan het.
Ten spyte van die bittere lyding en smart wat konsentrasiekampvroue moes deurmaak, word hulle gekenmerk deur dapperheid, moed, standvastigheid, geduld, en kalmte van gees - besielende bittereinders. Van hulle word gesê dat hulle die volksideale die suiwerste uitgeleef en selfs heldhaftiger was as die mans op kommando. Sommige, soos mans vermom, het op die slagveld gesterf vir volksvryheid. Hulle verdien ons eerbetoning.
Waarmee is die Afrikanermoeders van ons dag besig, hulle as voorwaarde vir die voortbestaan van ons volk? Hoeveel Afrikanervroue bevind hulle vandag in plakkerskampe? Hoeveel moeders word ingesuig in die "rat race" om bestaansoorlewing? En wat word van haar volkskinders? Sal die geskiedskrywers van die toekoms ook haar - soos die pioniers- , Voortrekker- en konsentrasiekampvroue - vir haar besielende invloed onthou?
No comments:
Post a Comment