Monday 15 April 2013

Aanvaar ons Gerberstelling kritiekloos?

Dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, se onlangse stelling dat dié kerk nie 'n volkskerk is nie, maar Jesus se kerk is (DB,05.04), verdien ons kritiese aandag. Indien Gerber, van wie ek hieromtrent verskil, sou sê dat die NG Kerk nie langer méér 'n volkskerk kan/wil wees nie, sou dit veel meer oortuigingskrag besit.

Van kerkweë mag die NG Kerk homself dalk nie "amptelik" en/of per definisie as 'n volkskerk beskou nie, maar sedert die volksplanting is daar, histories aanwysbaar, die allernouste   -   feitlik gelyktydige en parallelle   -   ontwikkeling tussen kerk, volk en staat wat die Afrikanervolk algaande laat verstaan het dat hy tot 'n volkskerk behoort.

Aan die beginjare van die volksplanting was die NG Kerk die staatskerk. Daar bestaan voldoende getuienis dat die volk en dié kerk mettertyd deur 'n besonder noue band gebind was, veral in die voormalige Boererepublieke. Dié kerk het die Afrikanervolk in veelbewoë tye van oorlog, en daaropvolgende volksherstel, bygestaan. My oupa het tydens die ABO as krygsgevange jong Vrystaatse burger die Diyatalawa Zondagsskool van dié kerk op Ceylon (vandag Sri Lanka) bygewoon. Hoeveel volkskongresse is nie gehou waarby die NG Kerk intens, in volksbelang, betrokke was nie, soos byvoorbeeld voorafgaande tot die stigting van die Reddingsdaadbond en Helpmekaarbeweging; so ook die meer onlangse Afrikaner Onderwyskongres gehou in Maart 1982 te Bloemfontein.  So kan voorbeelde van die vroeëre kerk-volkverbintenis vermenigvuldig word ook deur na dié kerk se deelnames aan volksfeeste   -   en kerkleiers en predikante se lidmaatskap van Afrikanerorganisasies soos die Afrikaner Broederbond, Rapportryers en FAK   -   te verwys.

Gerber se stelling dui baie duidelik op die ontkenning van die voorafgaande. Ontkenning blyk juis een van die NG Kerk   -   nou 'n "nasiekerk" en nie meer 'n volkskerk nie   -   se transformasie-meganismes te wees vir die doel van sy herposisionering binne die nuwe staatkundige bedeling. Hierdie herposisionering noodsaak dié Gerberstelling.

'n Verdere kenmerk van die Gerberstelling is die mate van geïmpliseerde arrogansie daarvan wanneer hy na die NG Kerk as "Jesus se kerk" verwys. Sê hy daarmee dat 'n volkskerk nié Jesus se kerk kan wees nie? Behoort Jesus nou meteens eksklusief nét aan die NG Kerk-in-transformasie? Dui dit nie op fariseïsme nie?

Slegs NG Kerklidmate wat totaal oningelig is omtrent die noue verbintenis van dié kerk en ons volksverlede, sal dié aanvegbare Gerberstelling kritiekloos aanvaar.





No comments:

Post a Comment