Waarom geen Briewebladbydraes die afgelope tyd?, wil sommige by my weet. Gedurende dié tyd het ek die hospitaal - as besoeker en nie as pasiënt nie - besoek, eers tydens 'n diagnostiese vooroperasie, en daarna 'n opvolgoperasie, van my wederhelf. Ek het bewus geword van hoe die verpleegpersoneel, hulle wat so maklik deur ons gesondes tot die randgebied van ons alledaagse bestaan verplaas word, hul dag- én nagtaak met groot toewyding, liefde, deernis en professionaliteit verrig. Hier is werklik naaste- en gemeenskapsdiens waaraan SA in alle sektore so 'n dringende behoefte ervaar.
Gedagtig aan my eie vroeëre professie, die onderwys, en die mate waartoe dit in onlangse jare verval het, moet ek my kop in skaamte laat sak by die aanskoue van die diensleweringsgehalte van die verplegingsprofessie. Toegegee, daar sal sekerlik ook diegene wees wat dié professie tot oneer strek, sou ek nietemin graag wou sien dat die onderwysprofessie dié voorbeeld van professionaliteit en dienslewering, aan kind en gemeenskap, in alle opsigte sou navolg.
Dit was egter ook 'n veelbewoë tyd waartydens ek by die tragies onvoorsiene sterfbed van 'n jarelange vriendin gestaan het, en in haar man en kinders se droefheid kon deel. Ek neem my dus voor om, wanneer ek weer 'n hospitaal in sig sou kry, telkens 'n dankgebed vir die eie gesondheid en lewe na bo te rig. Ongelukkig is die duur van ons goeie voornemens en dankbaarheid dikwels ook maar kortstondig. Hospitaalbesoek, hetsy as pasiënt of slegs besoeker, help ons om weer ons prioriteite na te gaan en te hersien.
No comments:
Post a Comment