Monday, 27 January 2014

Doen jou eie dinkwerk op jou taalvlakte

Ek verwys na Nato Zondagh se brief (DB,24.01) waarin hy, volgens hóm, reageer op my skrywe oor "taalaristokrate". Hy tas heeltemal mis, want my brief (DB,21.01) het gehandel oor Standaardafrikaans.

Vergelyk ek dié skrywe van my met 'n weegskaal, het ek voorspraak vir die behoud van Standaardafrikaans in die een weegbak, en die pleidooi vir die afwaartse aanpassing daarvan (DB,18.01) in die ander weegbak geplaas. Vergelyk ek Zondagh se kritiek op my skrywe óók met 'n weegskaal, posisioneer hy homself in die "positiewe", en vir my in die "negatiewe" weegbak. Hy wend geen poging aan om Standaardafrikaans beredeneerd te debatteer nie.

Hy sê van homself: "Ons wat op die taalvlaktes dink, dink varser, oorspronkliker en slimmer...ek...is heel gelukkig daar...(en) ons horison is allesbehalwe beperkend." Van my sê hy: "...ek wat volgens Breitenbach op die taalvlakte beweeg...vind dit steurend dat Breitenbach impliseer dat die vlaktebewoners...taalgebruikers van mindere intelligensie is...mense sal geaffronteer voel oor Breitenbach se neerbuigende houding..."

Watter klomp bog! Zondagh, ék het jou beslis nié op die taalvlakte geplaas nie. Jy doen dit jouself, en indien die skoen jou pas as sélfverklaarde "vlaktebewoner...van mindere intelligensie", trek dit gerus aan. Ek het wel verwys na 'n algemeen gestratifiseerde denk-, -taal en intellektuele gelaagdheid binne die Afrikaanse taallandskap. Weerlê gerus dié universele gelaagdheid wat binne enige taalgemeenskap voorkom.

Zondagh pas die strategie van inlegkunde toe waarvolgens hy geriefshalwe dinge "inlees" in wat ek nié gesê het nie. Hy praat van "steurend" en "geaffronteer" te wees deur my skrywe. Wat moet ek van syne sê, hy wat sê: "Standaardafrikaans het my volle ondersteuning", dog vir my vra om " 'n trefwoord te gee om cool mee te vervang"? Zondagh, doen dit self. Jy dink dan so "vars, oorspronklik en slim" op jou taalvlakte!




Wednesday, 22 January 2014

Minagting werk minagting in die hand

Agting vir die ander spruit uit selfagting. Dit geld ook ons agting vir die taleverskeidenheid. Respekteer ek my moedertaal, respekteer ek ook dié van ander. Die ANC-regime blyk nie oor genoegsame interne taalrespek te beskik nie; vandaar sy minagting vir Afrikaans as 'n grondwetlik erkende amptelike landstaal.

Waarom dié bewering? In 2010 het 'n ANC-minister 'n verklaring van voorneme om samewerking as lid van die Nederlandse Taalunie   -   'n verdragsorganisasie waarvan Nederland, Vlaandere en Suriname ook lede is   -   tydens die dertigjarige bestaansviering van dié Unie te Brussel onderteken.

Sedert 2010 is niks weer van S.A. (lees ANC) verneem nie. Géén reaksie is op skrywes van die Nederlandse Taalunie ontvang nie. S.A. het géén belangstelling in enige vorm van samewerking getoon nie. Nou, egter, het S.A. (ANC) sy spyt uitgespreek oor sy 2010-onderneming en het hy hom onttrek aan die Nederlandse Taalunie. 

Martin Bosma, 'n Nederlandse woordvoerder, sê hiervan: "De Zuid-Afrikaanse regering heeft geen enkele belangstelling voor het Afrikaans. Het regime staat met zijn rug naar deze taal, alle vrome praatjes over zijn liefde voor de elf officiële talen ten spijt. Het was veelzeggend dat de Zuid-Afrikaanse minister die in 2010 zijn handtekening kwam zetten geen enkel idee had wat hij kwam doen en totaal niet wist wat de Taalunie is."

Met sulke ANC-"konstitusioneel taalbeskermende vriende" het Afrikaans geen erger taalvyande nodig nie. Minagting werk minagting in die hand, geld hier.              (ngn)






Tuesday, 21 January 2014

Was dié opmerkings regtig nodig?

In die Oos-Kaapse "Die Burger" (20.01) word berig dat prof.Jonathan Jansen op Kovsies se 2014-openingseremonie vir eerstejaars gesê het: "As jy enige rassisme het, loop. As jy enigsins seksisties is, soek ek jou nie hier nie!" Kan ouers én onderwysers verkwalik word sou hulle dié opmerkings   -   gerig aan die "produkte" van hul jarelange huislike en skoolse opvoeding en onderwys   -   as beledigend beleef het? Waarom die sterk persoonlike "ek" (Jansen) soek jou nie hier nie, en nie eerder die UV en  -kampuslewe soek jou nie hier nie? Kan Jansen wel onderskeidend dink ten opsigte van homself en die UV-owerhede?

Dié berig meld nie óf Jansen dié dreigement-waarskuwing slegs in Afrikaans tot die studente gerig het, en óf hy dit ook in Engels en Afrika-tale herhaal het nie. Indien nie, is dit 'n duidelike insinuasie dat hy slegs wit Afrikaanse studente uitsonder as rassiste en seksiste, 'n blatante vorm van diskriminasie en menseregte-skending. Indien dit wel die geval sou wees, is Jansen 'n verskoning aan die Afrikaanstalige deel van die UV-studentegemeenskap verskuldig. En ook, weer net indien wel, regverdig dit nie 'n klaglegging by die menseregte-kommissie (MRK) nie? Indien sy opmerkings van 'n meertaligheidskarakter getuig, verval dié argument.

Veroordeel Jansen veral ouers, maar ook onderwysers, indirek veralgemenend wat aan kinders 'n rasbewuste,  -trotse en  -behoudende opvoeding gee? Belet die SA-grondwet op enige wyse sodanige opvoeding en onderwys waarvolgens elke kind se ras die nodige erkenning geniet? En het jongmense   -   na twaalf jaar van onderwys in 'n multikulturele skool-  en onderwysomgewing   -   dié kwetsende en vernederende verwelkoming van Jansen nodig? Dit pas beslis nie die aansien en status van rektorskap nie. Watter konstruktiewe bydrae is deur dié opmerkings gelewer? Was dit regtig nodig?

Monday, 20 January 2014

Is dít ons toekomsideaal vir Afrikaans?

Die artikel, "Afrikaans moet meer inklusief raak' (DB,18.01), het betrekking. Hierin word 'n pleidooi gelewer vir die afwaartse aanpassing van standaard-Afrikaans omdat "gestandaardiseerde Afrikaans verteenwoordig nie die hele Afrikaanse taalgemeenskap nie... moet meer inklusief...(en) so soepel moontlik gemaak word."

Die heersende tendens in S.A. is om standaarde afwaarts aan te pas en só die ideaal en strewe na uitnemendheid te vervang met middelmatigheid. Word Afrikaansgebruikers se taalvesel in -konteks gekenmerk deur 'n toenemende gebrek aan ambisie vir opheffende vooruitgang deur dié taal?

Daar bestaan 'n onbetwisbare verband tussen taal, denke en intellek. Ons giet ons denke in intellektuele taalvorm. Ons woordeskat bepaal nie net die horisonne van ons taallandskap nie, maar ook die berg-  en vlaktelandskappe daarvan. Binne die Afrikaanse taallandskap vind ons berg-  én vlaktebewoners. Binne dié landskap is daar onteenseglik verskillende denk-  en taalvlakke. Die hoëre vlakke dien as inspirasie vir die laere vlakke om daarheen uit te styg.

Is die bestaan van "Kaaps- of Griekwa-  of Overberg-Afrikaans" nie juis 'n duidelike aanduiding van hoedat die Afrikaanse taal binne dié taallandskap homself reeds,gedifferensieerd, "soepel" manifesteer al na gelang van die taalbehoeftes van -gebruikers wat hulself op verskillende vlakke binne dié landskap bevind nie? Wil die toonaangewende taalleiers nou van ons almal bewoners van die taalvlaktes maak? 'n Belangrike vraag is derhalwe óf ons berglandskap-bewonende taalaristokrate   -   soos filosowe, skrywers, digters, akademici en vertalers   -   hul moeitevol verworwe taalomgewings moet verlaat en verhuis na die beperkende horisonne van die taal-  en denkvlaktes?

Ontbreek die psigiese vitaliteit om deur opeenvolgende taalplato's na hoër  -hoogtes te reik omdat 'n vlaktetaallewe geïdealiseer word? Verlaging van standaard-Afrikaans sal die huidige algemene landswye standaardverlaging, groter taal-  en denkluiheid, en 'n donkerwordende taaltoekoms in die hand werk. Is dít ons toekomsideaal vir Afrikaans?






Monday, 13 January 2014

Waak in 2014 teen ANC-denkmanipulering

Hoe sien die, reeds grootliks, deur ANC-getransformeerde denke van ons burgery na twintig jaar daaruit? Dat daar gedurende die afgelope twee dekades 'n doelbewus beplande en strategiese denkverskuiwing   -   denkmanipulasie deur die aanwending van alle beskikbare middele én geleenthede tot nasionale denkindoktrinasie   -   van die bevolking plaasgevind het, is gewis. 'n Andersoortige SA-denkingesteldheid móét gevestig word.

Hierdie denkverandering is nié, soos sommige wil glo, enigsins denkvernuwend nie. Ruil ek my bestaande motor in vir 'n gebruikte motor, is laasgenoemde beslis geen nuwe motor nie. ANC-denke konvergeer in monopolistiese magsoorname, -sentralisasie en  -beheer. Hierdie denktipe, waarby die burgery móét aanpas, is uitgediende denke wat elders ter wêreld reeds misluk het soos wat die ANC se uitkomsgebaseerde onderwysdenke óók klaaglik misluk het.

Onlangse voorbeelde van die ANC se pogings tot denkmanipulasie van die SA-bevolking, met die oog op die komende verkiesing ter wille van magsbehoud, is: die Mandela-afsterwe en  -routydperk; hoogsverdagte matriekslaagsyfer; twyfelagtige padsterftesyfer; belofte van grondwetwysiging en stemkopery met beeste, alles om die ANC-denkbeeld te bou. Die nasionale denke word gemanipuleer om, verslawend,  soos die ANC te dink en te glo. Hoe stop ons dié ANC-(ver-)trapmeul of klim ons daarvan af? Beide lyk onwaarskynlik.

Hoe gaan Christengelowiges dié nasionaal ANC-denktransformasie en  -bombardement in 2014 tegemoet? Synde deel van ons ganse bestaan, herinner die Bybel ons aan dié toepaslike vraag: "Wat sal ons dan van hierdie dinge sê?" en voorsien ons ook van 'n antwoord: "As God vír ons is, wie kan teen ons wees?" (Rom.8:31). Laat Hy daarom ons denke in 2014 verlig en laat ons nie ons self leen tot ANC-denkmanipulering nie.