Henry Campher, duidelik ontnugterde ANC-ondersteuner, se brief: "Net die man in die maan glo hulle nog" (DB,19.01), lewer 'n insiggewende bydrae tot die voortgesette debat oor die mislukkende ANC. As opsigtelik selfstandige denker laat hy hom, met sy selfverworwe insigte, blykbaar nie verknegtend indoktrineer ter wille van bedrieglike ANC-beloftes en -voorverkiesingskospakkies nie.
Van ANC-Cosatuleiers, Marius Fransman en Tony Ehrenreich, sê hy krities onbeskroomd: "Gelukkig praat hulle nie namens almal in die ANC nie...met minagting van hulle op voetsoolvlak gepraat...Dis net deur sentiment dat baie van ons die ANC nog ondersteun." Hiermee spreek Campher 'n nugtere oordeel uit, want sentiment alleen is geen toekomswaarborg nie. Hy konfronteer homself met sy persoonlike verbintenis tot die ANC; met vrug navolgenswaardig ook deur ander.
Voorafgaande lei tot die besef dat ons soms brûe agter ons moet afbrand. Prof.D.F.M.Strauss, emiritus filosofie-professor van die UV, wys op drie fases van lidmaatskap van enige organisasie waartoe ons ook al mag behoort: 1. Die solidêre fase wanneer ons 'n saak onkrities met toe-oë ondersteun. 2. Wanneer daar barste en krake in ons vertrouensmuur op so 'n organisasie - om aanwysbare redes - verskyn, en ons afstand begin neem van ons blinde lojaliteit. 3. Uiteindelik word die kritiese oë-oopgaan-fase bereik en die organisasie slegs krities bejeën, ons geen positiewe bydrae meer daartoe te lewer het nie, en ons onsself daarvan distansieer.
Dui Campher se insigte in sowel sy eie posisie as dié van die magsmonopoliserende ANC-absolutistiese posisie dalk daarop dat hy fase 2 geleidelik binne beweeg? Is so 'n swaai deur ANC-ondersteuners na fase 2 en 3 - vir beter toekomsvooruitsigte - 'n realistiese moontlikheid?
No comments:
Post a Comment