Thursday 8 January 2015

Koos- , Steve-keuse 'n ideologiese keuse

Ek reageer op Koos Kombuis (KK) se "Halwe waarhede van 'n pampoenkenner" (DB, 07.01) waarin hy Steve Hofmeyr op onoortuigende wyse kritiseer. Wie is KK, en bevind hy homself enigsins op hoër morele grond as Hofmeyr? Albei bevind hulle in 'n musiek- en skrywersomgewing, beskik oor besondere talente, en beide word gekenmerk deur 'n relatiewe omstredenheid wat hul persoonlike en private lewe betref.

In die 1980's was KK 'n voorstander en ondersteuner van die Voëlvry anti-apartheidsbeweging. Van sy betrokkenheid daarby sê hy: "Ons het die idealistiese droom gehad om die Apartheid-regime met 'n paar liedjies vol woede, bravade en vloekwoorde omver te werp" (Koos Kombuis Biografie). Hy raak vervreemd van sy ouers, swerf rigtingloos rond, wend hom tot dwelmmiddels, en beland só in die Weskoppies psigiatriese inrigting en, soos Hofmeyr, verwek ook hy 'n liefdeskind.

Met oënskynlik soveel in gemeen, bots KK en Hofmeyr egter direk met mekaar oor Afrikaners en  -skap. Waar KK, soos ook geesgenootlikes soos Max du Preez, Anton van Niekerk en Piet Croucamp, geen goeie woord te sê het oor behoudende Afrikaners nie   -   en van laasgenoemde verwag om voortdurend onder die vlag van politieke korrektheid te vaar   -   beskik Hofmeyr egter oor die moed van sy oortuiging om sy lyf op die spel te plaas in Afrikanerbelang.

Gegewe die mate van ooreenkoms tussen KK en Hofmeyr se private en persoonlike lewe, uitgesluit die tipe musiek en skryfwerk wat elkeen voortbring, lê die werklike keuse tussen KK (anti-apartheidsondersteuner) en Hofmeyr (anti-politieskorrek en Afrikanerondersteuner) op 'n ideologiese vlak. Die ideologiese afstand tussen dié twee is groot. 'n Keuse tussen enigeen van dié twee, is 'n ideologiese keuse.





No comments:

Post a Comment