Tuesday 13 January 2015

Wysgeer Plato werp lig op ANC-duisternis

As hoedanig moet die volgende ANC-uitsprake, as voorbeelde van tipies selfbedriegende uitsprake, vertolk word? "Hy (Zuma) het ons verenig...Daar is nie onenigheid onder ons nie", het Ramaphosa gesê (DB,09.01). "Die mense hier (Wes-Kaap) is arm omdat hulle nie deur die ANC regeer word nie...Die mense wat hier regeer, weet nie wat hulle doen nie. Ons wil dinge regruk...", het Zuma gesê (DB,08.01). Vroeëre uitsprake soos: "Die ANC sal tot met die wederkoms regeer" ; "Swart mense is nie rassisties nie; wit mense wel", en: "Korrupsie is 'n westerse verskynsel; nie 'n Afrika-verskynsel nie", is reeds oorbekend.

Na my mening word hierdie, en soortgelyk openlik waarheidsteisterende ANC-uitsprake, gekenmerk deur gruwelike vervalsing van die waarheid, 'n totale gebrek aan realisme, asook 'n onvermoë tot nugtere en gebalanseerde selfkritiek. Vir dié siening sal ek waarskynlik as rassis gebrandmerk word, en tog is dit hierdie tipe uitsprake wat sy gebreinspoelde ondersteuners die ANC blindelings die duisternis in laat volg.

Dit herinner aan Plato se grotmite wat soos volg lui: Vir geruime tyd al sit 'n aantal gevangenes in 'n duisternisgehulde grot, vasgeketting met hul gesigte onbeweeglik na die rotswand gekeer. Agter dié gevangenes is 'n vuur wat maak dat skaduwees teen die grotmuur gewerp word telkens wanneer iets tussen die vuur en die gekettingdes beweeg. In plaas van die werklik lewensgetroue figure agter hulle, sien die sittendes slegs die skadubeelde daarvan teen die grotwand. Dié skadubeelde word vir die werklikheid (waarheid) aangesien waaraan selfs name toegeken word.

Alvorens die ANC en sy ondersteuners nie eers uit sy besettte grot van duisternis en bedrieglike skynwaarhede na die lig daarbuite beweeg nie, kan hy nie die ware werklikheid van die 21ste-eeuse SA-samelewing leer ken en daarvolgens regeer nie.



No comments:

Post a Comment