Wednesday 28 January 2015

Eskom simbool van uitsiglose SA-toekoms

Ons almal ervaar emosies op 'n vertikale glyskaal vanaf hoogs positief tot uiters negatief. Die emosionele toestand van die SA-burgery blyk baie onstabiel en onvoorspelbaar te wees. 'n Stiksinnig mislukkende ANC, in die nie-voldoening aan verwagtinge en behoeftes, mergel emosies tot vooswordens toe uit.

Die ploeterende ANC leef in 'n staat van ontkenning en vind sondebokke om vir sy mislukkings te blameer. Om sy ondersteuners misleidend te paai, blameer hy wittes en apartheid vir alle mislukkings. Weinig glo dit nog; die apartheidsverskoning se rakleeftyd het verval. Toenemende beskuldigings van rassisme en ook haatspraak   -  met Nommer Een fluks deelnemend   -   versluier nou die ware blaam.

En die geteikende slagoffers van hierdie apartheid-rassisme-haatspraak ANC-offensief, hoe reageer hulle daarop? Daar is sterk aanduidings van die geslaagde vestiging van skuldgevoelens by hulle met die oog op uiteindelike kapitulasie. Verder ook op 'n, vir my, verfoeilike wyse deur te swig voor ANC-bevoordelende eensydige politieke korrektheid as geveinsde reaksie op valse beskuldigings. 

Dit staan wittes vry om vir alles skuld te aanvaar, maar moenie ons almal verkleinerend en vernederend tot politieke korrektheid probeer regimenteer nie. Daar is wel nog hulle wat trots en daadkrag besit om hulself, hul selfrespek en hul mense te verdedig soos 'n Steve Hofmeyr, Sunette Bridges en Zelda le Grange. Dit is tragies dat diesulkes deur Afrikaner-vyandiggesindes   -   soos die Max du Preez's   -   geteister en verguis word. 

Steierende Eskom se dreigende algehele ineenstorting simboliseer die kruipende verval van die SA-psige en emosievlakke onderweg na die bodemlose Nommer Een-gat met sy uitsiglose SA-toekomsvisie.




No comments:

Post a Comment