Monday 2 February 2015

Twee-wêrelde saambestaan is problematies

Die talryke manifestasies van die legio simptome van die ANC-siektesindroom   -   toe te skryf aan die innerlike verrotheidstoestand van dié organisasie   -   is reeds herhaaldelik breedvoerig én oorvloedig in Praat Saam beskryf. Twee minderbesoekte kwessies is dié van:  1. hoe ontkom ons aan dié ANC-impasse, en 2. waarom, grondliggend, bevind ons onsself daarin? Ons grondwet beantwoord die eerste vraag: alleenlik by wyse van demokratiese verkiesings. Daar bestaan slegs die grondwetlike ontsnappingsroete wat kiesersopvoeding dringend noodsaaklik maak, dog die ANC sal sy stemvee daarvan weerhou.

Die waarom-vraag bied 'n veelheid en kompleksiteit van antwoorde Ek wys slegs op die één fundamentele faktor van 'n kunsmatige twee-wêrelde saambestaan   -   van eerste- en derdewêreld   -   in 'n kultureel ongedifferensieerde samelewing waarbinne die dominante kultuur die minderheidskulture oorheers. Hoewel reeds wêreldwyd erken dat multikulturalisme klaaglik misluk het, is dit wat ek hier uitwys, in  die SA-konteks, polities inkorrek vir identiteitsvernietigende eenwêreld propagandiste.

Komende uit 'n derdewêreld agtergrond met die eie spelreëls, speel ANC-leiers graag saam met die eerste wêreld volgens dié se spelreëls waarvoor hulle nog nie opgewasse is nie, soos onlangs weer by Davos. Vanweë veral snel tegnologies-wetenskaplike ontwikkeling en vooruitgang in die eerste wêreld, neem derdewêreld agterstande toe. Die duisende jaarlikse gelykmakende kersgeskenkglimlaggies van swart (en wit) kinders op TV weerspieël nie 364 dae van hongerly nie. 

Geeneen sal wil beweer dat ons SA-problematiek simplisties is nie. Probleme word uitdagings, en laasgenoemde soek na oplossings. Mag ek sonder bybedoeling vra: wie in ons kunsmatige twee-wêrelde saambestaan skep, tradisioneel, probleme om in oplossings? Die kultuurvesels van dié twee wêrelde verskil aansienlik. Waarom nie dit, en ook die beginsel van verskeidenheid-in-die-eenheid, erken en in nasionale belang toepas in plaas van 'n dormante stelsel wat eerstewêreld potensiaal onderploeg nie?






No comments:

Post a Comment