Friday 13 February 2015

Bedrieër Selebi vereer as ANC-rolmodel

In sy blinde, heldevererende en korrupsie-sanksionerende verdediging van "struggle comrade" Jackie Selebi, traak dit die ANC geen duit hóé SA se integriteitsbeeld   -   plaaslik, en veral internasionaal   -  verdagmakend geskaad word nie. Dit is die soveelste simptoom van die ANC se voortwoekerend verrottende verraad teen die SA-burgery. Ranjeni Munusamy wys in haar artikel (DB,07.02) op die volgende Selebi-karaktertrekke   -   prototipe van die ANC: "omstrede figuur...gekompromitteer deur (omkoop-)geld te aanvaar...; (tydens) sy lang, morsige verhoor...in totale ontkenning; weens sy skandes nie 'n staatsbegrafnis..."

In sy artikel: "Selebi betrayed our democracy. He doesn't deserve acclaim" (05.02), sê hoofrabbi Warren Goldstein die ANC se nadoodse eerbetoon aan Selebi is 'n "moral disgrace...(who) joined the criminals...and sentenced to jail...for taking bribes from organized crime..." Hierteenoor sê die ANC Selebi se nalatenskap "will inspire generations to come to serve this nation with loyalty and steadfastness." Lofprysing vir 'n korrupte ANC-rolmodel van 'n ewe korrupte ANC.

Dat ons kontemporêr moet toesien hoedat dit wat deur voorafgaande geslagte moeitevol opgebou is binne 'n enkele geslag verwoes word, moes die voor-1994 integrasiedrywers tog sekerlik kon voorsien het? Wat vandag gebeur, maak hulle as medepligtiges beslis nie minder aandadig aan verraad teenoor SA en sy inwoners as 'n Selebi en die ANC wat deur hulle steun aan bewind gekom het nie. Dit herinner aan N.P.van Wyk Louw se; "O wye en droewe land, alleen onder die groot suidersterre...dié wat om 'n ander diens soos knegte jou verlaat." Vandag pluk ons die vrot vrugte van dié tweeledige verraad teenoor SA.




No comments:

Post a Comment