Thursday, 20 December 2007

Prof. Swart sal gemis word

Prof. Marius Swart en sy vrou, Yvonne, se tragiese dood (DB,17.12.2007), is 'n gevoelige verlies vir die Afrikanervolkslewe in die algemeen en in kultuurkringe in die besonder. Hierdie tragedie konfronteer ons met die feit van ons eie sterflikheid. Wyle C.J.Langenhoven het gesê : Om dood te gaan, is nie 'n kuns nie. Die slegste van ons kry dit goed reg, maar om te lewe, is 'n kuns. Die beste van ons kry dit nie goed reg nie.

Dinge in die alledaagse leefwerklikheid manifesteer hulself in sowel 'n algemene as 'n besondere vorm. Ook die dood manifesteer hom op 'n algemene (universele) en besondere (partikuliere) wyse. Kennis en belewenis van die afsterwe van 'n vreemdeling behoort tot die algemene. Die dood van 'n familielid, vriend of goeie kennis word as besonders ervaar. So is dit ook gesteld met die afsterwe van prof. Swart en sy eggenote.

Sonder om my enigsins aan te matig as besondere vriend of kennis van hom, was daar tóg 'n onsigbare band wat ons gebind het aan 'n raamwerk van oortuigings en as medewerkers aan dieselfde saak. Desgelyks was hy gebind aan vele van sy kultuur-  en volksgenote, plaaslik sowel as landswyd. Saam het ons ons   -   tesame met ander geesgenootlike kollegas   -   tevergeefs beywer vir die behoud van die Afrikaanse taal aan die voormalige Universiteit van Port Elizabeth. Dié taal het egter verdwyn, maar nié ons geloof in die regverdigheid van die Afrikaanse taalsaak nie.

As my senior akademiese kollega was hy in vele opsigte altyd vir my iemand om na op te sien en 'n ware rolmodel. Betreklik onlangs nog het ek na 'n redevoering van hom kon luister   -   onwetend dat dit die laaste keer sou wees   -   by die geleentheid van die restourasie van die graf van 'n jong Republikeinse burger wat tydens die Anglo-Boere-oorlog in hierdie omgewing gesneuwel het. Hy sal beslis gemis word. Ons eer sy nagedagtenis en is dankbaar vir sy bydrae en 'n lewe gekenmerk deur opoffering aan dit waaraan hy passievol geglo het.

Friday, 14 December 2007

Hoeveel bly oor van gelofte?

Ses dae lank het hulle een maal per dag om die stad getrek. Op die sewende dag vermag hulle die bomenslike en trek sewe maal om die stad. Toe het die stadsmuur ineengestort. Die stad is ingeneem en die vyand uitgewis. Die Ark van die Verbond, priesters en ramshorings was alles deel van dié gebeure.

Kenmerkend hiervan was : Daar was sterk leiers, 'n vaste geloof in God op pad na 'n beloofde land, 'n verbondsverhouding met die Almagtige God, uitvoering van 'n Goddelike opdrag en 'n wonderwerk wat plaasvind.

In sy wordingsjare het die Afrikanervolk besonder sterk met oud-Israel geïdentifiseer. In die dertigerjare van die negentiende eeu was ook die Voortrekkers onderweg na 'n  "beloofde land"  met Bybel, psalm-  en gesangeboek voor in die wakis, 'n vaste geloof in die God van hul voorvaders en die aflegging van 'n gelofte te Wasbank onder die leiding van Sarel Cilliers. By sewe geleenthede was daar 'n herhaling van dié gelofte en toe, op 16 Desember 1838, gebeur 'n wonderwerkende ingryping van Bo tydens die Slag van Bloedrivier.

P.J.Schoeman vertel van 'n onderhoud met 'n agterkleinkind van 'n Zoeloe-kryger wat aan dié slag deelgeneem het. Sy oupagrootjie het vertel van die  "lang manne in wit klere"  wat rondom die laer gestaan en die spiese afgekeer het. Daar was ook  "witgeklede manne te perd"  wat verhoed het dat die Zoeloes naby die wa-laer kon kom. Wié was dié manne?

Die nag van 15 Desember 1838 het 15 000 Zoeloe-krygers saamgetrek teen  464  manne in die laer. Lanterns aan sweepstokke het dié nag in digte mis 'n spookagtige voorkoms aan die laer gegee. Dié dag is later eers as Dingaansdag herdenk, toe as Geloftedag en nou as Versoeningsdag. Laasgenoemde wil die nuwe geslag bring tot humanistiese versoening met alle inwoners van die land. Die wáre betekenis is egter 'n versoening met die Allerhoogste.

Vir so lank as wat oud-Israel die Verbondsark (God se teenwoordigheid) in hul midde gedra het, vir so lank is hulle as verbondsvolk deur die Verbondsgod gedra. Hoeveel hiervan het oorgebly in ons Afrikanervolkslewe?


Tuesday, 27 November 2007

Aanvaar belydenis of...

Vir heelparty NG Kerk-lidmate is die naam van dr. Allan Boesak soos 'n rooi doek vir 'n bul. Vir diesulkes word hy geassosieer met politieke aktivisme en ANC-lakeiskap. Desondanks dra hy steeds 'n geestelike mantel en geniet hy toenemende aansien in kerklike kringe.

Daar is NG Kerk-lidmate wat hom nié vertrou nie. Vir NG Kerk-leiers wat in Boesak 'n geesgenoot vind, is diesulkes se posisie gevolglik een van  "wys my wie jou vriende is, en ek sal jou sê wie jy is."  Sodoende werk sulke NG Kerk-leiers en  -predikante self mee tot vervreemding van dié lidmate.

In aansluiting hierby deel selfs prof. Richard van der Ross, as lidmaat van die VGK (die sentrale dryfveer agter die Belhar-belydenis), by implikasie in hierdie anti-Boesak sentiment wanneer hy sê dat hy 'n arrogansie by sommige van die VGK-leiers bemerk en  "dat die standpunt van die VGK alles behalwe versoenend is"  (Rapport,11.11.2007). Die Belhar-belydenis het 'n spanningskeppende en verdelende faktor onder NG Kerk-lidmate geword. 

Ter illustrasie van die voorgemelde slaan dr. Boesak in Godsdiensperspektief (DB,21.11.2007) die armoede-kitaar. Dis egter onvolledig en baie eensydig geselekteer vir die doel van sy eie standpunt en wat hy daarmee ten doel het.

Indien ons deur middel van sillogistiese afleiding vanaf twee basiese stellings,  "'n mens is sterflik"  en  "Piet is 'n mens",  tot die gevolgtrekking kan kom  "Piet is sterflik",  kan 'n mens seker ook van die stellings,  "die armes is Christus-begunstigdes"  en  "die Balhar-belydenis is pro-armes",  tot die volgende gevolgtrekking kom :  "die Belhar-belydenis is Christus-begunstig".

Die kritiese vraag is egter : Berus laasgenoemde afleiding se basiese stellings op die waarheid, want indien nie, is dit 'n onwaar afgeleide gevolgtrekking. Die armoede-kitaar blyk manipulerend geslaan te word teen diegene wat nié die Belhar-belydenis wil onderskryf nie. Deur nié dié belydenis te ondersteun nie, is jy derhalwe anti-die-armes (en by implikasie ook anti-Christelik).

Aanvullend hiertoe word die armes en armoede ook subtiel-strategies en tydig-waarskuwend ingespan vir die doel om skuldgevoelens by wit NG Kerk-lidmate te wek. Laasgenoemde waarskuwing moet vergesel word van die deeglike besef van die revolusionêre plofkrag waaroor armoede inherent beskik.

Uiteindelike kerklike kapitulasie moet hierdeur vergemaklik én bespoedig word, dus : "Aanvaar die Belhar-belydenis of..."

Wednesday, 21 November 2007

Besin só oor toekoms

Vir ernstige besinners oor die toekoms van ons kerk is dit goed om te verneem van enkele van prof. S.A.Strauss se teologiese standpunte en die betekenis daarvan vir die huidige kerkdebat.

Eerstens is dit van wesensbelang dat die kerk  "nie sy koers deur die wil van mense nie, maar deur die openbaring van God sal laat bepaal."  Die evangelie  "is nie deur mense ontwerp om mense se behoeftes te bevredig nie."

Strauss sê : "By al die wisselende omstandighede en die invloed van nuwe denkrigtings wat (periodiek) die tydsgees gekleur het, was dit die een konstante motief : die mens, die mens, die mens".

Tweedens moet elke  "nuwe wind van lering aan die Woord van God"  getoets word. Hierdie Woord is  "betroubaar en gesaghebbend in die Drie Formuliere van Eenheid saamgevat."  Strauss verwys na laasgenoemde as die  " naelstring wat ons met die Reformasie verbind", en word dit deurgeknip of negeer, word die kerk  "geaborteer".

Derdens is dit juis 'n  noukeurige bestudering van voormelde belydenisskrifte wat ons help om te onderskei tussen die ware en die valse kerk. Strauss wys op sommige kenmerke van die valse kerk. Dit eien homself en sy besluite méér mag en gesag toe as aan die Bybel ; dit onderwerp sigself nie aan die juk van Christus nie ; dit bedien die sakramente nie Woordgetrou nie ; dit is mensgesentreerd en nié Christussentries nie, en vervolg diegene wat die valse kerk bestraf.

Vierdens is daar begrip daarvoor  "dat die kerk in elke tydvak gekontekstualiseer moet word"  sodat  "die evangelie van Christus in die eietydse idioom tuis kan kom."  Dit mag egter nooit lei tot wêreldgelykvormigheid  nie. Strauss erken dat  "die grens tussen (kerklike) lewensvreemdheid en wêreldgelykvormigheid nie altyd duidelik (is) nie."

Die voorafgaande is relevant vir die kerkdebat, veral wanneer die VGK se sterk aandrang om kerkeenheid   -   met die uiteindelike aanvaarding van die Belhar-belydenis as voorwaarde daarvoor   -   ter sprake kom.

Tuesday, 20 November 2007

Verbied alles op Sondae

Volgens dr. P.W.Liebenberg, medewerker aan die publikasie,  Reformerend Die Millenium In (uitgegee deur die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys), maak die grondwet voorsiening vir godsdiensvryheid. Dit verklaar Suid-Afrika tot 'n godsdienstig neutrale staat. Artikel 1 (c) van dié wet stel die  "oppergesag van die Grondwet en die heerskappy van die reg"  in die plek van die oppergesag van God Drieënig en die heerskappy van Sy Woord.  Artikel 2 van die grondwet beklemtoon hierdie grondwetlike oppergesag.

Die Handves van Regte handel spesifiek oor die kwessie van geloofsvryheid, wat beteken dat elke individu  "die reg het op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening". Teoreties het géén godsdiens, denkrigting, oortuiging of mening dus voorrang bo 'n ander nie.

Ondersteuners van voorgenoemde is derhalwe vry om hul oortuigings ongehinderd te kan bevorder. Volgens Liebenberg sluit dit  "uiteraard on-christelike en anti-christelike bewegings soos satanisme in". Tereg vra hy dan ook  "of die staat se religieuse neutraliteit nie maar 'n rookskerm is vir die implementering van 'n sekulêre staatsideologie nie"?

Dit is onder meer teen hierdie agtergrond dat die berig,  "Vlymtong Maas 'weens heksejag' in pad gesteek" (DB,16.11.2007), gelees en Maas en Rapport onder die soeklig geplaas kan word. Dis egter belangriker en meer relevant om te let op die reaksie van Rapport-lesers, naamlik die gemobiliseerde en verskuilde oortuigingskrag in die Christelike gedeelte van ons samelewing wat daartoe gelei het dat Deon Maas deur Rapport die trekpas gegee is. Wat egter teleurstellend is, is dat Rapport dié stap op grond van finansiële oorwegings gedoen het en nié primêr op grond van die eerbiediging van sy lesers se geloofsoortuigings nie. Dit is dus 'n wesenlike vraag of Rapport Maas sou ontslaan het indien sy lesers nié met 'n boikot-aksie gedreig het nie.

Hierdie boikot-aksie is 'n bemoedigende teken van sterk standpunt téén die Christelik-onaanvaarbare in ons samelewing ; 'n pragtige voorbeeld van die effektiewe uitwerking van geloofsolidariteit. Met hierdie manifestasie van waartoe die gesamentlike, verskuilde oortuigingskrag van Christengelowiges in die Suid-Afrikaanse samelewing in staat is, waarom dan nie ook ánder God-onterende praktyke soos Sondagkoerante, winkels en drankwinkels wat op Sondae oop is, Sondagsport en Sondagvermaak, boikot nie? En wat van ons huise en skole wat hul Chistelike karakter aan't verloor is?

'n Mens kan net hoop dat hierdie boikot-inisiatief van geregverdigde geloofsverset van Christengelowiges in omvang en momentum sal toeneem in ons land.

Tuesday, 13 November 2007

Eenheid nie sonder risiko

In 'n vroeëre brief (DB,15.09.2007) is daar gewys op die ooreenkomste wat die kerkherenigingstappe toon met die polities-staatkundige aanloop tot die nuwe Suid-Afrika.

Ten spyte van die NP-leiers se mooiklinkende versekeringe aan hul kiesers van  "ingeboude wigte en teenwigte" , het die proses onstuitbaar en onomkeerbaar voortgerol, tot dié mate dat die NP self vernietig is, van sy leiers tans saamleef met die swaard van vervolging bo hul hoofde, terwyl nog ander oorgeloop het na die ANC-kamp.

Kom ons gaan uit van die veronderstelling dat kerkhereniging wél plaasvind. Die vraag is dan : Wat gebeur daarna? Oor een saak is daar egter min twyfel, en dit is dat die NG Kerk se leiers géén waarborg kan gee dat die meerderheid van 'n bepaalde gemeente, en selfs nie die kerk as geheel nie,  op die lange duur uit oorwegend Westers-georiënteerde, wit Christene sal bestaan nie.

Die moontlikheid bestaan dus dat wit Christene uiteindelik oorspoel kan word en daarmee saam 'n proses van kerklike verafrikanisering aan die gang kan kom. Met afrikanisering moet afskeid geneem word van 'n eeue-oue Westerse kerklike tradisie en identiteit. En verder : Met die kerklike deur eers oopgemaak vir die Belhar-belydenis, hoe gaan die kerk 'n volgende belydenisskrif, komende vanuit die swart dogterskerk, kan wegwys?

Laat ons by wyse van enkele voorbeelde aan die hand van dr. Wiets Beukes, gewese dosent in Volkekunde aan die UP, kennis neem hoe 'n kerklike bedeling daar uitsien waar verafrikanisering plaasgevind het.

 Vanweë die belangrikheid van die verwantskapstelsel vir en groepsolidariteit onder swartes, is almal verwant aan mekaar. So kon Ignatius Lekganyane, hoof van die ZCC-kerk (afgestig van die AGS van Suid-Afrika), in Moria aanspraak maak op huweliksreg met vroue wat hom met die oog op genesing besoek   -   omdat hulle as vroue of susters gesien word. Lekganyane integreer ook 'n Nuwe Testamentiese boodskap met eeue-oue swart geloof waarvolgens lewendes boodskappe uit die doderyk kan ontvang.

Beukes beweer dat, vir swart mense, godsdiens en politiek mekaar aanvul. Afwykende vertolkings van sekere Bybeltekste kom voor ; daar is 'n aandrang dat die Westerse kerkliturgie by swart behoeftes moet aanpas, asook 'n onvermoë / onwilligheid om Christelike waardes te verwerk / aanvaar. Uiteindelik lei dit alles tot 'n swart teologie.

Kerkhereniging blyk nie sonder risiko te wees nie. Is dié risiko nie té groot vir die voortbestaan van die kerk in ons land nie?

Monday, 29 October 2007

Wil Afrikaner finaal ontmagtig

In Godsdiensperspektief (DB,24.10.2007) voeg dr. Allan Boesak 'n nuwe dimensie toe tot die kerkherenigingsdebat en betrek die begrip  "volk"  daarby. Hy sê in die kerkgeskiedenis was daar  "mense wat die dwaalweg van die kerk gesien het:"  en  "wat hul getrouheid nie gemeet het aan die skouerklop van die volk nie"   -   'n duidelike verwysing na die Afrikanervolk.

Die begrip  "volk"  is Bybels, nee, Goddelik, maar is vandag tot skeldwoord gemaak, 'n begrip waarvan kerkleiers hulself vandag ooglopend distansieer. Die Skrif sê vir ons dat God 'n God van orde is. Getrou aan Sy karakter het Hy die mensheid georden in 'n volkere-verskeidenheid. Daaruit sonder Hy vir Israel af tot Ou Testamentiese verbondsvolk vir Hom.

In die Nuwe Testamentiese bedeling bly Israel steeds Sy verbondsvolk, dog die nuwe verbond   -   met Jesus as Middelaar daarvan   -   word uitgebrei om ook gelowiges uit ander volke in te sluit. Hiermee neem Sy uitverkore volk   -   'n geestelike entiteit   -   toe in omvang om méér as net Israel in te sluit.

Met hierdie uitbreiding van God se uitverkore volk, is die Goddelike ordening van mense in 'n volkere-verskeidenheid beslis nié opgehef nie. Afsonderlike volke gaan steeds voort as skeppingsentiteite om God in hul onderskeibare volksverbande hier op aarde te dien. In Openbaring 7:9 het Johannes 'n groot menigte uit elke nasie, stam, volk en taal voor die troon van die Lam sien staan. Die onveranderlike God bly getrou aan Sy skeppingshandewerk, selfs tot in die eindtyd.

Dit was nog nooit my indruk dat bruin mense tot 'n volk verenig is of wil verenig nie. 'n Unieke verstaan van volkwees, kerkvolk en volkskerk, ontbreek. Op grond van watter gesag kan Boesak dus praat van  "die dwaalweg van die kerk"?

Die Afrikanervolk het, onder meer, in 'n innige verweefdheid tussen kerkvolk en volkskerk ontstaan. Soos wat Simson, as Rigter, finaal ontmagtig is met die afsny van sy haarlokke, so moet die Afrikanervolk ook finaal ontmagtig word deur die oorname en vernietiging van sy kerk.

In sy brief,  "Hereniging gaan oor politiek" (DB,18.09.2007), haal dr. Mauritz Vorster vir professor Piet Naude soos volg aan :  "Die laaste bastion van wit Afrikaneroorheersing kan val   -  dit sal uiteindelik die einde van apartheid wees." 

Kerkleiers moet, Bybelgefundeerd, sê of volkwees, en volke se godsdiensbeoefening, sonde is.

Thursday, 18 October 2007

'n Teologiese revolusie

Dit lyk asof die tradisionele teologie só sterk geassosieer word met die apartheidsbedeling, dat dit uitgedien is en plek móét maak vir 'n plaasvervangende teologiese paradigma en paradigmatiese gemeenskap van teoloë. Die onderliggende aanname sou wees dat die tradisionele teologiese paradigma nié in staat is om die post-apartheid samelewingskrisis, waarin ons ons bevind   -   wat versoening, geregtigheid en kulturele grensuitwissing vereis   -   op te los nie.

Thomas Kuhn, 'n wetenskapsfilosoof, verwys na die vervanging van een paradigma met 'n ander paradigma, as revolusionêre wetenskap. Aanvanklik word 'n paradigmatiese krisis met ad hoc-maatreëls beheer. Uiteindelik word die bestaande, dog ontoereikende, paradigma, omver gewerp. Hy beskryf 'n wetenskaplike revolusie as 'n  revolusionêre breuk  met die verlede en verwys daarna as vergelykbaar met 'n  bekeringservaring. Hy wys ook op metaforiese ooreenkomste wat wetenskaplike revolusies met politieke revolusies toon. In laasgenoemde word die uitgediende vervang met die nuwe. Bestaande instellings word ingrypend verander en die oue en die nuwe is onversoenbaar met mekaar. Vanweë 'n konseptuele transformasie is weinig, indien enige, kommunikasie met mekaar moontlik.

'n Wetenskaplike revolusie kan net plaasvind indien daar 'n aanvaarbare alternatiewe paradigma beskikbaar is. Dit wil voorkom asof dr. Allan Boesak en sy gees-  en denkgenote, almal diep gewortel in die Bevrydingsteologie, baie hard werk aan só 'n alternatiewe teologiese paradigma en om dit  "bekeringswaardig" te maak vir die meerderheid van ons kerkleiers en teoloë. Hierin speel kerkhereniging geen geringe instrumentele rol nie.

Benewens vorige blyke van sy verbintenis tot Bevrydingsteologiese denke, verwys Boesak in  "Die prys is hoog, maar die einde is naby" (By tot DB,06.10.2007), na die  "revolusionêre Jesus" ,  en dat hy, Boesak, 'n  "erfgenaam van Gandhi"  is. Hy skryf ook dat hy die  "vermoë om lyding te verduur"  van Martin Luther King geleer het (en nié van Jesus Christus nie), en hy wys ook op  "die verbintenis tussen geloof en politieke verantwoordelikheid".

Dié duidelik-nuwe paradigma kan voorlopig die  "teologies-revolusionêre" paradigma genoem word. Met die potensiële aanvaarding van die Belhar-belydenis sal dit neerkom op die sanksionering van hierdie nuwe paradigma.

Met Boesak se aanstelling as 'n professor aan die Universiteit van Stellenbosch se kweekskool, kan daar gevra word of dié paradigma nie reeds die lesinglokale hier binnegedra word nie, tot watter mate en met watter gevolge?


Friday, 12 October 2007

'n Geestelike eenheid

Paulus en Barnabas het só skerp van mekaar verskil dat hulle van mekaar geskei het oor Johannes (Markus) se saamgaan op hul beplande reis (Handelinge 15:39). Só verskil ook ek van die kerkleiding se interpretasie van Skriftekste ter motivering van hul voorgenome reis na kerkhereniging.

In dié verband verwys die NG Kerk-dokument,  Konsultasie oor Kerkhereniging , na besluite van die algemene sinodes van  2004  en  2007  wat op sulke Skrifgedeeltes en Bybeltekste gebaseer word. Die  2007-besluit verwys na Johannes 17 en Handelinge 6 en 15. Die sinode van  2004  se besluit berus op Johannes 17:23 en Efesiërs 4:4. Hoewel geen Skrifgeleerde (teoloog) nie, vertolk ek hierdie tekste op 'n heel ander wyse. Toegegee, elkeen kyk deur 'n bepaalde geestesbril na die Skrifwerklikheid.

Ek onderskei vier verbandhoudende  "onderdele"  in Johannes 17:23 en ek haal slegs die eerste twee aan : (1) "Ek in hulle en U in My,  (2) sodat hulle volkome een kan wees..."  "Sodat"  impliseer dat punt 1 'n voorwaarde vir punt 2 is. Volgens my mening word oorweldigende klem op punt 2 geplaas met 'n geïsoleerde vertolking wat nié punt 1 as vertrekpunt neem nie. Punt 1 dui vir my op 'n drieledige verhouding : God die Vader, in Jesus Sy Seun, in Sy volgelinge.

As die inisieerder van dié verhoudinge is die Vader allesbepalend. So, wie is die Vader dan, want, soos die Vader is, só is die Seun, en is die volgelinge óók soos die Seun (en derhalwe ook soos die Vader). Johannes 4:24 sê baie duidelik vir my  "God is Gees". God se Gees is dus in Sy Seun en derhalwe ook dieselfde Gees in Sy volgelinge, as eerste gawe van God ontvang (Romeine 8:23).

As Geesvervuldes is ons dus die Liggaam van Christus (die kerk) met Jesus as die Hoof. Saam met alle Christengelowiges oor die hele wêreld   -   van watter denominasie ook al   -   is ons deel van dié Liggaam as 'n Geestelike Liggaam.

Romeine 12:4,5  en 1 Korintiërs 12:12-31 help my om beter te begryp dat dit in die kerk nié net om die eenheid gaan nie, maar beslis ook om die verskeidenheid midde-in die eenheid. By my is daar dus nie die minste twyfel dat kerkeenheid in wese 'n Geestelike eenheid beteken waarbinne God   -   as unieke Skepper   -   ook verskeidenheid gewil het nie.

Tereg kan daar dus gevra word of die huidige Skrifgeleerde kerkherenigers besig is met uitlegkunde, óf eerder met  "inlegkunde".

Saturday, 15 September 2007

NG Kerk volg politieke model

Die plaaslike ringsitting is verby, die verslag is opgestel en kanselruiling vind plaas om die inhoud daarvan aan lidmate bekend te maak. In sy slotgebed vra die besoekende leraar (naas die genade van Jesus en die liefde van God) om die  "transformerende begeleiding"  van die Heilige Gees vir die gemeentelede. Het ek reg gehoor? Inderdaad ; ander gemeentelede bevestig dit.

Vanwaar, Gehasi, met dié ongewone  "transformasie"-versoek? Was dit deel van sy sending, of het hy dié geleentheid subtiel benut om steun te werf vir sy persoonlike standpunt aangaande die heersende debat in die kerk, te wete kerkhereniging?

Op my lessenaar lê die NG Kerk-dokument , Konsultasie oor Kerkhereniging,  waarop NG-lidmate kommentaar moet lewer. In hierdie dokument is daar aangeleenthede wat groot kommer en verontrusting wek. Een van hierdie rooi flikkerligte is die merkbare ooreenkoms tussen dié herenigingsproses en die afgelope polities-staatkundige proses wat ons land in 1994 in die hande van die ANC geplaas het.

Eerstens is dié dokument deurspek met polities-sinonieme begrippe soos onderhandeling, konsensus en (geïmpliseerde) kompromie. Is hierdie instrumenteel van die Goddelike werkwyse?

Tweedens het die De Klerk-regering vooraf 'n meningspeilingsreferendum gehou. Dit is wat tans in die NG Kerk met hierdie konsultasieproses aan't gebeur is.

Derdens is die Kodesa-onderhandelinge met sy taakspanne vergelykbaar met die Achterberg-vergaderings en sy taakspanne.

Vierdens is op 27 April 1994 'n verkiesing gehou. Soortgelyk word 'n stemming ook in dié kerk voorsien. Op gemelde datum neem die meerderheid die regering oor.

Wie neem die kerklike regering en leierskap oor ná stemming in kerkgeledere met die verkryging van 'n tweederde-meerderheid?

Vyfdens : Ná April 1994 is 'n Waarheids-  en Versoeningskommissie ingestel. Kerkhereniging sal ook 'n versoeningskommissie hê om, onder meer,  "magstryde te ontlont"  en  "spanningsopbou te voorkom".

Sesdens : Kort op die hakke van die nuwe Suid-Afrika het die VGK (Verenigende Gereformeerde Kerk) in 1994 tot stand gekom. Is daar enige verband? En is voorgemelde alles niksseggend?

Die konsultasiedokument oortuig nie wat betref die sentrale posisie van die transendentale dimensie wat kerkhereniging behóórt te kenmerk nie. Hierdie eenheidstrewe blyk veel eerder op die mens, en 'n versoening tussen mense, gerig te wees, synde kenmerkend van die horisontale wêreldgees van ons tyd. Die ware kerk staan primêr in diens van sy Hoof, Jesus Christus.

Tuesday, 11 September 2007

Nie-rassigheid 'n droom

Jan-Jan Joubert se artikel,  "Nie-rassigheid is die beste vir Afrikaners" (DB,05.09.2007), verwys. Hy betreur die feit dat soveel  "mense steeds weier om nie-rassig te dink". En, sê hy,  "om met wit mense te deel, maar nie met swart mense nie, of omgekeerd, is rassisties".

Dis 'n oorvereenvoudigde beskuldiging en onbewese stelling, naamlik wit mense (veral) is rassiste. Wát is Joubert se definisie van rassisme, en wát is sy kriteria waarvolgens hy rassisme beoordeel?

Ek vluglees uit  Races of Africa  van professor Seligman, voorgeskryf deur my destydse volkekunde-dosent, dr. Schiller, aan die US van 45 jaar gelede   -   wetende dat navorsing in 45 jaar nie agterweë gebly het nie   -   om tot die gevolgtrekking te kom dat die begrip  "ras"  'n komplekse en saamgestelde begrip is. Seligman beweer  "questions of race should first and last be determined by the study of physical characters."  Vir hom is  "the chief criteria of race...skin colour, hair form, stature, head shape, and certain characters of the face."  Ek wil glo dat hierdie kriteria vandag as rassisties afgemaak sal word, dog die vraag is : Kan dit ontken word?

Intussen het navorsing meer lig op die verskynsel van ras gewerp, veral op die nie-fisieke verskille. So weet ons dat die Westerling se regterbrein-georiënteerdheid sigself tot analitiese denke leen wat mense indeel in rasse-kategorieë, 'n onvergeeflike  "sonde"  vandag. Hierteenoor is Afrikane geneig tot linkerbrein-georiënteerdheid synde die oorsprong van holistiese denke, 'n denktipe wat alles saamvoeg tot een groot geheel met 'n negering van die samestellende onderdele waaruit die geheel bestaan.

Vanweë rasverskille het die huidige gedwonge rasse-integrasie ewe min kans op sukses as die gewonge rasse-segregasie van die verlede.

Toenmalige segregasie-dwang kon die onvryes nie enduit van hul vryheid weerhou nie. Net so sal die huidige integrasie-dwang die huidige onvryes ook nie van hul vryheid weerhou nie. Nie-rassigheid is nié lewensvatbaar nie.

Wit mense is keelvol van die eensydige rassisme-beskuldigings deur oningeligtes en die gekleurde rasse in ons samelewing.


Thursday, 6 September 2007

Boesak paar geloof, ideologie

In Godsdiensperspektief (DB,29.08.2007) maak dr. Allan Boesak politiek die vertrekpunt van sy bydrae. Hy analiseer die huidige politieke situasie in Suid-Afrika wat die vroeër gekoesterde politieke drome soos hersenskimme laat vervaag. Hy gryp terug na die drome van Gandhi, Martin Luther King en Albert Luthuli,  "Mense wat die droom omskep het in 'n visie wat vir die mensdom onontbeerlik is."

Hy meld die Afrikaanse Sakekamer het Luthuli vereer as  "dromer" , leier, staatsman, wenner van die Nobelprys vir vrede, visionêr, Afrikaan in murg en been."  Die name van Luthuli en N.P. van Wyk Louw het dié aand sommer met groot  "natuurlikheid saamgeval. Die gees Vrydagaand was die gees van Albert Luthuli"  (en nié Sy alomteenwoordige Gees nie). En dan voltooi Boesak (die teoloog) self daarna die Luthuli-prentjie as hy sê :  "Niemand moet vergeet nie dat Albert Luthuli 'n Christen was."  Hier, vir die eerste keer, impliseer dié teoloog  die Man van Nasaret. Boesak gee hiermee 'n pragtige voorbeeld van die paring van politieke ideologie met die Christelike geloof.

Natuurlik moes hierdie geleentheid ook benut word vir die doel van kerklike transformasie. Soos wat die huidige transformasietrein voortstoom en talle samelewingsfere reeds getransformeer is, so moet die kerklike lewe óók getransformeer word in ooreenstemming met die nuwe staatkundige bedeling. Soos die hand wat die wieg skommel die toekoms bepaal, net so bepaal die nuutste kweekskooldenke en  -dosente   -   waar Boesak nou as dosent aangestel is   -   die toekoms van ons kerk. Waarom dan nie ook die kerk transformeer tot staatskerk deur die politiek binne te ry met die geloofsperd nie? Die bevrydingsteologie (lees struggle) moet ook die kansel opgedra word!

Dit is "goeie politiek" om die Sakekamer-geleentheid te benut deur 'n  "geestelike wa"  by die transformasietrein aan te haak met Luthuli, as rolmodel vir Christene, daarbinne. Boesak verwys hierna as die  "ander gees van Luthuli".  "Ander gees"  impliseer die bestaan van meerdere geeste met die Christelike as maar net een daarvan. Wat sou dan die ánder geeste van Luthuli wees wat Boesak impliseer?

Gelukkig het die Skrif ons vooruit hierteen gewaarsku wanneer dit ons oproep om die geeste op die proef te stel. Dit is presies wat élke Christengelowige onder leiding van die Heilige Gees moet doen en nié onder dié van teoloë nie.

Tuesday, 24 April 2007

Wie moet Botman help?

Jannie Momberg se brief,  "Hou Botman se arms omhoog" (DB,21.04.2007), verwys. Hy vra almal om  "Botman se arms omhoog (te hou) pleks van hom agter sy rug te beskinder."

'n Mens wonder oor dié armsomhooghou-versoek van Momberg. Waarom? En laat die US-rektor hom dit welgeval?

Die simboliek kan verwys na 'n strydscenario met 'n uitkoms van wen óf verloor. Dit herinner aan Moses (Eksodus 17:8-16) wie se arms deur Aäron en Hur omhoog gehou moes word as voorwaarde vir Israel se oorwinning teen Amalek.

Indien Momberg se oproep Botman dus midde-in 'n strydsituasie plaas, beteken dit dat die rektor dié stryd nie durf verloor nie ; verloor hy, verloor  "regstellende" , transformatiewe ANC-denke.So wie kan die armomhooghouers wees ánders as ANC-ondersteuners en  -simpatiseerders?

Momberg mag dit as teleurstellend ervaar dat nie almal ANC-handperde is nie. Vir baie US-alumni is dié inrigting 'n baken op die pad van Afrikaner-volkswording. Die verlies van die US is derhalwe traumaties. Diegene wat hulself nie Afrikaners ag nie, sal dié verlies nooit kan begryp nie.

Momberg vind dit besielend dat Botman in sy inhuldigingsrede gesê het dat hy die taak het om van die US  "'n volledige multikulturele plek te maak ; 'n tuiste vir almal" . Sodoende "sal Stellenbosch uiteindelik aan almal behoort."  Hiervoor stel Momberg selfs 'n parallelmedium-taalbeleid voor. Terwyl hiermee waarskynlik vrede gemaak kan word, is die vraag aan Momberg egter : Waarom moet die US sy unieke karakter opofferend prysgee ten einde  "'n tuiste vir almal"  te wees wat  "aan almal behoort", terwyl dieselfde vereistes nié aan ons swart en Engelstalige universiteite gestel word nie? Dit is mos blatante diskriminasie sowel as, onder meer, karakter- , identiteits- en volksroof.

Dit is elkeen se reg om die ontwikkeling aan die US as 'n wensituasie te ervaar ; net so is dit ook elkeen se reg om dit as 'n verloor-  of verliessituasie te beleef. Vanuit ANC-dampkring sal die wenbelewenis nie bevraagteken word nie ; die verlieservaring wel.

Vir my beteken die pro-eie gedagte nié om anti-ander te wees nie ; net jammer dat so baie van ons 'n anti-eie gesindheid openbaar.

Tuesday, 6 March 2007

Verander Suid-Afrika se skolestelsel

Elke gemeenskap of samelewing ontwikkel 'n eie onderwysstelsel wat aan die besondere behoeftes van die lede van sodanige gemeenskap of samelewing voldoen.

Afhangende van die ontwikkelingspeil van 'n gemeenskap of samelewing, tree differensiasie en spesialisasie na vore (of nié na vore nie) om in toenemend komplekse behoeftes van die mense te voorsien (of nié te voorsien nie). Daar is 'n aanwysbare verband tussen die ontwikkelingspeil van 'n gemeenskap of samelewing en die onderwysstelsel daarvan.

Dit is 'n algemeen aanvaarde feit onder spesialis-onderwyskundiges dat, soos wat gemeenskaps-  of samelewingsdifferensiasie 'n voorwaarde is vir die ontwikkeling van 'n onderwysstelsel, differensiasie noodsaaklik is ook vir die ontwikkeling en vooruitgang van die skolestelsel as die kern van die onderwysstelsel.

Die skolestelsel   -   vanaf voorskools tot op tersiêre vlak   -   het die funksie om sowel nuwe kennis te genereer as om dit oor te dra, en kan daarom aan dié kriteria (generering en oordrag van kennis) beoordeel word. Ontwikkeling en vooruitgang word moontlik gemaak deur kennistoename. Daar is dus 'n verband tussen die vlak van kennis, die skolestelsel en samelewingsvooruitgang.

Die onderwysstelsel stel sigself 'n beskawingsverheffende,  mensveredelende, potensiaalontsluitende en opheffende sirkelgang van onderwysgebeure binne die skolestelselkern ten doel. Wanneer die huidige ANC-regering dus die invoer van buitelandse kundiges en wetenskaplikes   -   soos uit Indië en Kuba   -   oorweeg om te voorsien in die plaaslike gebrek aan kundigheid (vanweë die erodering van ons eie breinkrag na die buiteland) , is dit 'n ondubbelsinnige teken en aanduiding van 'n mislukkende onderwys-  en skolestelsel as gevolg van 'n mislukte sentrale onderwysbeleid wat op ideologiese eerder as onderwyskundige beginsels berus.

Die totale verontagsaming van 'n gedifferensieerde en multikulturele samelewing   -   Afrika-  én Europees-georiënteerde gemeenskappe   -   vererger die probleem. Vir die Afrika-georiënteerde gemeenskappe wat die onderwysbesluite neem, is die differensiasie-gedagte egter 'n vloekwoord en sinoniem aan diskriminasie. Die insig ontbreek dat differensiasie 'n hoeksteen vir vooruitgang is.

Die huidige skolestelsel vertoon gevolglik al drie algemene vorme van onderwyskwaad : stagnasie (weinig opheffing in standaard van duisende leerlinge), frustrasie (die nie-verwesenliking van onderwysdoelstellings) en misleiding (massas leerlinge ervaar mislukking in plaas van sukses).

Die oplossing van ons kennis-krisis lê nie in die buiteland nie. Die antwoord is in ons midde in die vorm van die Godgegewe potensiaal van ons jeug wat ontsluit moet word op grond van beproefde onderwysoorwegings. Wysig daarom die skolestelsel tot dié effek en vervang diegene wat nie 'n snárs begryp van die voorwaardes vir onderwysvooruitgang nie.

Thursday, 22 February 2007

'n Ingryping van Bo

Jannie Momberg se brief (DB,15.02.2007) verwys. Hierin beweer hy dat wittes  "sedert 1994 ontsettend goed behandel is."  Ek verskil egter van hom.

Hy vind aansluiting by Henry Jeffreys se rapportering oor sy bywoning van die 150ste bestaansviering van die  Cape Argus  waartydens die Ierse media magnaat, Tony O'Reilly, 'n spreker was (DB,12.02.2007). O'Reilly bewonder Suid-Afrika se  "suksesvolle politieke oorgang"  vanweë  "die keuse wat ons leiers tussen vergelding en versoening gemaak het."

In aansluiting by die voorafgaande vervolg Momberg dat  "so baie wit mense nie die vaagste benul het van die omvang van die versoeningswonderwerk nie" , en dat so baie wit mense voortgaan  "om baie geld te maak onder die 'swart regering' ".

Eerstens blyk géld dié kriterium te wees waaraan Momberg die  "goeie behandeling"  van wittes sedert 1994 meet. Nie net is dit 'n erg skewe aanlê van dié materiële maatstaf nie, maar beslis ook nie die enigste óf belangrikste nie.

Tweedens gaan hy op 'n ongekwalifiseerde en ongedifferensieerd-veralgemenende wyse om met die begrip  "wittes". Wie is die  "wittes"  wat goed behandel word omdat hulle steeds  "baie geld maak"? Dit is beslis nie álle wit Afrikaners nie.

Derdens word die alternatief vir versoening, naamlik vergelding, voorgehou met die versweë implikasie van die bloedbad-alternatief. Indien grondbesit wel op bloed sou berus, behoort 'n aansienlike gedeelte van ons land reeds aan wit Afrikaners, 'n  "transaksie"  voortgesit deur plaasmoorde.

Vierdens word die leiers geloof vir hul keuse van versoening. Maar hóé lyk dié versoening? Vergelding vind plaas onder die verraderlike dekmantel van versoening : 'n twee-in-een-benadering van vergelding-binne-versoening.

Vyfdens is dit 'n vraag óf bloedige vergelding 'n wenopsie vir die ANC was weens die voorafgaande val van die Berlynse Muur, die internasionale mening en die aanwesigheid van 'n sterk wit Afrikaner-element in die destydse polisie en weermag.

Ten slotte stem ek met Momberg saam oor die  "wonderwerk"-gedagte. Oor die vertolking daarvan kan ons dalk van mekaar verskil. Wat my betref, is die  "wonderwerk"  'n ingryping van Bo, 'n onvoltooide wonderwerk wat uitkoms sal bring vir God se kinders in 'n Godnegerende bedeling. Waarom? Omdat ware versoening sigself allereers rig op Hom daarbo.