Dennis Cruywagen se Woensdag Aktueel-artikel (DB,23.02) wek begrip vir die histories-ontwikkelde posisie van hedendaagse bruin mense. Waarskynlik sou net Olimpusberg se gode die vele ongelykheidsverskille tussen die vroeë inwoners van Suid-Afrika foutloos kon hanteer het in die skepping van 'n utopies-moderne S.A. na almal se smaak.
Dat sómmige rasse dit moeiliker gehad het as ander rasse onder apartheid, kan nie ontken word nie; dat álle rasse vandag, insluitende swartes, swaarkry onder die ANC-regering, is 'n feit. Ek wil egter reageer op die nierassigheidsbegrip wat Cruywagen óók gebruik, en só dikwels by uitstek deur ander bruin skrywers gebruik is/word.
Dit blyk dat géén mens sy rasgebondenheid kan ontkom nie. Deel van my identiteitsamestelling is ook my rasidentiteit. Identiteit, en veral die behoud daarvan, is sigbaar nie vir alle mense ewe belangrik nie. Daarmee het ek geen probleem nie; dit is immers 'n kwessie van keuse. Dit word egter wel 'n probleem indien "rasbehoudendes" op die een of ander wyse gedwing kan word tot "rasafstanddoening" en só van hul rasidentiteit beroof sou word.
Skrywers oor nierassigheid, en dis veral bruin skrywers, laat my telkens dink aan iemand wat 'n "spook" gesien het, daardeur ontstig is, maar nie in staat is om dit vir ander te beskryf nie. Voorstanders van die nierassigheids-idee bly tot dusver in gebreke om dit vir ons te omskryf; om van definieer nie eers te praat nie. Is dit vanweë onwilligheid, onbekwaamheid of onmoontlikheid?
Vir my lyk die hele kwessie van bruin beroepe op nierassigheid eerder na bruin mense se (begrypbare) belewing van, en reaksie op, onbillike diskriminasie teen hulle; soos nou weer met die voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming waardeur bruines benadeel sal word. Is nierassigheid daarom nie 'n bruin uitweg uit dié impasse nie? (ngn)