Friday 18 February 2011

Zuma nog in Rip van Winkelslaap

Afrikaners gaan, gesien die haglike omstandighede waarin vele hulle tans bevind, nie toelaat dat Zuma hulle sagmakend met vleitaal flous nie.

Zuma het vroeër reeds na Afrikaners as "die enigste wit stam van Afrika" verwys (DB,03.04.09). Nou verwys hy na "Afrikaners se unieke geskiedenis en hoe dit hulle van ander wit mense in die land onderskei...die enigste wit groep wat daarop aanspraak kan maak dat hulle óók vir hul vryheid...geveg het...Hulle het 'n bydrae gemaak om Suid-Afrika te ontwikkel..." (DB,17.02).

Maar nou moet Afrikaners hul "eie Nkandla vind...nie 'n staatkundige grondgebied nie, maar 'n sielkundige tuiste. (Omdat) Afrikaners...reg oor die land woon...het hulle nie 'n 'fisieke Nkandla' nie" (DB,17.02).

Zuma ontken die nasionale karakter van die Afrikaner en sy histories-volgehoue onafhanklikheidstrewe. Die Afrikaner moet nou egter tevrede wees om "sielkundig" ge-"borsrok" te word binne die Nkandla-model.

Zuma is korrek as hy beweer Afrikaners "het 'n bydrae gemaak om Suid-Afrika te ontwikkel...(en dat hulle) reg oor die land woon." Wat hy nie raaksien nie, is die verband tussen Afrikaners se "bydrae" en waar hulle "woon". Vooruitgang het gelei tot horisonverruiming en -verskuiwing.

Anders as in Zuma se Nkandla-omgewing, bevind Afrikaners   -   as potensiaalontwikkelaars, werkskeppers en -gewers   -   hul verspreid oor die land. Het Zuma se Nkandla-omgewing, hierteenoor, dalk staties gebly? Wie het weggebreek uit isolasie en 'n spoor van ontwikkeling vir ander gelaat, en wie het in onontwikkelde isolasie gebly? Wie pluk wie se vrugte vandag?

Teenoor Zuma se etnies-eie, stameie en kultuureie Nkandla Zoeloe-gemaksone, verwag hy Afrikaners moet hulself tevrede stel alleen met 'n "sielkundige tuiste". Kan enige volk ter wêreld sy nasionale aspirasies uitleef sonder 'n eie grondgebied as soewereine jurisdiksiegebied?

Nee, Zuma, vergelyk asseblief appels met appels. Terwyl hyself nog in 'n Rip van Winkelslaap verkeer, het die Afrikanerwêreld reeds onder hom uitbeweeg.




No comments:

Post a Comment