Wednesday 9 February 2011

Kerk se reaksie op Zuma stel teleur

Die NG Kerk se persvrystelling deur dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van dié kerk, oor Zuma se Godonterende uitlatings, is teleurstellend. Gerber sê: "Die...NG Kerk wil sy sterkste misnoeë te kenne gee oor die uitlatings van president Zuma...(en het reeds in) 2009 sy kommer uitgespreek oor hierdie tipe retoriek van die President en die ANC...(en) vereenselwig hom ten volle met die persvrystelling van die SARK...(en) wil aandring op 'n onvoorwaardelike verskoning van die ANC aan Christene en kerkgroepe in Suid-Afrika."

Hiermee sê Gerber, namens die NG Kerk, teleurstellend min. Dit is jammer dat hy godslasterlikhede afmaak as blote retoriek waarmee die NG Kerk slegs sy "sterkste misnoeë te kenne gee". Waarom verwag Gerber 'n "onvoorwaardelike verskoning" aan Christene en kerkgroepe en nié, primêr, aan die God van die Christendom nie?

Gerber hou die kommentaar van biskop Jo Seoka, president van die SARK, voor as synde mondstuk ook van die NG Kerk. Gewone lidmate verwoord hul ontsteltenis en besware veel sterker en omvattender as die moderatuur van die NG Kerk. Hopelik is dié kerk nie maar net "His Master's Voice" van die SARK in 'n poging om "polities korrek" te wees nie.

Ek dink nie lidmate verwag 'n verdoemende aanval op Zuma nie, maar wel 'n baie ernstige vermaning in die lig van die Bybel oor wie en wat God is. Waar Zuma van God 'n politieke speelbal maak, pas dit nie Christengelowiges om by dié Zumaspel betrokke te raak nie.

Vanweë swak leierskap het die NG Kerk 'n gulde geleentheid laat verbygaan om 'n duidelike en sterk verwoorde standpunt daar te stel aangaande die onaantasbaarheid van die Koning van die kerk, en om dié Christelike oortuiging aan die ganse SA-samelewing te kommunikeer, 'n samelewing wat, sensusgewyse, uit 'n Christenmeerderheid bestaan.




No comments:

Post a Comment