Monday 21 February 2011

Profesievervulling is geen verrassing

Die berig, "Verenigde liggaam vir gelowe 'is nié gestig' "(DB,19.02), het betrekking. Een van talle vrae is: Watter profesie-vervullende potensiaal is daar opgesluit in die eenwording van alle godsdienste? Die Bybel sê duidelik en opdragtelik: "Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie...Hoe kan 'n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode?" (2 Kor.6:14,16).

Belanghebbende partye   -   die ANC-gesinde NILC en SARK-georiënteerde NRLF   -  weerspreek mekaar oor die vordering na eenwording tussen dié liggame tot " 'n enkele nasionale intergeloofsorganisasie". Ook Zuma het (betekenisvol) hierna verwys, en daarom kan met reg gevra word: Wat maak Saul (ANC) onder die profete (kerk)?

Dit kom voor asof die NG Kerk nie ag slaan op die waarskuwende vermanings in Gods Woord om nié in 'n eenheid met Christen-ongelowiges op te gaan nie. Dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG kerk, het gesê "hy is deel van 'n taakspan wat tans met die (ANC-gesinde) NILC samesprekings voer."

Dit is duidelik dat die ANC die grondwet sal inspan om sy ideologiese vlerke subtiel-voorskriftelik ook oor die ganse godsdiensterrein te sprei. Die grondwet verklaar immers alle mense gelyk en dit impliseer ook die gelykheid van alle godsdienste. Geen godsdiens durf dus beweer dat dit oor die enigste waarheid, soos wat Christene beweer, beskik nie. Sodoende moet ook die Christelike godsdiens deur "regstellende aksie" getransformeer word.

Christene moenie verbaas wees indien gebeure nog sodanig gaan ontwikkel dat hul geloofsaanspraak op die Drieënige God as enigste ware God as 'n skending van grondwetlik-erkende menseregte en dus as strafregtelik vervolgbaar beskou sal word nie. Is die potensiële aanstelling van grondwetlik-kontrolerende "godsdiensinspekteurs" en hul periodieke besoeke aan godsdiensinstellings té vergesog?

Die huidige verwikkelinge kom as geen verrassing nie, maar wel as die vervulling van Jesus se profetiese woorde: "As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg" (Joh.15:20b).      




No comments:

Post a Comment