Monday 14 February 2011

Fouteer teoloog nes Mandela en Zuma?

Die Christelike geloofsbeskouing word beslis nie deur alle kulture identies en ewe suiwer vertolk en aanvaar nie. Dat dít so is, blyk ook uit die berig, "ANC kap terug oor kritiek" (DB,09.02). Gemelde berig handel oor "Zuma se hemel-opmerking", Gwede Mantashe se verdediging daarvan, asook dr. Gerrit Brand van die Stellenbosse teologiese fakulteit se kommentaar daarop.

Die gewraakte Zuma-stelling lui "dat 'n ANC-lidmaatskapkaart 'n kaartjie hemel toe is". Hou egter in gedagte dat Zuma vroeër gesê het hy "wil in die gees van oud-president Nelson Mandela die leier van alle Suid-Afrikaners wees" (DB,07.05.09).

Dié Mandela-"gees" blyk gedeeltelik uit sy "Long Walk to Freedom" waarin hy sê: "My father remained aloof from Christianity and instead reserved his own faith for the great spirit of the Xhosas, Qamata, the God of his fathers." Voeg hieraan toe dat Mandela, skertsend, gesê het hy sal by sy aankoms in die hemel dadelik na die naaste ANC-tak verneem en daarby aansluit.

Dit is binne dié klimaat, geskep ook deur die Mandela-"gees", wat Zuma-uitsprake soos; "Wie op dees aarde kan teen ons (ANC) wees as God aan ons kant is?" (DB,19.03.09); dat die ANC tot Christus se wederkoms sal regeer, asook sy jongste uitlatings, beoordeel moet word.

Terwyl daar enersyds, menslik gesproke, 'n mate van begrip mag wees dat Mandela én Zuma dit dalk moeilik vind met hul verwerking van die westerse Godsbegrip, hoe moet teoloog Brand se kommentaar, andersyds, beoordeel word?

Brand beweer: "Zuma se uitlatings is nie problematies omdat dit God se gevoelens seermaak of aan gelowiges aanstoot gee nie" (DB,09.02). Beeld (08.02) berig Brand het ook gesê: "God kan dit vat en gelowiges moenie so liggeraak wees nie".

Is Brand nie maar net so skuldig aan Godonterende uitlatings   -   "God kan dit vat..." as karakterontering van God   -   soos Mandela en Zuma nie?


No comments:

Post a Comment