Tuesday 15 February 2011

NG Kerk te min te laat - hoe jammer

Die Burger-beriggewing (12.02), "SA g'n hemel onder ANC  -  kerk", bevestig my vroeëre skrywe, "Kerk se reaksie op Zuma stel teleur" (DB,12.02), dat die NG Kerk veel meer getuienislewerend en leidinggewend op pres. Zuma se onlangse uitlatings kon gereageer het.

Elke NG Kerklidmaat is geregtig op 'n eie mening in dié verband, dog ek vind dit veel makliker om met die VGK se besware teen die Godonterende Zuma-uitsprake te identifiseer as met dié van die NG Kerk. Wat ek ironies, indien nie tragies, vind, is dat dié twee kerke hulle as't ware in 'n "moeder-dogter" verhouding bevind, met die "dogter" wat 'n veel sterker standpunt inneem as die "moeder", en sodoende 'n voorbeeld vir die "moeder" stel.

Die Burger (12.02) berig die VGK-verklaring "is een van die sterkste kerklike reaksies nóg op pres. Zuma se gelykstelling van die ANC en die hemel..." Oor watter dinge is die VGK besorg wat die NG Kerk nie meldenswaardig ag nie?

Die VGK-moderatuur sê "dat Suid-Afrika onder die ANC-bewind geen hemel is nie", en dat Suid-Afrikaners slagoffers is van moord, geweldsmisdade, armoede, werkloosheid, swak onderwys, veragtelike dienslewering en, "Dit is nie hemel nie...(maar) vir baie Suid-Afrikaners hel..."

Wat Zuma se aantasting van die Christelike geloof betref, is die VGK-standpunt, onder meer, soos volg daarop: Wat Christene onder "hemel" verstaan, word toegelig; die enigste pad hemel toe is deur Jesus Christus; die ANC respekteer nié dit wat Christengelowiges kosbaar ag nie.

Ten slotte rig die VGK-moderatuur 'n "boodskap aan lidmate...om...hulself af te vra of hulle...vir enige party kan stem wat geen respek vir hul geloof het nie." Dié VGK-verklaring sal van kansels gelees en in gemeentenuusbriewe gepubliseer word.

My antwoord op ds. Schutte se "NG kerkraad steun VGK se verklaring" (DB,15.02), is daarom: NG Kerk te min te laat  -  hoe jammer.                  (ngn)



No comments:

Post a Comment