Thursday 23 February 2012

Laat sinodale besluite leraar struikel?

Ek verwys na Harry Gerber se brief, "Vrae oor leraar se stellings van die kansel" (DB,22.02), waarmee hy "graag reggehelp (wil) word" en nie " 'n gestry of getwis (wil) ontlok nie." Skrifgewys prysenswaardig, maar die Bybel sê ook in opdragtelike sin: "Moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak" (Efes.5;11). Weet verseker dat jy gehoorsaam is aan hierdie opdrag.

Die leraar sê: "Daar is nie maar net 'n Drie-enige nie, maar ook wel 'n vier-enige (die mens) en 'n vyf-enige (die wêreld)." Dit is ongetwyfeld 'n onskriftuurlike stelling   -   indien nie godslasterlik nie   -   wat nié met die Bybel en die belydenisskrifte versoenbaar is nie. Nog 'n kanselstelling: "Jesus het uit die hemel gekom en God se grense oorskry." Hierdie stelling maak, onder meer, van Jesus 'n opstandig ongehoorsame Godgestuurde en plaas Hom in dieselfde konteks as Lucifer   -   'n tweede onwaarheid. Die derde leraarstelling lui: "Mag die genade van Moeder God met julle wees." Hierdie stelling is beslis in ooreenstemming met die RK kerk se "Moeder Maria" en/of die "New Age"-beweging se "moedergod", Gaia   -   met Matreia as haar "messias"   -   maar baie beslis nié in ooreenstemming met God se Woord en ons kerklike belydenisskrifte nie   -   'n verdere onwaarheid.

Onwaarhede is maar net 'n eufemistiese vorm van leuens, en wie is nou weer die "vader" daarvan? Ek sou graag vir hierdie leraar wou vra om sy stellings vanuit die Bybel te verantwoord, asook die belydenisskrifte én sy legitimasie-eed wat hy afgelê het. Is dié leraar 'n "slagoffer" van sommige soortgelyke onskriftuurlike besluite van die jongste Algemene Sinode van die NG Kerk wat as voorbeelde vir hom dien?           (ngn)







No comments:

Post a Comment