Tuesday 21 February 2012

Tragies om nie volkseer te verdedig

My vroeëre skrywe, "Hieroor mág Afrikaners nie stilbly nie" (DB,28.01), was beswaarmakend teen Robin Binckes se boek, "Canvass Under the Sky", waarin hy 'n klomp moedswillige leuens kwytraak van ons Afrikanervoorgeslagte. "Die Afrikaner" (10-16.02) berig dat "'n groep Afrikaners dié boek vol leuens...in die openbaar verbrand..." het uit protes, en sê dat geen medialid daaroor berig het nie. Hierteenoor "steek opponente van Julius Malema 'n T-hemp met sy foto op aan die brand...(en) die media is daar...(met) 'n groot foto op Rapport se voorblad. Dit is nuus."

Ek vind dit vreemd van koerante wat die Suid-Afrikaanse Perskode se joernalistieke waardes van waarheid, akkuraatheid, regverdigheid en gebalanseerdheid onderskryf (DB,25.02.08).

Ek lees die een na die ander roerende verhaal soos deur Emily Hobhouse vertel in haar boek, "Die Smarte van die Oorlog", van die onmenslike wreedhede, lyding en vernedering wat Afrikanervroue moes verduur aan die hand van die Britse militêre owerhede tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902). 'n Vrou sê aan 'n Britse generaal: "O, ek bid u, skiet my hier dood, want dit is dieselfde of ek hier sterf of in die (Potchefstroom) kamp...waar so baie grootmense en kinders sterf   -   soms sewe op 'n dag."

Oorlog laat diep en dikwels blywende letsels na. Dit is tragies wanneer ons die rug op ons volksverlede keer, maar veel tragieser as ons nie ons volkseer wil verdedig en handhaaf nie.                  (ngn)

No comments:

Post a Comment