Saturday 18 February 2012

Toename in bruin begrip kenmerk debat

Die Forumartikel, "Ons almal se moeder?" (DB,18.02), het betrekking. Hierin lug debatteerders hul mening oor Kaapstad as "Die Moederstad: Is sy 'n moeder vir al haar kinders?" My eerste vraag is: Watter vastelandse psige   -   Europa of Afrika   -   het eerste geboorte gegee aan die begrip "moederstad", en watter tong het dit die eerste keer in S.A. verwoord? Laat ons darem in alle billikheid realisties en eerlik wees met mekaar. Sedert 1652 tot en met 1994 was Kaapstad, die "Moederstad", die setel van blanke regering. Kan nie-Europeërs verkwalik word as hulle weinig erg het aan die begrip "Moederstad" en nie sterk daarmee assosieer nie?

Vir my is die "Moederstat"-omgewing 'n dinamiese, akademiese, intellektuele, welvaartskeppende, bybly of agterbly omgewing; in klasse verdeel oorwegend volgens materiële standaarde, net soos elders ter wêreld aangetref word   -   Indië, en selfs Engeland, as voorbeelde. Na my mening is dié "Moederstad" die sentrum van die mees toonaangewende van die RSA-provinsies (danksy ANC-niebeheer).

Ooglopend van dié Forumartikel is dat dit oorwegend bruin menings (4) en slegs een swart en een wit (David Kramer) se menings rapporteer. Maak dit nie dié artikel ongebalanseerd en nie-verteenwoordigend nie? Die indruk kan maklik geskep word dat dit net die stemme van "aanklaers" en nié dié van die "aangeklaagdes" is wat gehoor word. Gelukkig is daar egter die tekens van 'n toename in begrip van me. Patricia de Lille, proff. Jakes Gerwel en Russel Botman wat geloofwaardigheid aan dié debat verleen en voorkom dat dit nie in 'n soveelste rassegeding ontaard nie.


No comments:

Post a Comment