Tuesday 28 February 2012

NG Kerk volg in die transformasievoetspoor

My graad 1-kleinseun munt   -   soos sy ouderdomsgenote   -   uit in selfuitgedinkte verbeelding-  en eie reëlbepalende kompeterende speletjies. Daarin sien ek 'n parallel met die teenswoordige "kerkspel" waar 'n "verbeeldingspel" met die Bybel gespeel en dit terselfdertyd in kompetisie met die wetenskap geplaas word waarvolgens die Bybel volgens wetenskaplike spelreëls beoordeel word.

Met die skepsel plaasvervangend vir die Skepper, sit sommige teoloë se verbeelding met hulle op loop wanneer hulle beweer die Bybel is nié Goddelik geïnspireer nie, maar bloot mensewoorde oor God. Bybelse waarheidsinhoude word ontken en afgemaak as mites en verhale sonder enige relevansie vir ons dag.

Vervolgens het sommige teoloë ook "ingekoop" in die pseudo-wetenskap van die evolusionisme en onderwerp die Bybel met groot toewyding daaraan. Hierdie teoloë het gekies vir geloof in dié "wetenskap" eerder as geloof in die Bybel. Die NGKerk-leierskap mag dink alle lidmate is oningelig, maar dis 'n mistasting. Wanneer prof. Nelus Niemand die daling van 20 000 lidmate die afgelope boekjaar in dié kerk toeskryf alleen aan sekularisasie (Rapport,19.02), is dit 'n halwe waarheid. Die woelinge in dié kerk, vanweë die rigting wat dit in onlangse jare inslaan, is ook 'n groot oorsaak wat egter ontken word.

Beide teoloë, prof. Nelus Niemand en dr. Stefan Joubert, sê al teenvoeter en hoop vir die NGKerk lê in "alternatiewe vorme van kerkwees". In sy skrywe, "Tyd is verby vir keer en beheer" (Beeld, 27.02), meen Joubert die dalende NGKerk-lidmaattal moet nié gekeer word nie, en dat die tyd vir kerklike gesags-  en beheerstrukture verby is.

Hier lê 'n stryd van ongekende afmetings voor vir 'n kerk wat duidelik die transformasievoetspoor volg.  (ngn)







No comments:

Post a Comment