Saturday 11 February 2012

Verdeeldheid gaan die kerk vernietig

Christus het gesê: "...'n huisgesin wat onderling verdeeld is, spat uitmekaar" (Luk.11:17)   -   'n profesie van die Hoof van die Kerk ook vir Sy kerk van vandag. Daar is, onteenseglik, duidelike tekens van verdeeldheid in die kerk tussen die liberaal-vrysinniges en die Skrifgetroue behoudendes, deur eersgenoemdes tot "fundamentaliste" gebrandmerk.

Sommige meen dié kerklike verdeeldheid sal verdwyn indien dit geïgnoreer word en veranderinge in die kerk ongehinderd voortgaan. Daar is besliste tekens van polarisasie daarbinne. So word selfs beweer dat die kerk nog struktureel een mag wees, maar dat daar reeds twee duidelik onderskeibare "kerke" onder dieselfde dak bestaan.

Hierdie verdeeldheid blyk ook uit die volgende as voorbeeld: Enersyds sê dr. Christo Landman (My Beeld, 08.02): "Die wysgerige grondslae van die Belharbelydenis kan gevind word in die Kairos-dokument en in die teologie van die Suid-Amerikaanse bevrydingsteoloog, Gustavo Gutiérrez. Destyds is gevind dat, omdat die Kairos-dokument te radikaal was, 'n sagter aanslag in die vorm van die Belharbelydenis deur SA-bevrydingsteoloë geformuleer is...(wat) as sentrale propagandadokument teen die politieke orde gebruik (is)...dit staan vas dat Belhar 'n kind van die politieke bevrydingsteologie is."

Andersyds sê prof. Christina Landman (Beeld, 05.02): "Hier, skielik, kom 'n brief aan van 'n generaal wat die Belharbelydenis van geweld beskuldig. Dis net 'n vuil truuk om onmin tussen kerke te saai...(en) al die truuks wat die generaal...uithaal (is) om Belhar en die swartbewussynsteoloë by te kom...Ons kan godsdiens nou anders bedryf. Met nuwe doelstellings."

Tot Satan se grootste vreugde gaan verdeeldheid lei tot die vernietiging van Sy kerk.



No comments:

Post a Comment