Een van die nuwere gonswoorde in kerklike konteks is die begrip "missionaal", ontleen aan "mission" (sending). Met "missionaal" word nie heeltemal dieselfde bedoel as die evangeliserende sendingbegrip soos aan ons ouer geslag bekend nie. Dié begrip vorm deel van die konseptuele transformasie kenmerkend van die paradigmatiese denkverskuiwing ook in die NG Kerk.
Vir sommige beteken "missionaal" enigiets wat die Kerk doen om mense te help. Vir ander beteken dit die beywering vir sosiale geregtigheid wat, teoretiesgewys, ook steungewing aan die omverwerping van onaanvaarbare owerhede sou kon behels in 'n tydsgewrig waarin die moderne jeug se sosiale bewussyn en sosiale gewete rewolusionêr opgeskerp is. Christus self was nie 'n omverwerper van die onderdrukkende Romeinse owerheid nie.
Die Bybel roep ons op tot omgee en hulpverlening aan behoeftiges. Die gevaar bestaan dat die oorspronklike sendingopdrag - "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle...en leer hulle..." (Mat.28:19) - deur die nuwe "missionale" gedagte gedryf kan word in 'n gees van "Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper..." (Rom.1:25b). Dié opdrag is primêr van 'n geestelike en nié materiële aard nie. Jesus self het eers deur onderrig die skares geestelik gevoed; daarna met brood en vis.
Vandag steeds oorskry mense se geestelike nood verreweg hul materiële nood, al word dit nie erken nie. In dié verband heers daar onsekerheid of missioloë dit dalk ten doel het om, in die naam van sosiale geregtigheid, die Kerk tot 'n welsynsgerigte nie-regeringsinstansie te transformeer as antwoord op mense se stoflike nood. (ngn)