'n Soldaat wat weier om te veg; 'n geneesheer om 'n siekte-epidemie te bestry, en iemand wat armsgevou sy buurman se huis sien brand, dui op growwe pligsversuim - indien nie verraad - onder kritieke omstandighede wat dringende handeling noodsaak. Dit is presies die posisie van sommige hedendaagse predikante wat, ten spyte van hul legitimasie-eed - waarvolgens hulle onderneem om alle dwaalleer te bestry - afsydig staan daaromtrent.
Daar heers 'n stryd in NGKerkgeledere waarvan lidmate én predikante, met weinig belangstelling buite die eie gemeentegrense, nie veel van sal weet nie. Dié stryd sentreer rondom die invoering van misleidende dwaalleer soos blyk uit, onder meer, algemeen sinodale besluitneming, boeke, geskrifte en uitsprake van kerkleiers in openbare beriggewing en radiodebatvoering. Die Bybel waarsku ons teen dwaalleraars en hul misleidende dwaalleer soos ons dit vandag in Bybel- en Belydenisskrifbotsende uitsprake aantref.
Dit is vanselfsprekend dat kerklike dwaalleer herken, vertolk, benader en hanteer sal word ook teen die agtergrond van Bybelprofesieë. Profesievervulling moet ons juis wakkerskud uit 'n geestelik doodse slaaptoestand. Waarom wys leraars nie dié dwaling uit in die lig van eindtydse Skrifwaarskuwings, en soos hulle onderneem het, nie? Waarom swyg hulle?
In sy artikel, "Waarom Calvinistiese Kerke nie die Profesieë Verkondig nie" (02.12), sê prof. Johan Malan dat verskeie kerke nooit die soeklig op Bybelse eindtydprofesieë laat val nie. Hy skryf dit toe aan 'n verkeerde teologiese oriëntasie, vanweë Augustinus en Calvyn, wat nie die letterlike vertolking van eindtydse profesieë aanvaar nie. Hy sien min hoop vir dwalende kerke om self te reformeer, omdat die geestelike leiers "nie oop is vir oortuiging deur persone wat deur hulle as leke beskou word nie."
Met sy betrokkenheid by dwaalleer, plaas die NG Kerk sy toekoms op die spel. (ngn)
No comments:
Post a Comment