Wednesday 9 May 2012

FAK en Solidariteit het 'n reg van keuse

Dit is opvallend dat niemand reageer het op P.F. se vorige skrywes (02.04 en 09.04) nie, of moet ek dalk sê dat niemand toegelaat is om daarop te reageer nie? Ek het daarop reageer, maar sonder enige sukses. Ek het reageer op sy aanvegbare stelling (DB,02.04) dat die "nuwe S.A." kwansuis "...onberekenbaar beter (is) as die 'ou' S.A.   -   ekonomies, staatkundig, polities, globaal en op alle lewensterreine." Net 'n ANC-lojalis kan dit sê.

In dieselfde gees as sy vorige skrywes, verwyt hy die Afrikanerorganisasies, FAK en Solidariteit, hul weiering om met die ANC in gesprek te tree (DB,09.05). Hy wil weet "wanneer gaan ons ophou wegvlug en laer trek om onsself te probeer beskerm?" Ek en P.F. deel beslis nie dieselfde siening van die ANC en hoe dié ons land regeer en sy burgers behandel nie. Waarom sal Afrikaners nie hulself beskerm nie?   -   die ANC, vir wie P.F. soveel lof het, doen dit nie! Waarom jou wanbalansige fokus alleen op "eenheid in verskeidenheid" en nié ook die verskeidenheid in eenheid erken nie?

"Die Burger" (09.05) berig skeptiese deelnemers aan die afgelope ANC-gesprek beweer daar was al soortgelyke gesprekke met géén positiewe gevolge nie. Een van dié skeptici is dr. Theuns Eloff, rektor van die NWU, wat beweer die "Afrikaanse gemeenskap is nie baie hoog op hul (ANC) prioriteitslys nie."

Dit is deur hand-om-die-nek-sit met die Afrikanervyandige ANC deur sommige Afrikanerorganisasies in die verlede dat Afrikaners hul vandag in die posisie bevind waarin hulle tans verkeer. Daar is nog diegene wat oor trots en selfrespek beskik. Die FAK en Solidariteit het 'n reg van keuse   -   respekteer dit asseblief.




No comments:

Post a Comment