Saturday 19 May 2012

Dubbele standaarde knel rasseharmonie

Uit onlangse nuusberigte word vrae soos die volgende gegeneer: Waar lê, vergelykenderwyse, die menseregtegrense van die gewone burger en dié van kunstenaars? Gewone burger of kunstenaar   -   per definisie ook maar 'n gewone burger   -   word ons dan nie grondwetlik  eenders begrens nie? Vanwaar die kunstenaar se "reg" om die eie menseregtegrense te oorskry en dié van medeburgers menseregtelik negerend binne te dring? Is enigiets toelaatbaar in die naam van die "kunste"? Is alle "kunstenaarsvoorstellings" grondwetlik gesanksioneer?

Van Brett Murray se "...omstrede uitstalling 'Hail to the Thief II'..." (DB,19.05), waaronder die gedeeltelik naakte voorstelling van pres. Jacob Zuma, sê die presidensie en Cosatu "...hulle is in murg en been 'gesteur, geskok en gewalg'... " deur dié uitbeelding, en eis die vernietiging van dié kunswerk.

In die berig, "Kapsie teen 'bevarking' van E.T. by die Kasteel" (DB,13.05.2010), word vertel van die "Skokkende skilderye, waarin die vermoorde Eugéne Terre'Blanche as 'n vark uitgebeeld word, (en dit) 'is maar net 'n taal' ...'n metafoor..."  vir die kunstenaar uit die "agtergeblewe gebiede", Ayanda Mabulu. Omdat net die Afrikaner-minderheidsgroep kwetsend daardeur geraak is, het enige besware op dowe ore geval.

'n Wit model se onlangs onaanvaarbaar kwetsende gebruik van die "k-woord" moet opgeweeg word teen die openbare uitlating van 'n swart model wat alle wittes dood wens. Getuig die openbare reaksie hierop nie van dubbele standaarde nie   -   'n onewewigtige balans in beswaarmaking?

Alhoewel die grondwet en handves van menseregte op papier die gelykheid van alle mense eerbiedig, word die alledaagse praktyk egter gekenmerk deur dubbele standaarde. Die verskillende rassegroepe word duidelik onder identiese omstandighede nie onder dieselfde kam geskeer nie. Dubbele standaarde knel die rasseharmonie in S.A.







No comments:

Post a Comment