Sunday 27 May 2012

Is 'n ideologievrye SA-etiek haalbaar?

Dr.Louis van der Walt se oproep (DB,26.05) vir die verhoging van S.A se eties-sedelike peil verdien ondersteuning. Hy vind die "swak etiese gedrag deur sommige landsburgers" onaanvaarbaar. Hy meen "die regering kán die etiekkwessie oplos" deur kennis te neem van wêreldwye ministeriële etiekrade en  -departemente as navolgenswaardige modelvoorbeelde.

Die Etiek verwys na die ondersoeking van norme verbonde aan menslike handelinge, indiwiduele handelinge sowel as die norme verbonde aan menslike verhoudings in die samelewing. Genormeerde handelinge impliseer waardes. Onderskeid is te tref tussen verskillende waardes-  en normekontekste   -   soos die Christelike, sosialistiese en humanistiese   -   en derhalwe ook verskillende etiekkontekste.

'n Menswaardige bestaanswyse, hetsy indiwidueel óf in samelewingsverband, noodsaak die kragtige invloed van gesagsvolle waardes wat normatief inwerk in ons keuses, besluite en handelinge. Vanwaar ons waardes? Hoewel nie uitsluitlik die  enigste nie, dien ons geloofs-  en/of ideologiese raamwerke as belangrike waardegenereerders en  -prioritiseerders in ons hiërargiese waardestelsel.

Geloofs-  en ideologiese verskille weerspieël ooreenstemmende waarde-  en etiekverskille. Hiervan bewus, plaas die ANC die klem voortdurend op eenheid met as doel die gelykmaking van enige waardeverskille. Daar mag dalk op vrome wyse na grondwetlike waardes as samebindende nasionale waardes verwys word, maar in die praktyk is dit dikwels veel eerder ideologiese ANC-waardes wat geld.

Meer as 'n dekade gelede al het prof. Kader Asmal met 'n ideologies getransformeerde waardestelsel sodanige waardes deur die onderwysstelsel in die breë samelewing probeer vestig, dog blykbaar sonder noemenswardige sukses. Dit lyk dus asof die S.A.-burgery eers eenstemmigheid oor gemeenskaplik gedeelte waardes moet bereik alvorens 'n fondament gevestig kan word waarop 'n geslaagde nasionale etiek gebou kan word. Die vraag is of 'n ideologievrye neutrale nasionale etiek vir 'n waardesdiverse S.A. wel haalbaar is wat almal se steun sal geniet.







No comments:

Post a Comment