Wednesday 23 May 2012

Die "bose" in Belhartaal veroordeel

Prof. Nico Botha se "As die bose die goeie wegkalwe", in Godsdiens Aktueel (DB,23.05), noop jou om te sê: Skoenmaker, hou jou by jou (teologiese) lees. Waarom? Omdat die "bose" vir hom  "...die bedrieglike, verdelende en fragmenterende plannetjies en praatjies van die (opposisie) politici...in die naam van minderheidsbelange..." verteenwoordig.

Ter aanvang erken Botha dat  "...die land opnuut geruk (word) deur voorvalle wat die morele verval...onderstreep...(en) op die hoogste regeringsvlak word (dinge)...gedoen wat ons...ernstige skade berokken." Dan verskuif hy die fokus na  "...mense wat in die mensonwaardigste en haglikste omstandighede lewe" , en vra dan of  "...daar 'n soort Christelike of godsdienstige manier (is) om op die situasie in die land te reageer?"

Botha sê  "...daar word slegs na uiters negatiewe ontwikkelinge in die land verwys...(wat) 'n groot gevaar inhou...om die bietjie mooi wat met moeite tot stand gebring is...(te) kan wegkalwe." Hy sê Christene kan 'n groot bydrae lewer deur  "...hulle nie langer te laat mislei deur...praatjies...in die naam van minderheidsbelange (nie)...(omdat) die gedagte aan minderhede in 'n demokrasie 'n groteske weerspreking is...(en) dit nie die toets van die Bybel deurstaan nie, veral as sulke minderhede deur ras en etnisisteit bepaal word."

Botha sê vir  "...die Bybel is 'n arme 'n arme en 'n verontregte is 'n verontregte. Verder word die eenheid van die kerk en die versoening tussen mense ernstig in gevaar gestel...", asof dit al   -   en hoofsaak   -   is waaroor die Bybel hom uitspreek.

Vir Botha is die "bose" dus hulle wat vashou aan die voortbestaan van minderheidsgroepe en die "goeie" dit wat polêr daarteenoor staan. In onverbloemde Belhartaal lewer Botha hiermee 'n pleidooi vir die horisontale versoening van mense, eerder as die primêr vertikale versoening met God   -   wat hy nêrens eers noem nie   -   deur middel van die subtiele strategie van skuldgevoelwekking.









No comments:

Post a Comment