Tuesday 15 May 2012

Kom ooreen om van mekaar te verskil

P.F. se reaksie op my skrywe het betrekking (DB,15.05). Hy het reeds vier briewe geskryf oor die Afrikaner-ANC-verhouding, gekenmerk deur kritiese verwyte teen Afrikaners vanweë gebrekkige samewerking. Interessant dat sy skrywes, behalwe myne, nog geen ander deelnemende kommentaar kon uitlok nie. My vermoede is dat P.F. een van die mees sensitiewe en verdelende faktore onder Afrikaners aanraak   -   die Afrikaner-ANC-verhouding.

Die deurlopende draad in P.F. se briewe-tapisserie is sy beroep op Afrikaners om hul ongekwalifiseerde steun en samewerking met die ANC, met ingeweefde borduurwerk van verwyte teen diegene wat samewerking weier.

'n Mening is een saak; 'n stelling iets anders. Ek sien graag dat P.F. sy stelling, "Die 'nuwe' Suid-Afrika is onberekenbaar beter as die 'ou' Suid-Afrika   -   ekonomies, staatkundig, polities, globaal en op alle ander lewensterreine" (DB,02.04), toeligtend substansieer aan die hand van stelling-spesifieke kriteria sodat dit duidelik sal blyk dat dit nie 'n uit-die-lug-gegrypte uitlating is nie, maar wel logies-beredeneerd met die inherente potensiaal om ander   -   soos ek   -   tot sy sienswyse te oortuig.

Ek en P.F. verteenwoordig twee onderskeibare Afrikanertipes. As hy die ANC vertrou met die Afrikanertoekoms, is dit sy reg. In dié vertroue deel ek nie. Waarom nie? Die ANC het nog niks gedoen wat my oortuig dat hulle die belange van minderheidsgroepe   -   waaronder Afrikaners en hul toekoms   -   met erns bejeën nie. Wanneer P.F. sê Afrikaners het "...geen toekomsvisie nie..." (DB,09.04), begaan hy 'n denkfout. Daar is nog Afrikaners wat nié deur 'n korrupte ANC ondergeploeg wil word nie. Daar bestaan talle voorbeeldbewyse van die feit dat die ANC die Afrikaner nie langer sy grondwetlike bestaansruimte in ons land gun nie, maar eerder 'n wraaklustige ingesteldheid openbaar.

P.F., ek stel voor dat ons mekaar se standpunte wedersyds respekteer en daarop ooreenkom om van mekaar te verskil. Ons sal mekaar nie oortuig nie.







No comments:

Post a Comment