Wednesday, 30 January 2013

Ontkenning nie kenmerk van ware kerk nie

Met die dalende NG Kerklidmaattal onlangs in die nuus, kom ontkenning   -   in die redesaanvoering vir dié daling   -   duidelik na vore. Ontkenning is een van die jongste simptome waardeur die Christendom vandag gekenmerk word. As Petrus Hom kon verloën (ontken), waarom dan nie ook ons nie?

'n Vreemdeling bekom die reg om op 'n Vrystaatse plattelandse dorpie 'n drankwinkel te open. Dadelik begin Christene met 'n petisie en gebedsaksie daarteen. 'n Week voordat die drankwinkel sou open, word dit tydens 'n storm deur 'n weerligstraal getref en in puin gelê. Die eienaar kla die Christene aan as oorsaak van sy skade. Die landdros besef die dilemma waarin hy hom bevind.  Enersyds is daar die eiser wat onwrikbaar glo dat gebedsverhoring die rede vir sy verlies is, en, andersyds, die Christene wat dit ten sterkste ontken.

Mahatma Gandhi, 'n Hindu, erken Christus as 'n Groot Profeet en sê hy sien nie vir Christus in Sy volgelinge nie. Gandhi is reg; as beelddraers verloën (ontken) ons Sy beeld in ons lewens. Sommige teoloë en kerkleiers ontken vandag die maagdelike geboorte van Jesus, Sy kruisiging, opstanding, hemelvaart en wederkoms. Die meganiese interpretasie van die  Bybel, as Goddelik geïnspireerde Woord, word ontken, maar die organiese interpretasie daarvan, as kultureel-beïnvloede mensewoorde oor God, word aanvaar.

Hierdie ontkenningsindroom in die kerk herinner sterk aan wat Charles H.Spurgeon voorspel het toe hy gesê het: "A time will come when instead of shepherds feeding the sheep, the Church will have clowns entertaining the goats." Ontkenning is nié 'n kenmerk van die ware kerk van Christus nie.            (ngn)




Sunday, 27 January 2013

Verrassings wag op onverwagte plekke

Twee bevriende oupas en oumas neem hul voorskoolse kleinkinders vir swemles. Ons raak aan't gesels oor die eie kinders se kleintyd, hul grootword en dat hulle oorsee 'n heenkome en toekoms gaan soek het. Met beide se oorsese kinders gaan dit, dank die Here, baie goed, soveel so dat hulle ons op hul koste na hulle toe laat vlieg.

En so word die gesprek weldra gevoer oor gemeenskaplike ervaringe rondom vlieg, lughawens, wonderlike geriewe en asemrowende moderne vooruitgang in die lugvaartbedryf. So vertel ek my gespreksgenoot, op my beurt, van my ervaring in 2009 op die Dubaise lughawe. Ek en my vrou sit en wag vir 'n aansluitingsvlug na Heathrow. Oorversigtig soos ons is, is ons geruime tyd voor die vertrektyd by die instaphek. Daar gekom, is daar reeds 'n man en sy vrou. Ons gaan sit, en weldra hoor ons hulle praat Afrikaans   -   altyd opwindend om Afrikaans in die vreemde te hoor.

Goed, beide pare synde Afrikaanssprekend, begin ons gesels. Ter aanvang vra die vrou my: Maar is u nie mnr.Breitenbach nie? Ja, sê ek, heeltemal onkant betrap, en, o gits, wat gaan nou volg? Vanwaar ken sy my en waarvoor onthou sy my? Ek het vir haar op Ugie in Kapaailand (Noordoos-Kaap)   -   42 jaar gelede op daardie tydstip   -   skool gehou toe sy 'n standerd ses-leerling was. Wat 'n heerlike verrassende weersiens was dit nie na soveel jare nie. Meteens is die dorre Dubaiwoestyn, figuurlik gesproke, lowergroen   -   Kapaailand groen. Die les daaruit? Verrassings, verkieslik aangenaam, wag soms op onverwagte plekke, daarvan kan vele mense sekerlik getuig.




Wednesday, 23 January 2013

Hoe antwoord ek dié hipotetiese vraag?

Gedurende die noordelike somer van 2012 kuier ek en my vrou by ons twee seuns in Engeland. Een oggend op pad na sy werk, vergesel ons jongste ons na die British Museum met die reëling dat ons skoondogter ons ná die museumbesoek by Covent Garden sal ontmoet en, in haar etensuur, ons sal vergesel na die Tower of London waar die Britse Kroonjuwele bewaar word.

Tussen dié twee besoeke verpoos ons by 'n opelug kafee by Covent Garden terwyl ons op ons skoondogter wag. Die beskikbare sitplekke is feitlik almal beset, dog by ons tafel nog sitplek vir twee. 'n Hoflike Engelsman vra of hy by ons kon sit  en ons raak aan die gesels. My vrou, verveeld van ons geselskap, gaan luister na die musiek en sang van opelug-kunstenaars daar naby.

Die Engelsman toon groot belangstelling in SA en vra uit na toestande in die land, veral ná die bewindsoorname van die ANC. Dit is duidelik dat hy, as vreemdeling vir my, baie objektief en neutraal staan teenoor die na-1994 ontwikkelinge in SA, dog hy merk betekenisvol op dat hy die nuus volg en die indruk verkry dat dinge in SA nie verloop volgens ANC-voorverkiesingsbeloftes nie, en dat daar sterk aanduidings van geleidelike verval en agteruitgang voorkom. Hieromtrent moes ek hom gelyk gee.

By latere nadenke oor ons gesprek, plaas ek myself in die hipotetiese posisie as sou ek 'n lojale ANC-ondersteuner wees en hy my sou vra waarom ek by herhaling bly stem vir die ANC   -   en só volgehou bydra tot agteruitgang   -   terwyl ek wéét dat dié party nie al die mense van SA se belange dien nie, maar veel eerder dié van die party en sy partyleiers? Hoe beantwoord ek dié hipotetiese vraag?




Monday, 21 January 2013

Skaduwerping oor dié begrippe te betreur

Ek lees die insiggewende artikel, "Volksvreemd!" (DB,19.01), van prof. Pierre de Vos en word getref deur dié begrip   -   met 'n (betekenisvolle?) uitroepteken geskryf   -   en met die gesigte van dr.Verwoerd en pres.Zuma (veelseggend) weerskante daarvan. Hierin hou De Vos die "ernstige bedreiging" wat identiteitspolitiek vir SA inhou, voor. Vir De Vos was die apartheidsbedeling die implementering van identiteitspolitiek, en dit blyk dat Zuma en die ANC in presies dieselfde voetspoor volg.

Indien ek De Vos reg verstaan, word met identiteitspolitiek die bevoordeling en verabsolutering van die eie volk/ras bedoel. Hierin moet De Vos gelyk gegee word dat die neiging van Zuma om die rigting van identiteitspolitiek in te slaan, 'n ernstige bedreiging inhou vir almal wat tot minderheidsgroepe behoort. Ongelukkig maak dit nou die legitieme begrip "volksvreemd" óók verdag.

Vir so lank as wat daar onderskeibare volke bestaan, net so lank sal daar ook volksonderskeidende grense bestaan. So lees ek in Deuteronomium 32:8 : "Toe die Allerhoogste...die mense in volke opgedeel het, het Hy vir hulle hulle grense bepaal." Hieraan het De Vos blykbaar nie veel erg nie, en daarom vind hy die begrip "volksvreemd" ook onaanvaarbaar. Vandag "pas' die begrippe "volk" en "volksvreemd" nie meer in ons samelewing volgens die De Vosdenke nie.

Wanneer De Vos sê dat al wat 'n indiwidu met sy identiteitsgroep in gemeen het   -   'n volk is véél meer as 'n blote identiteitsgroep   -   is óf die onderdrukking óf bevoordeling van sy groep, en "die res is alles 'n kwessie van fopdossery", verskil ek van hom. Sonder kennis van die omvangryke betekenisinhoud van die begrip "volk" is begrip van die konsep "volksvreemd" ook duister. Die skaduwerping oor die begrip "volksvreemd" in dié andersins insiggewende artikel, is daarom te betreur.




Friday, 18 January 2013

Is die skrif reeds aan die NG Kerkmuur?

In "NG Kerk het ál minder lidmate" (DB,17.01), word berig dat dié kerk die afgelope jaar 29 000 lidmate verloor het, die ekwivalent van tien gemeentes, of selfs meer. Dié afname is slegs een van meer verbandhoudende simptome van die teenswoordige NGK-problematiek waarbinne dié sindroom sigself kulminerend in dalende getalle manifesteer. Opvallend is die gebrek aan besorgdheid waarmee dié verlies aanvaar word, wekkende die indruk van "kerksuiwering".

Dit is baie opsigtelik hoedat die NG Kerk homself herposisioneer het ten einde in lyn te kom met die veranderde politieke en staatkundige bedeling. In skrywes soos "NG Kerk keer rug op Afrikanervolk" (DB,06.10.11) en "NG Kerk skuif van volkskerk na nasiekerk" (DB,02.10.12), het ek juis op dié veranderingstendens probeer wys. In vroeëre skrywes soos "NG Kerk volg politieke model" (DB,15.09.07) en "NG Kerk moet politiek laat staan" (DB,01.04.09), het ek probeer aantoon hoedat dié kerk neig om in dieselfde voetspore van die NP te volg wat op sy vernietiging uitgeloop het. Dieselfde kan met dié kerk gebeur.

Met die jongste uitspraak van dr. Kobus Gerber, hoofsekretaris van die NG Kerk, waarin hy sê dat die daling in NGK-lidmaattal "kan onder meer toegeskryf word aan die feit dat die kerk nie meer rassisme duld nie" (RSG-webblad,17.01)   -   sonder enige poging daartoe om sy beskuldigende "rassisme"-stelling te staaf   -   word die buitekerklike beïnvloeding van die nuwe politieke bedeling op dié kerk baie duidelik daarin weerspieël.

Soos die NP voor hom, lyk dit asof die NG Kerk hom ook deur sy nuuutste prioritisering op die fatale roete van uiteindelike selfvernietiging mag bevind, terwyl dit allerlei onoortuigende verskonings voorhou vir die geleidelike doodbloei daarvan. Is die skrif nie reeds geruime tyd al vir dié kerk aan die muur nie?         (ngn)




Wednesday, 16 January 2013

Taal as kritieke versoeningsdeterminant

Verdien ons landstale nie die SA-owerheid en  -burgery se dringende besinning aan die begin van 2013 nie? Menswees sonder taal is haas ondenkbaar. Ons bly noodwendig lewenslank taalgemoeide wesens. Taal is lewe. Dit is dié sleutel wat ons potensiaal ontsluit, en die grondvoorwaarde daarvoor. Taal, denke en bewussynslewe is aaneen geskakel. Alleen deur taal kan ek toenemend 'n "greep" kry op die wêreld waarin ek my bevind, want niemand kan vérder dink of ánders dink as wat sy taal hom toelaat nie.

Daar word geredelik maklik van versoening in SA gepraat, maar het iemand al ooit 'n realistiese roete na dié hersenskimmige  bestemming uitgewerk? Taal is ongetwyfeld een so 'n determinant op dié versoeningsroete. Dit beteken, eerstens, dat alle landsburgers terdeë sal besef wat die unieke doel en waarde van taal is, en dat dit die demokratiese reg van elkeen is om vry te wees om sy potensiaal maksimaal in sy eie taal te kan ontwikkel. Begrip daarvoor, insig daarin en die erkenning daarvan, lei tot respek vir mekaar se tale. Tweedens sal die vergunning van bestaansruimte vir ons tale méér kan bydra tot ons gemeenskaplike ontwikkeling en vooruitgang. Om tale te degradeer tot tweedeklas-tale, lewer géén bydrae tot versoening nie.

Deur middel van 'n grootskaalse nasionale opvoedingsprojek behoort alle landsburgers   -   in 'n veeltalige land soos SA   - tot groter taalbewustheid,  -begrip en  -respek gebring te word vir mekaar se tale as determinant ook tot bemagtiging met die oog op 'n beter toekoms vir almal. Alleen sodanige taalbesef kan 'n noodsaaklike bydrae lewer tot nasionale versoening. Ons tale moet in landsbelang ontwikkel word; nié om ideologiese gewin ver(s)moor word nie.               

Mag 2013 gekenmerk word deur 'n toename in insig dat taal, as kritieke determinant, 'n onmisbare versoeningsrol in ons veeltalige land te speel het.               (ngn)




Friday, 11 January 2013

Relativisme kan nie kerkspanning oplos

Met sy slotartikel, "Dra ander se geloofstaal" (Beeld,07.01), sluit prof. Wilhelm Jordaan sy wekelange debat oor kerkspanning   -   tussen tradisie en vernuwing   -   met "Die gesag van die Bybel" en "Christus se betekenis", as debatstemas, af. Hy noem die twee deelnemende debatspartye "tradisievastes" en "vernuwers".

Vir Jordaan, as uitgesproke "vernuwer", is die Bybel 'n geskrif wat "herinterpretasie vra om aan te sluit by hedendaagse behoeftes...(van) mense met 'n (post)moderne wêreldbeeld" omdat God " 'n ontvouende misterie" is. Hy sê: "Ons weeg, laat weg, voeg by en brei uit op bestaande Bybelgedeeltes" en vind dit "opwindende geloofswerk". Met betrekking tot Christus sê hy dit verg "die bereidwilligheid om saam te leef met teenstrydigheid en dubbelsinnigheid, en met ou tekste se eietydse betekenismoontlikhede...(en) daaruit kom baie soorte toelaatbare antwoorde..." vir die kerk   -   selfs antwoorde wat mekaar weerspreek?

Jordaan noem tradisie en vernuwing twee "geloofstale" in die kontemporêre kerk, en vra dan hoe gemaak "met die verskille én geskille" tussen dié twee "geloofstale". Hy sien die antwoord in wedersydse verdraagsaamheid as "die hart van die  'integriteit van toewyding' " (geloofstoewyding). Beteken dit dat as jy jou nie onvoorwaardelik oorgee (toewy) aan verdraagsaamheid teenoor geloofsverskille nie, dat jou eie "geloofstaal" se integriteit dan bevraagteken kan word?

Jordaan beweer verder: "Terwyl ek ánders as jy dink, dra ek jou geloofstaal saam asof dit myne is." Dit kom beslis voor as onrealistiese wensdenkery. Dit skyn asof verskille in geloofsdenke   -   soos dit uitmond in "geloofstaal"   -   vir hom 'n aangeleentheid van "tese" (ek dink en glo soos wat ek wil), "antitese" (jy dink en glo soos wat jy wil) en "sintese" (onvoorwaardelike verdraagsaamheid teenoor geloofsrelativisme) verteenwoordig. Wil hy daarmee die kerkspanning deur middel van geloofsrelativering oplos? Nee; yster en klei meng nie.                 (ngn)






Wednesday, 9 January 2013

Kan ons die bolliedebat nou maar eindig?

Ag, kan ons nie maar nou so stadigaan die reeds wekelange debat oor hondebollie begin afsluit nie, dog nie my wil nie, maar die wil van die skrywers daaroor   -   en die lesers daarvan   -   geskied. Het die rakleeftyd van dié meningswisseling nie dalk reeds die vervaldatum bereik nie? Ja, ek wéét ek hoef nie alle bollie te lees nie; tog dwing my weetgierigheid my daartoe, en voel ek myself aangeland by 'n stadium waar ek dit nie veel langer sal kan doen sonder 'n paar spuite lugverfrisser om al die bolliereuke te verdryf nie.

Ek is bewus daarvan dat dit hier nie primêr om hondebollie gaan nie, maar wel om botsende belange ten opsigte van mense se opeising van hul regte. Waarom nie 'n oplossing soek en vind deur regte-uitklaring nie, en sodoende voorkom dat Brieweblad 'n volgehoue stortingsterrein vir 'n klomp onwelriekende bollie word? Waarom nie eerder die bollie-fokus verskuif vanaf hondebollie (in persoonlike konteks) na die JZ-bollie van ons dag (in nasionale konteks) en laasgenoemde bollie probeer verdryf, soos 'n Silkaats (Mzilikazi) van ouds, na Bollieland noord van die Limpopo nie?

Terloops, ek is 'n hondeliefhebber wat nie fout te vind het met honde aan 'n leiband, en 'n eienaar met 'n bolliesakkie in die hand, langs die see nie, maar net nie naby baaiers en hul besittings nie. Wat van afgebakende strandgebiede vir honde? (O, gits, nee! Dit herinner aan apartheid.)

(Nie ingesluit by dié skrywe aan die pers nie, die volgende: Dit is opvallend watter reaksie die toelaatbaarheid van honde op strande ("gedra" deur die simboliek van "hondebollie") by mense kan uitlok in kontras met aktuele aangeleenthede van 'n nasionale omvang en belang waaroor dieselfde mense nie standpunt in die pers inneem nie. Waarmee het dit te doen? Is dit 'n kwessie van reaksie slegs op dié dinge wat met my as indiwiduele persoon te doen het, en slegs eiebelang raak soos "my regte" wat te na gekom word, en ongevoelig en apaties staan oor die groter sake van 'n wyer omvang? Is dit 'n weerspieëling van "tonnelvisie" op die breër nasionale landskap? Is dit 'n "venster" op die prioriteite van die kontemporê samelewing wat iets soos "Elkeen vir homself en..." te kenne wil gee? Waaraan moet dit toegeskryf word? Dié "hondebollie-storie" is slegs 'n voorbeeld van meerdere soortgelyke terreine in ons samelewing waarop mense sal reageer, eerder as op gebeure wat ons almal raak.)




Tuesday, 8 January 2013

Substansieer asseblief u beskuldiging

Ek lees dat A.Gouws sê hy/sy is "lankal moeg vir sy (Hannes Slabbert se) gekla en gesanik...(en dat Slabbert) 'n debat met verkeerde feite aan die gang sit wat dan tot groot skade kan lei" (DB,08.01). Ongetwyfeld is Gouws geregtig op 'n mening, maar of sy/haar beskuldiging van "verkeerde feite" teen Slabbert self die "feitetoets" sal slaag, behoort ook ondersoek te word.

Vir my is 'n "feit" net 'n ander woord of benaming vir "waarheid". Wie hom/haar dus oor "waarheid" uitspreek, spreek hom/haar uit in terme van "feite". Eintlik moet ons van "waarheidsfeite" praat, maar dit is   -   wat my betref   -   dan toutologies, soos ook die woord "tortelduif". Wanneer Gouws dus vir Slabbert sê dat hy sy "feite verkeerd" het (verkeerde feite beteken dus sy "feite" is onwaar en sal daarom nie in 'n waarheidstoets kan slaag nie), dan gee hy mos daarmee te kenne dat Slabbert nie met die waarheid omgaan nie, en dan word dit vir my 'n ernstige beskuldiging.

Met die onweerlegbare verband tusen "feit" en "waarheid" (dat 'n "feit" in wese 'n "waarheidstelling" is), moet Gouws dan, asseblief, beginnende by Slabbert maar ook vir ons as lesers, twee dinge duidelik aantoon: eerstens moet hy/sy sê presies wat dié verkeerde "feite" is waarvan hy/sy vir Slabbert van beskuldig en, tweedens, ook duidelik bewys dat Slabbert se "feite" nié "waarheidsfeite" is nie. Sou Gouws in gebreke bly om dit wel te doen, kan sy/haar beskuldiging teen Slabbert as niks meer as 'n sydelingse kuggie in die wind beskou word nie. Gouws, substansieer dus, asseblief, u beskuldiging met die ware "feite".          (ngn)