Monday, 25 May 2015

Skandalige meting met dubbele maatstaf

Ek vind aansluiting by Andries Potgieter (DB,19.05) wat vermoed US-afgedankte dr.Anton Stander word tot waarskuwende voorbeeld gemaak, "dat daar uiterste provokasie was", en dat die US die regering wil beïndruk.

Sedert 1994 verskerp die lank bestaande ideologiese "oorlog" tussen sosialisme-kommunisme en kapitalisme, gekenmerk deur "veldslae" op verskillende nasionale "fronte", ter uitwissing van alle Europese nalatenskap. Die strategiese "offensief" daartoe, is transformasie.

Die Standerinsident demonstreer so 'n "veldslag" op hoëronderwys-"front", aangevoer deur studente-aktivis, Khule Duma. Nie net loop dié "veldslag" vir hom uit op oorwinning oor 'n indiwiduele US-dosent nie, maar ook teen die US self. Verdere Duma-wins is gratis landswye publisiteit wat hy geniet.

In die US-konteks kan Neil Armstrong soos volg nagesê word: een klein treetjie vir die "Open Stellenbosch" transformasiebeweging ("OS"-tb); een groot sprong vir stewiger ANC-magsinvloed binne die US.

Griewe en eise van die "OS-tb" het dit, onder meer, teen 'n vyandige kultuur van wit Afrikanerdom, US-taalbeleid, leë beloftes, uitstel van doelwitte (DB,20.05), US-prospektus misleiding, en dat die hele Stellenbosch "steeds 'n dorp vir wit mense is...waar baie min mense gemaklik voel" (DB,19.05).

Duma, geld presies dieselfde scenario dan nie ook vir wit studente wat aan die Transkeise Universiteit in 'n swart dorp soos Mthatha sou studeer nie? Duma pas, tipies ANC, dubbele maatstawwe toe. Hy en sy beweging sê op arrogante wyse vir die US om te spring, en dié vra: hoe hoog?

Met sy sms het Stander 'n indiwidu inkrimineer, en, was hy 'n ANC-kader, was hy herontplooi; nie afgedank nie. Zuma, daarteenoor, met sy vroeëre rassistiese opmerking oor Van Riebeeck   -   en nou ook weer in "Afrika was goed, tot húlle koms" (DB,25.05)   -   het die ganse wit bevolking inkrimineer. Wat vir 'n skandalige dubbele maatstaf-toepassing.          (ngn)




Tuesday, 19 May 2015

Geïntimideerde kiesers moet bevry word

Vanweë powere dienslewering en herhaalde leë kieserbeloftes, ervaar die ANC toenemend teenstand. Onvoorspelbaarheid en inkonsekwentheid van ANC-beleid, soos sy sielkundig teisterende grondbeleid, bly 'n daaglikse bron van senutergende kommer en onsekerheid vir minderheidsgroepe. Die ANC bied geen veilige toekoms waaraan laasgenoemde hul kinders kan toevertrou nie. Die gevolg is grootskaalse breinerodering van talentvolle jongmense na die buiteland; 'n verlies aan hoogsgeskoolde mannekrag vir ons steierende ekonomie.

Stilswyend goedkeurend het die ANC toegesien hoe historiese beelde aangeval word. Nou, egter, kom ook sy eie openbare beeld onder skoot van die media. Vir beeldbeskerming vind ANC-skadebeheer plaas ten koste van die SA-burgery. Voorbeelde: Vir die behoud van populêre rewolusionêre steun, word Afrikaanssprekendes gestraf deur hul taal in skole en universiteite progressief te vernietig. Gevorderde nasionaal noodsaaklike ondersoeke   -   wat belastingbetalers reeds etlike miljoene Rand kos   -   word, sonder motivering, summier afgelas omdat bevindinge daarvan tot die ontmaskering van die ware ANC-beeld kan lei.

Dit is welbekend dat nie-demokratiese intimidasie 'n beduidende rol speel tydens voorverkiesings- stemwerwing. Bygeloof is so 'n faktor van meerdere intimidasiefaktore wat stemme manipulerend na politieke partye kanaliseer. Kiesers moet hiervan bevry word. Dit kan verkiesingsresultate beïnvloed deurdat kiesers hul steun onbevange kan verskuif vanaf korrupte politieke leiers na dié party(e) met 'n bewese rekord van suksesvolle dienslewering. Die 2016-verkiesingsjaar is die toetsjaar vir kieserbevryding van intimidasie

Wednesday, 13 May 2015

Voorbeeldstelling bevorder naasbestaan

Uit my skrywe (DB,12.05) in reaksie op Corrie van Rooyen se brief (DB,11.05), wil JGJoubert weet "wat het velkleur daarmee uit te waai...(en waarom) wit mans kwansuis 'n voorbeeld vir ander rasse moet wees" (DB,13.05). Ek antwoord Joubert op sy twee besware.

Velkleur, per sé, is nóg oorsaak nóg gevolg van misdaad óf geweld teen vroue. Dit dien egter wel as onontkenbare sosiale "merker" in 'n veelrassige samelewing. Dit onderskei tussen indiwidue behorende tot verskillende kultuurgroepe, en dui ook die mate van groepsaandadigheid aan misdaad, en geweld teen vroue, aan. Statistiese gegewens hieromtrent bestaan wel   -   soos byvoorbeeld hoe die gevangenisbevolking saamgestel is   -    sodat niemand hom aan onbillike veralgemening skuldig hoef te maak nie. Geweld teen vroue is dus "merker"-aanwysbaar.

Ongeag velkleur, is ons almal onderhewig aan dieselfde grondwet, landswette, ordonnansies, regulasies, verkeersreëls en ongeskrewe sosiale gedragsreëls. Beweeg ek saam met die motorverkeer, sien ek diegene wat nie stoptekens gehoorsaam nie; wegtrek voordat die verkeerslig groen word; onwettig oorlaaide voertuie; wat in 'n besige rylaan stilhou en persone op- en aflaai; wat van nêrens opduik en in 'n wagtende banktou indruk. My waarneming sê vir my dat dit nie die "wit gemerktes" is wat hul in hoofsaak hieraan skuldig maak nie.

Iedere lewenskonteks waarin 'n persoon hom of haar bevind, beskik oor   -   dikwels ongeskrewe   -    sosiaal kontekstuele spelreëls van voorskrywende aard, die nakoming waarvan ons almal se veiligheid en belange ten doel het. Vele van dié "spelreëls" het hul oorsprong in die konteks van die "wit gemerktes". Die daarstel van verkeersreëls en dit wat geld by toustaan in 'n bank, is voorbeelde hiervan. My standpunt, Joubert, is daarom dat, siende dat ek by geboorte as "wit gemerk" en die voorbeelde waarna ek verwys uit die konteks van "wit gemerktes" kom, ek dit my plig as wit persoon ag om 'n voorbeeld te stel aan my mede-landsburgers deur self die geskrewe sowel as ongeskrewe sosiaal kontekstuele spelreëls na te kom. Sodoende word, deur voorbeeldstelling, harmonieuse saambestaan bevorder.




Monday, 11 May 2015

Beskuldiging dalk geslagsdiskriminerend

Corrie van Rooyen gaan té ver in haar veralgemenend kritiese beskuldiging teen mans in haar "Dis tyd dat mans die beskawing betree" (DB,11.05). Sy open die deur vir soortgelyke onverantwoorde beskuldigings teen vroue. Dit herinner aan die onprofessionele onderwyser/es wat 'n hele klas straf vir die oortreding van 'n enkeling wat nie geïdentifiseer kan/mag word nie.

Onlangse beriggewing oor die moord op Jayde Panayiotou, en ander moordgevalle, het Van Rooyen blykbaar der mate emosioneel oorspoel dat dit met rasionaliteit plek geruil het. Oor haar aanklag teen mans se onverskoonbare gruweldade teen vroue, stem ons almal   -  met weinig uitsondering   -   met haar saam.

Haar voorbeeld van Carike Keuzenkamp en haar man, Olaus van Zyl, as model man-vrou-verhouding, wek die vermoede dat haar aanklag kom uit die witmanskonteks. Indien 'n korrekte afleiding, sou dit Van Rooyen skuldig kon maak aan rasse-vooroordeel wat haar aanklag teen mans des te meer onaanvaarbaar maak.

Waarom vergewis Van Rooyen haar nie van noodsaaklike statisties feitelike gegewens alvorens sy so 'n ernstige veralgemenende aanklag teen mans maak nie? As 'n wit lid van die manlike geslag, skaam ek my telkens vir wit mans, in die besonder, wat hulle aan geweld teen vrouens skuldig maak. Waarom? Ek sien graag dat juis ons voorbeeldstellend vir die ander diverse ras-  en kultuurgroeperinge in SA sal wees.

Van Rooyen laat na om te wys op moontlike oorsake   -   soos die ideologies-politieke verskuiwing met sy gevolglike mens-  en samelewingsbeskoulike transformasie en die impak daarvan op geweld   -   en hoe dit voorkom kan word. Dit sou nie polities-korrek wees om, wat gruweldade teen vroue betref, huidige geweldsyfers met dié van 21 jaar gelede te vergelyk nie.

Van Rooyen se geslagspesifieke beskuldiging van mans is riskant. Dit kan dalk as geslagsdiskriminasie vertolk word.





Thursday, 7 May 2015

Graduele verskil in Skrifgesagverwerping

Wat het Lategan se brief (DB,05.05) en die berig: "Is die Kerk by 'n kruispad?"(DB,06.05), met mekaar in gemeen? Die antwoord is: Skrifgesag.

Waar Lategan Skrifgesag blatant verwerpend uitdaag, doen kerkleiers presies dieselfde, dog net baie meer subtiel. Lategan sê: "Christelike religieuse vakansiedae...(soos) Paasnaweek en Kersfees...(is) dae wat sprokies gedenk...(en) sulke snert...(is vir) Christene...(wat) altyd in 'n sprokie-god sal glo...(en 'n) wederkoms wat nooit sal gebeur nie."

Hierteenoor sê kerkleiers die volgende: "Ons moet dringend vreemdelinge in die Kerk begin innooi om ons besluite te beïnvloed. Ook dié wat nie glo nie" (soos Lategan?), sê prof.Nelus Niemand, NG Kerk-moderator. Moet "vreemdelinge" en "ongelowiges" dan nie eers vooraf hulself bekeer vóór toetrede tot die kerk, as liggaam van bekeerde gelowiges, nie?

Prof.Piet Naudé beweer: "Die NG Kerk lyk nie soos die res van die land nie", bedoelende daarmee dat dit nie Suid-Afrika se rassesamestelling weerspieël nie. Verder: "Ons lidmate kom uit 'n klein groepie bevoorregte mense in Suid-Afrika", bedoelende om daarmee skuldgevoelens by lidmate te wek. Ook: "Die wêreld verander en sê vir die Kerk: 'Dis nie die boodskap wat ons wil hoor nie' ", suggererend daarmee dat die wêreld (samelewing) die plaasvervangende maatstaf vir die Bybel moet word.

Die kerk is die Liggaam van Christus waarvan Hy die Hoof is. Waarmee ons hierbo te doen het, is dat die Liggaam   -   wat deur die kerkleiers versorg moet word   -  nie bereid is om langer onvoorwaardelik na die Hoof te luister en volgens Sy voorskrifte te handel nie, maar Hom wil voorskryf wat binne Sy Liggaam sal gebeur.

Uiteindelik is die verskil tussen Lategan en die aangehaalde kerkleiers se verwerping van Skrifgesag, bloot gradueel van aard.




Monday, 4 May 2015

Zuma bewys lippediens aan versoening

Net toe dit wil lyk asof die voosgeryde apartheidsperd uiteindelik op stal genadebrood vreet, saal Zuma dit weer op tydens sy Vryheidsdagtoespraak voor duisende by die Uniegebou in Pretoria.

In "SA is siek, sê pres.Jacob Zuma...en die geweld is apartheid se skuld" (netwerk 24.com, 28.04), beweer Zuma: "Suid-Afrikaners, parlementslede ingesluit, is sielkundig siek en kwaad. En dis weens apartheid...(wat 'n) kultuur van geweld...gekweek het (en daarom) verg dit meer entoesiastiese nasiebou-  en genesingspogings van elke sektor van die samelewing."

Ja, mnr.Zuma, ons kan sien hoe kwaad parlementslede is, geoordeel aan hul onlangse vyandige behandeling van die openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, waar hulle   -   om onrusbarende redes   -   hul woede teen haar getoon het (DB,30.04). Die ANC onder Zuma is egter die werklike rede vir SA se "siekte".

Zuma probeer almal opkommandeer tot versoening, behalwe homself. Hy behou homself die reg voor om versoening te saboteer met sy opruiende opmerkings soos hierbo. Dui sy welbekende geleentheidskreet: "Bring my masjiengeweer!", op versoening, of dwarsboming daarvan? Eers wanneer ons van Zuma en die huidige ANC-leierskap bevry is, kan apartheid tot 'n einde kom.Intussen word dit lewendig gehou om, propagandisties, politieke munt daaruit te slaan.

Dit is waarskynlik geen geheim dat Zuma se ampstermyn gekenmerk word deur die swakste leierskap sedert 1994 nie. Hy verskuif, daarom, die blaam vir sy powere staatsmanskap na die apartheidsverlede. Hy druip egter in dié toets om mense van die geloofwaardigheid van sy blaamverskuiwing te oortuig.

Na 21 jaar is dit duidelik dat die ANC,veral in onlangse jare, nie versoening as hoë prioriteit beskou nie, maar eerder   -   ten koste van versoening   -  die voortbestaan van die ANC se magsposisie tot hoogste prioriteit verhef as voorwaarde vir die deurvoering van sy voortgesette rewolusionêre transformasie-agenda. Zuma se vroom praatjies, as rewolusionêre strategie, bewys slegs lippediens aan versoening.