Wednesday 13 May 2015

Voorbeeldstelling bevorder naasbestaan

Uit my skrywe (DB,12.05) in reaksie op Corrie van Rooyen se brief (DB,11.05), wil JGJoubert weet "wat het velkleur daarmee uit te waai...(en waarom) wit mans kwansuis 'n voorbeeld vir ander rasse moet wees" (DB,13.05). Ek antwoord Joubert op sy twee besware.

Velkleur, per sé, is nóg oorsaak nóg gevolg van misdaad óf geweld teen vroue. Dit dien egter wel as onontkenbare sosiale "merker" in 'n veelrassige samelewing. Dit onderskei tussen indiwidue behorende tot verskillende kultuurgroepe, en dui ook die mate van groepsaandadigheid aan misdaad, en geweld teen vroue, aan. Statistiese gegewens hieromtrent bestaan wel   -   soos byvoorbeeld hoe die gevangenisbevolking saamgestel is   -    sodat niemand hom aan onbillike veralgemening skuldig hoef te maak nie. Geweld teen vroue is dus "merker"-aanwysbaar.

Ongeag velkleur, is ons almal onderhewig aan dieselfde grondwet, landswette, ordonnansies, regulasies, verkeersreëls en ongeskrewe sosiale gedragsreëls. Beweeg ek saam met die motorverkeer, sien ek diegene wat nie stoptekens gehoorsaam nie; wegtrek voordat die verkeerslig groen word; onwettig oorlaaide voertuie; wat in 'n besige rylaan stilhou en persone op- en aflaai; wat van nêrens opduik en in 'n wagtende banktou indruk. My waarneming sê vir my dat dit nie die "wit gemerktes" is wat hul in hoofsaak hieraan skuldig maak nie.

Iedere lewenskonteks waarin 'n persoon hom of haar bevind, beskik oor   -   dikwels ongeskrewe   -    sosiaal kontekstuele spelreëls van voorskrywende aard, die nakoming waarvan ons almal se veiligheid en belange ten doel het. Vele van dié "spelreëls" het hul oorsprong in die konteks van die "wit gemerktes". Die daarstel van verkeersreëls en dit wat geld by toustaan in 'n bank, is voorbeelde hiervan. My standpunt, Joubert, is daarom dat, siende dat ek by geboorte as "wit gemerk" en die voorbeelde waarna ek verwys uit die konteks van "wit gemerktes" kom, ek dit my plig as wit persoon ag om 'n voorbeeld te stel aan my mede-landsburgers deur self die geskrewe sowel as ongeskrewe sosiaal kontekstuele spelreëls na te kom. Sodoende word, deur voorbeeldstelling, harmonieuse saambestaan bevorder.




No comments:

Post a Comment