Monday 25 May 2015

Skandalige meting met dubbele maatstaf

Ek vind aansluiting by Andries Potgieter (DB,19.05) wat vermoed US-afgedankte dr.Anton Stander word tot waarskuwende voorbeeld gemaak, "dat daar uiterste provokasie was", en dat die US die regering wil beïndruk.

Sedert 1994 verskerp die lank bestaande ideologiese "oorlog" tussen sosialisme-kommunisme en kapitalisme, gekenmerk deur "veldslae" op verskillende nasionale "fronte", ter uitwissing van alle Europese nalatenskap. Die strategiese "offensief" daartoe, is transformasie.

Die Standerinsident demonstreer so 'n "veldslag" op hoëronderwys-"front", aangevoer deur studente-aktivis, Khule Duma. Nie net loop dié "veldslag" vir hom uit op oorwinning oor 'n indiwiduele US-dosent nie, maar ook teen die US self. Verdere Duma-wins is gratis landswye publisiteit wat hy geniet.

In die US-konteks kan Neil Armstrong soos volg nagesê word: een klein treetjie vir die "Open Stellenbosch" transformasiebeweging ("OS"-tb); een groot sprong vir stewiger ANC-magsinvloed binne die US.

Griewe en eise van die "OS-tb" het dit, onder meer, teen 'n vyandige kultuur van wit Afrikanerdom, US-taalbeleid, leë beloftes, uitstel van doelwitte (DB,20.05), US-prospektus misleiding, en dat die hele Stellenbosch "steeds 'n dorp vir wit mense is...waar baie min mense gemaklik voel" (DB,19.05).

Duma, geld presies dieselfde scenario dan nie ook vir wit studente wat aan die Transkeise Universiteit in 'n swart dorp soos Mthatha sou studeer nie? Duma pas, tipies ANC, dubbele maatstawwe toe. Hy en sy beweging sê op arrogante wyse vir die US om te spring, en dié vra: hoe hoog?

Met sy sms het Stander 'n indiwidu inkrimineer, en, was hy 'n ANC-kader, was hy herontplooi; nie afgedank nie. Zuma, daarteenoor, met sy vroeëre rassistiese opmerking oor Van Riebeeck   -   en nou ook weer in "Afrika was goed, tot húlle koms" (DB,25.05)   -   het die ganse wit bevolking inkrimineer. Wat vir 'n skandalige dubbele maatstaf-toepassing.          (ngn)




1 comment:

  1. Indien ons elke voorbeeld van "dubbele maatstawwe" sou opskryf, sou dit 'n hele stel boeke, soos byvoorbeeld die Encyclopaedia Britannica wees, Tommie!

    ReplyDelete