Monday 4 May 2015

Zuma bewys lippediens aan versoening

Net toe dit wil lyk asof die voosgeryde apartheidsperd uiteindelik op stal genadebrood vreet, saal Zuma dit weer op tydens sy Vryheidsdagtoespraak voor duisende by die Uniegebou in Pretoria.

In "SA is siek, sê pres.Jacob Zuma...en die geweld is apartheid se skuld" (netwerk 24.com, 28.04), beweer Zuma: "Suid-Afrikaners, parlementslede ingesluit, is sielkundig siek en kwaad. En dis weens apartheid...(wat 'n) kultuur van geweld...gekweek het (en daarom) verg dit meer entoesiastiese nasiebou-  en genesingspogings van elke sektor van die samelewing."

Ja, mnr.Zuma, ons kan sien hoe kwaad parlementslede is, geoordeel aan hul onlangse vyandige behandeling van die openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, waar hulle   -   om onrusbarende redes   -   hul woede teen haar getoon het (DB,30.04). Die ANC onder Zuma is egter die werklike rede vir SA se "siekte".

Zuma probeer almal opkommandeer tot versoening, behalwe homself. Hy behou homself die reg voor om versoening te saboteer met sy opruiende opmerkings soos hierbo. Dui sy welbekende geleentheidskreet: "Bring my masjiengeweer!", op versoening, of dwarsboming daarvan? Eers wanneer ons van Zuma en die huidige ANC-leierskap bevry is, kan apartheid tot 'n einde kom.Intussen word dit lewendig gehou om, propagandisties, politieke munt daaruit te slaan.

Dit is waarskynlik geen geheim dat Zuma se ampstermyn gekenmerk word deur die swakste leierskap sedert 1994 nie. Hy verskuif, daarom, die blaam vir sy powere staatsmanskap na die apartheidsverlede. Hy druip egter in dié toets om mense van die geloofwaardigheid van sy blaamverskuiwing te oortuig.

Na 21 jaar is dit duidelik dat die ANC,veral in onlangse jare, nie versoening as hoë prioriteit beskou nie, maar eerder   -   ten koste van versoening   -  die voortbestaan van die ANC se magsposisie tot hoogste prioriteit verhef as voorwaarde vir die deurvoering van sy voortgesette rewolusionêre transformasie-agenda. Zuma se vroom praatjies, as rewolusionêre strategie, bewys slegs lippediens aan versoening.







No comments:

Post a Comment