Monday 11 May 2015

Beskuldiging dalk geslagsdiskriminerend

Corrie van Rooyen gaan té ver in haar veralgemenend kritiese beskuldiging teen mans in haar "Dis tyd dat mans die beskawing betree" (DB,11.05). Sy open die deur vir soortgelyke onverantwoorde beskuldigings teen vroue. Dit herinner aan die onprofessionele onderwyser/es wat 'n hele klas straf vir die oortreding van 'n enkeling wat nie geïdentifiseer kan/mag word nie.

Onlangse beriggewing oor die moord op Jayde Panayiotou, en ander moordgevalle, het Van Rooyen blykbaar der mate emosioneel oorspoel dat dit met rasionaliteit plek geruil het. Oor haar aanklag teen mans se onverskoonbare gruweldade teen vroue, stem ons almal   -  met weinig uitsondering   -   met haar saam.

Haar voorbeeld van Carike Keuzenkamp en haar man, Olaus van Zyl, as model man-vrou-verhouding, wek die vermoede dat haar aanklag kom uit die witmanskonteks. Indien 'n korrekte afleiding, sou dit Van Rooyen skuldig kon maak aan rasse-vooroordeel wat haar aanklag teen mans des te meer onaanvaarbaar maak.

Waarom vergewis Van Rooyen haar nie van noodsaaklike statisties feitelike gegewens alvorens sy so 'n ernstige veralgemenende aanklag teen mans maak nie? As 'n wit lid van die manlike geslag, skaam ek my telkens vir wit mans, in die besonder, wat hulle aan geweld teen vrouens skuldig maak. Waarom? Ek sien graag dat juis ons voorbeeldstellend vir die ander diverse ras-  en kultuurgroeperinge in SA sal wees.

Van Rooyen laat na om te wys op moontlike oorsake   -   soos die ideologies-politieke verskuiwing met sy gevolglike mens-  en samelewingsbeskoulike transformasie en die impak daarvan op geweld   -   en hoe dit voorkom kan word. Dit sou nie polities-korrek wees om, wat gruweldade teen vroue betref, huidige geweldsyfers met dié van 21 jaar gelede te vergelyk nie.

Van Rooyen se geslagspesifieke beskuldiging van mans is riskant. Dit kan dalk as geslagsdiskriminasie vertolk word.





No comments:

Post a Comment