Thursday 7 May 2015

Graduele verskil in Skrifgesagverwerping

Wat het Lategan se brief (DB,05.05) en die berig: "Is die Kerk by 'n kruispad?"(DB,06.05), met mekaar in gemeen? Die antwoord is: Skrifgesag.

Waar Lategan Skrifgesag blatant verwerpend uitdaag, doen kerkleiers presies dieselfde, dog net baie meer subtiel. Lategan sê: "Christelike religieuse vakansiedae...(soos) Paasnaweek en Kersfees...(is) dae wat sprokies gedenk...(en) sulke snert...(is vir) Christene...(wat) altyd in 'n sprokie-god sal glo...(en 'n) wederkoms wat nooit sal gebeur nie."

Hierteenoor sê kerkleiers die volgende: "Ons moet dringend vreemdelinge in die Kerk begin innooi om ons besluite te beïnvloed. Ook dié wat nie glo nie" (soos Lategan?), sê prof.Nelus Niemand, NG Kerk-moderator. Moet "vreemdelinge" en "ongelowiges" dan nie eers vooraf hulself bekeer vóór toetrede tot die kerk, as liggaam van bekeerde gelowiges, nie?

Prof.Piet Naudé beweer: "Die NG Kerk lyk nie soos die res van die land nie", bedoelende daarmee dat dit nie Suid-Afrika se rassesamestelling weerspieël nie. Verder: "Ons lidmate kom uit 'n klein groepie bevoorregte mense in Suid-Afrika", bedoelende om daarmee skuldgevoelens by lidmate te wek. Ook: "Die wêreld verander en sê vir die Kerk: 'Dis nie die boodskap wat ons wil hoor nie' ", suggererend daarmee dat die wêreld (samelewing) die plaasvervangende maatstaf vir die Bybel moet word.

Die kerk is die Liggaam van Christus waarvan Hy die Hoof is. Waarmee ons hierbo te doen het, is dat die Liggaam   -   wat deur die kerkleiers versorg moet word   -  nie bereid is om langer onvoorwaardelik na die Hoof te luister en volgens Sy voorskrifte te handel nie, maar Hom wil voorskryf wat binne Sy Liggaam sal gebeur.

Uiteindelik is die verskil tussen Lategan en die aangehaalde kerkleiers se verwerping van Skrifgesag, bloot gradueel van aard.




1 comment:

  1. Baie sinvolle plasing Tommie! Maar wat kan mens anders verwag, as die moderator self meer belangstel in voorbeelde uit "Pirates of the Carribean" as uit die Bybel!!

    ReplyDelete