Saturday, 31 January 2009

GRA-insig bly relevant en aktueel

Dat die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA)   -   gestig op 14 Augustus 1875   -   destyds al wit Afrikaners, binne taalkonteks, tipologies van mekaar onderskei het, is besonder insiggewend.

Die GRA-doel was  "Om te staan vir ons Taal, ons Nasie (volk) en ons Land", drie duidelik rigtinggewende norme vir Afrikaner-wees. Die GRA-manifes meld : "Daar is drie soorte Afrikaners. Daar is Afrikaners met Engelse hart. En daar is Afrikaners met Hollandse harte. En dan is daar Afrikaners met Afrikaanse harte. Die laaste noem ons regte Afrikaners."

Dit verduidelik die  "R"  in GRA wat verwys na 'n bepaalde tipe Afrikaner van wie gesê word : "Almal was nie ewe geleerd of belangrik nie, maar hul hart het reg geklop vir hul volk."  Wát 'n getuigskrif! Met die uitklaring van die  "R"  in die historiese GRA, wonder 'n mens of dit (die  "R" ) nog van enige hede-  of toekomsrelevansie vir die Afrikanervolk is.

Soos wat die GRA in staat was om Afrikanertipes binne taalkonteks te identifiseer, net so kan ons dit vandag ook nog doen, en dit binne 'n veel groter, diverse en komplekse nasionale kontekste-spektrum. Met die kennis en hulpmiddele waaroor óns vandag beskik, sou 'n matrys saamgestel kon word bestaande uit verskillende Afrikanertipes binne 'n kontekste-verskeidenheid waaruit afleidings prognosties met betrekking tot die toekoms van wit Afrikaners gemaak sou kon word ; derhalwe tegelyk 'n navorsingsuitdaging.

Kontekste waarbinne 'n veelvoud van Afrikanertipes aangetref word, is dié van die Afrikaanse taal, die onderwys en kerklike en politieke lewe. Dit bly 'n kenmerk van ons ondermaans-menslike bestaan om ook as volkse ("regte") Afrikaners mekaar op te soek en 'n onderlinge solidariteit met mekaar te vestig.

Wat 'n voorreg is dit nie om met  "ewe-tipe"  Afrikaners te identifiseer en te assosieer nie. Dié GRA-insig is ongetwyfeld relevant én aktueel, ook vir óns geslag Afrikaners.

Friday, 30 January 2009

Christenjeug vra : Wát moet ons glo?

In sy artikel,  "Die man wat die natuur herbeskou het" (DB,24.01.2009), stook Jurie van den Heever andermaal die evolusievuur. Dié man was die graaf van Buffon,  "een van Charles Darwin se belangrikste voorgangers", en 'n vriend van Voltaire, iemand wat 'n skrikwekkende met-angs-gevulde, van God-verlate sterfbed beleef het vanweë sy verwerping van God.

Van den Heever sê : "Destyds is sulke (Buffon se) uitlatings as kettery beskou, aangesien die Bybel slegs na 'n enkele skeppingsweek verwys", dog hy het sy oortuigings vermommend versteek met  "sy briljante skryfstyl (waarmee) hy sy vermeende ketterse oortuigings so goed in die teks kon verbloem."

Wetenskaplikheid word altyd gekenmerk deur 'n  "geloofsverbintenis"  in dié sin dat dit wat die wetenskaplike glo, vir hom wáár (geloof-"waar"-dig) moet wees. Wetenskaplike kennis moet gegló kan word ; móét dus waarheids-  en geloofwaardige kennis wees.

Die wetenskaplike wat glo in sy teorie, is dus tegelyk ook 'n "egte gelowige". Dit geld ook vir die evolusie-teorie met sy eie intra-paradigmatiese  "geloofsbagasie".

Edwin Muir het gesê :  "Teach me, teach me to believe, for to believe is to be."  Hierop antwoord ons verwarde Christenjeug :  "Maar wát moet ons glo : die Bybelse leer, of die evolusieleer?"

Jesus het gesê : "Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met 'n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink." (Matteus 18:6)

Ouers, onderwysers én predikante moet hiervan ernstig kennis neem ; ook van Paulus se waarskuwing in Kolossense 2:8 : "Pasop dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie."

Tuesday, 27 January 2009

Gratis brood met armes gedeel

Omdat ons gebruik gemaak het van Die Burger se brood-aanbod verlede jaar, was ons huis se broodblik een van die gelukkiges   -   nee, geseëndes   -   wat vir die periode Oktober tot Desember daagliks gevul is met 'n gratis Sasko-brood van eie keuse by 'n Spar-winkel deur 'n Die Burger-koepon daarvoor in te ruil.

Twee mense kan onmoontlik ses brode per week verbruik. Dit het derhalwe die geleentheid geskep om uitvoering te gee   -   so glo ek   -   aan een van Die Burger se versweë oogmerke met dié brood-aanbod, naamlik om 'n groter bewustheid, en ook geleentheid, te skep vir die kwistige deel daarvan met minderbevoorregtes.

Dit het my herinner aan die digter I.D. du Plessis se gediggie, Kaalvoet-klonkie, waarin hy sê :  "Miskien kon jy Bismillah sê vanmôre, omdat in die kas wat dae lank so leeg moet bly, daar weer 'n broodjie was."

Dié brood is immers gratis ontvang en dit leen sigself ideaal daartoe om dit met behoeftiges te kon deel. So kon ons huis-  en tuinhulp, 'n behoeftige weduwee, straatkinders en die eie kinders ruimskoots in dié broodvreugde deel.

Rondom Kersfees het dié gratis brood ons ook herinner aan die Brood van die Lewe wat in Betlehem   -   wat broodmandjie beteken   -   uit die hemel aan ons gegee is. Ook dié Lewensbrood, gebreek vir ons om ons geestelike honger na redding te versadig, het ons gratis ontvang, en moet ons daarom oorvloediglik met ander deel.

Ontvang dus hiermee   -   doelbewus ietwat uitgestel   -  ons broodnodige dankie aan Die Burger om in 'n unieke geleentheid te kon deel waardeur nie net groot vreugde verskaf is nie, maar onsself ook daardeur verryk kon word.

Tuesday, 20 January 2009

Groter agting vir ons taal gevra

"O, dônner...maar wragtag..." (BY, 17.01.2009) en  "'n Boerbok bly 'n bliksem...'n beneukte boerboek." (DB,17.01.2009).

'n Mens hoef geen taalpuris te wees om te weet dat die aangehaalde gedeeltes nié aan goeie openbare taalsmaak voldoen nie. Kru taal is 'n vorm van geestelike intimidasie en/of aggressie ; 'n aantasting van menswaardigheid, en was nog nooit 'n kenmerk van 'n verfynde karakter nie.

Taalgebruik weerspieël my agting vir my taal en ook vir diegene op wie ek my rig in my taaluiting. Vir my reflekteer taalpeil iets van die beskawingspeil van mense ; daarom kan krutaal nooit 'n norm vir 'n beskaafde taalgemeenskap wees nie.

Ons land en sy mense benodig opheffing, wat taalopheffing insluit. Dit impliseer taalverheffing tot beskaafde taalgebruik ; 'n dinamiese  "opwaartse beweging"  van taalaanwending. Dit veronderstel 'n waardegedrewe taalgebruik soos deur algemene waardes, maar ook taalwaardes gerig.

Kru taal val nie lekker op die oor (en oog) nie, daarom stoot swak taalsmaak mense af, en betaal die koerantleser teensinnig daarvoor. In Van Alle Kante (DB,15.01.2009) sê Jason Lloyd,  "Taal kan reggemaak word ; of jy dit nou verkeerd spel of praat."

Wanneer word die punt egter bereik   -   en wié bepaal dit   -   dat Afrikaans 'n  "regmaak"  nodig het?  "Regmaak"  impliseer 'n norm waarvan daar afgewyk is. Wat is   -   en wié bepaal   -   sodanige norm?

Lloyd sê :  "...jy moet die verskillende vorme van register kan bemeester ; veral dié van jou moedertaal."  Ek vertrou kru taal is nie een van die  "registers"  van Afrikaans nie. Kom ons toon 'n groter agting in ons omgang met Afrikaans.

Monday, 19 January 2009

Is dít waarvoor ons seuns moes sterf?

In die voorwoord tot Leandré Hanekom se boekie, Kinderhelde van die Vrystaat, pleit Gehard J.Beukes (bekende dramaturg?) in 1988 dat dié verhale van veel groter waarde vir ons kinders is as  "die uitlandse kamma-stories wat vandag ons televisieskerms tot vervelens toe vul."  Twintig jaar later blyk dit dat Beukes reg was ; volwasse Afrikaners ken nie meer hul volksverlede nie.

Hoewel nie van die Vrystaat nie, word in die laaste hoofstuk van dié boekie die verhaal van onder-korporaal Melvin Benecke se grensdood op 6 September 1987 deur luitenant H.Steenkamp beskryf. Met gemengde gevoelens het ek dié relaas van gebeure gelees : met trots én hartseer ; met dankbaarheid dat dié verhaal gepubliseer is, maar ook gelaat met onbeantwoorde vrae.

As maar één van sy oud-onderwysers aan die Hoërskool Brandwag op Uitenhage, het ek vir Melvin geken as een van my oud-leerlinge, soos wat ek ook vir Michael Loubser, Avril Jewaskewietz en Johannes Bruwer as my oud-leerlinge geken het, leerlinge van dieselfde skool wat óók tydens grensdiens gesneuwel het.

En nou die vraag in die lig van die bedenklik-agteruitgaande lot van ons Afrikanermense : Waarvoor het dié pragtige jong seuns, en ander sóós hulle, hul lewe moes opoffer? Terwyl die vroeëre Suid-Afrikaanse Weermag die kommunistiese Rusland en Kuba suksesvol buite ons landsgrense kon hou, het die liberale Trojaanse perd   -  bloedbroer van die kommunisme   -   die oorgawe-toneel binnelands voorberei. Is dít waarvoor ons seuns moes sterf?

As die feniks wat uit die apartheidsas verrys het, onderskryf die ANC-beheerde parlement 'n beleid van  "stille diplomasie" jeens die ZANU-PF-regeringsmonster, Robert Mugabe, en word hy (die ANC) só aandadig aan die moord op duisende Zimbabwiese burgers. Is dít waarvoor ons seuns moes sterf?

'n Deelnemer aan die voor-verkiesingsdebat op TV2 (Sondagaand, 11.01.2009) het gesê misdadigers hoort in die tronk en nié in die parlement nie. Is dít waarvoor ons seuns moes sterf?

Friday, 9 January 2009

Afrikaners, vergeef en vergeet Suzman

Soos so dikwels die geval met gestorwenes, word hul lof nadoods besing op 'n skaal wat strek vanaf enigiets tussen die eerste en die spreekwoordelike sewende hemel. Die lof wat Helen Suzman ontvang, val in laasgenoemde kategorie.

Suzman se anti-Afrikaner politieke ambisie is vervul met die ANC-bewindsoorname in 1994. Hieruit vloei die wesenlike vraag voort of al dié lofprysinge op die lange duur gaan opweeg teen haar nalatenskap as medewerker tot die daarstelling van 'n korrupte ANC-bedeling.

In Forum (DB,07.01.2009) sê Rhoda Kadalie, Suzman was  "...'n voorbeeld vir dié wat nou die gange van die parlement bevuil en na hul eie, dekadente belange omsien."  Na wie anders as die ANC verwys Kadalie hier in onvleiende taal?  En het Suzman nie die ANC omhels nie? Maak dit nie Suzman se nalatenskap  "skrikwekkend"  van aard nie? Ek leen die begrip  "skrikwekkend"  juis by Kadalie wat sê Suzman het in die vorige bedeling  "...te staan gekom teen mans wat onder die skrikwekkendste van alle politici ter wêreld voorgekom het." (Kadalie se stelling.)

Suzman self sou egter  "...die gebrek aan ware parlementêre debatvoering sedert 1994 betreur en (het) gepraat oor hoe die speaker   -   ironies, in die apartheidsparlement   -  haar reg om oor enige saak te praat, verdedig het."

Suzman was 'n kortsigtige idealis wat nie die Afrika-realiteit van die toekoms, realisties kon antisipeer en/of realistiese insig daaromtrent gehad het nie. Deur sy revolusionêre tonnelvisie-bril sien die liberalis net die  bon savage  raak. Afrika-"demokrasie"  is nié Europese demokrasie nie. Suzman het haar misgis, en bloot een hegemonie vir 'n ander verruil.

Ek gun Suzman-ondersteuners hul heldeverering vir haar. As Afrikaners kan ons opnuut kennis neem van haar onverskrokke veggees, maar ons eie veggees egter realisties kanaliseer. Afrikaners, vergewe en vergeet haar.

Wednesday, 7 January 2009

Lê volkstoekoms by Afrikanervrou?

Max du Preez fouteer wanneer hy beweer : "Die verlede is bevolk deur ménse, nie deur groepe nie." (DB,28.11.2008). Dié bewering ontken die historiese verbondenheid van individue tot groepe, want dit pas die opportunistiese nivelleringsdenke van ons dag.

My totale geakkumuleerde bewussynslewe, aangaande my allesomvattende menswees, sê vir my dat ek oor sowel 'n persoonlike as 'n behorenheids-  en groepsidentiteit beskik. Dit geld, universeel, elke ander mens.

Sommige individueel-georiënteerde Suid-Afrikaners mag dalk Max se stelling sluk, maar beslis nie Afrikanervolksgenote nie. Laasgenoemde het juis tot 'n onderskeibare volk ontwikkel vanuit hoofsaaklik drie Europese volke :  Nederlanders, Franse en Duitsers.

Hulle wat stilweg sekerlik die grootste rol in ons volkswording gespeel het   -   en nie altyd erkenning daarvoor ontvang het nie   -   is ons historiese Afrikanervroue en  -moeders. Van húlle sê die historikus, dr. A.P. van Rensburg, in sy boek,  Moeders van ons volk ,  "Die Afrikanervrou is uit dieselfde staal gevorm as haar stoere voorsate...soos Kenau Hesselaer, aanvoerder van  300  gewapende vroue wat (saam) met die mans geveg het om Haarlem te verdedig (teen Spanje)."

Hoofkenmerke van die historiese Afrikanervrou   -   tegelyk ook nasiebouvereistes   -   was haar Christelike geloof, selfopoffering, volharding, idealisme en volksliefde ; aangevul deur die vrome en beginselvaste Hugenotevroue, asook Duitse vernuf en deeglikheid.

Van Rensburg sê : "Die Afrikanervrou se invloed is verreikend...in ons volkswording, ook omdat sy die sterkste en suiwerste gevoelens omtrent ras-suiwerheid gehad het...(en) innerlik rein, was hulle in staat om heldedade te verrig."

Van hulle het sir George Grey in Engeland gesê : "...ek kan eerlik getuig dat ek geen volk ontmoet het wat ryker in deug en moed as die Afrikanervrou is nie."

Kom ons gee voortaan die nodige erkenning aan dié pioniersvroue, en, Afrikanervroue en  -dogters, volg in die voetspore van jul voorgangers ter wille van ons volkstoekoms.