Friday 30 January 2009

Christenjeug vra : Wát moet ons glo?

In sy artikel,  "Die man wat die natuur herbeskou het" (DB,24.01.2009), stook Jurie van den Heever andermaal die evolusievuur. Dié man was die graaf van Buffon,  "een van Charles Darwin se belangrikste voorgangers", en 'n vriend van Voltaire, iemand wat 'n skrikwekkende met-angs-gevulde, van God-verlate sterfbed beleef het vanweë sy verwerping van God.

Van den Heever sê : "Destyds is sulke (Buffon se) uitlatings as kettery beskou, aangesien die Bybel slegs na 'n enkele skeppingsweek verwys", dog hy het sy oortuigings vermommend versteek met  "sy briljante skryfstyl (waarmee) hy sy vermeende ketterse oortuigings so goed in die teks kon verbloem."

Wetenskaplikheid word altyd gekenmerk deur 'n  "geloofsverbintenis"  in dié sin dat dit wat die wetenskaplike glo, vir hom wáár (geloof-"waar"-dig) moet wees. Wetenskaplike kennis moet gegló kan word ; móét dus waarheids-  en geloofwaardige kennis wees.

Die wetenskaplike wat glo in sy teorie, is dus tegelyk ook 'n "egte gelowige". Dit geld ook vir die evolusie-teorie met sy eie intra-paradigmatiese  "geloofsbagasie".

Edwin Muir het gesê :  "Teach me, teach me to believe, for to believe is to be."  Hierop antwoord ons verwarde Christenjeug :  "Maar wát moet ons glo : die Bybelse leer, of die evolusieleer?"

Jesus het gesê : "Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met 'n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink." (Matteus 18:6)

Ouers, onderwysers én predikante moet hiervan ernstig kennis neem ; ook van Paulus se waarskuwing in Kolossense 2:8 : "Pasop dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie."

No comments:

Post a Comment