Soos so dikwels die geval met gestorwenes, word hul lof nadoods besing op 'n skaal wat strek vanaf enigiets tussen die eerste en die spreekwoordelike sewende hemel. Die lof wat Helen Suzman ontvang, val in laasgenoemde kategorie.
Suzman se anti-Afrikaner politieke ambisie is vervul met die ANC-bewindsoorname in 1994. Hieruit vloei die wesenlike vraag voort of al dié lofprysinge op die lange duur gaan opweeg teen haar nalatenskap as medewerker tot die daarstelling van 'n korrupte ANC-bedeling.
In Forum (DB,07.01.2009) sê Rhoda Kadalie, Suzman was "...'n voorbeeld vir dié wat nou die gange van die parlement bevuil en na hul eie, dekadente belange omsien." Na wie anders as die ANC verwys Kadalie hier in onvleiende taal? En het Suzman nie die ANC omhels nie? Maak dit nie Suzman se nalatenskap "skrikwekkend" van aard nie? Ek leen die begrip "skrikwekkend" juis by Kadalie wat sê Suzman het in die vorige bedeling "...te staan gekom teen mans wat onder die skrikwekkendste van alle politici ter wêreld voorgekom het." (Kadalie se stelling.)
Suzman self sou egter "...die gebrek aan ware parlementêre debatvoering sedert 1994 betreur en (het) gepraat oor hoe die speaker - ironies, in die apartheidsparlement - haar reg om oor enige saak te praat, verdedig het."
Suzman was 'n kortsigtige idealis wat nie die Afrika-realiteit van die toekoms, realisties kon antisipeer en/of realistiese insig daaromtrent gehad het nie. Deur sy revolusionêre tonnelvisie-bril sien die liberalis net die bon savage raak. Afrika-"demokrasie" is nié Europese demokrasie nie. Suzman het haar misgis, en bloot een hegemonie vir 'n ander verruil.
Ek gun Suzman-ondersteuners hul heldeverering vir haar. As Afrikaners kan ons opnuut kennis neem van haar onverskrokke veggees, maar ons eie veggees egter realisties kanaliseer. Afrikaners, vergewe en vergeet haar.
No comments:
Post a Comment