Tuesday 27 January 2009

Gratis brood met armes gedeel

Omdat ons gebruik gemaak het van Die Burger se brood-aanbod verlede jaar, was ons huis se broodblik een van die gelukkiges   -   nee, geseëndes   -   wat vir die periode Oktober tot Desember daagliks gevul is met 'n gratis Sasko-brood van eie keuse by 'n Spar-winkel deur 'n Die Burger-koepon daarvoor in te ruil.

Twee mense kan onmoontlik ses brode per week verbruik. Dit het derhalwe die geleentheid geskep om uitvoering te gee   -   so glo ek   -   aan een van Die Burger se versweë oogmerke met dié brood-aanbod, naamlik om 'n groter bewustheid, en ook geleentheid, te skep vir die kwistige deel daarvan met minderbevoorregtes.

Dit het my herinner aan die digter I.D. du Plessis se gediggie, Kaalvoet-klonkie, waarin hy sê :  "Miskien kon jy Bismillah sê vanmôre, omdat in die kas wat dae lank so leeg moet bly, daar weer 'n broodjie was."

Dié brood is immers gratis ontvang en dit leen sigself ideaal daartoe om dit met behoeftiges te kon deel. So kon ons huis-  en tuinhulp, 'n behoeftige weduwee, straatkinders en die eie kinders ruimskoots in dié broodvreugde deel.

Rondom Kersfees het dié gratis brood ons ook herinner aan die Brood van die Lewe wat in Betlehem   -   wat broodmandjie beteken   -   uit die hemel aan ons gegee is. Ook dié Lewensbrood, gebreek vir ons om ons geestelike honger na redding te versadig, het ons gratis ontvang, en moet ons daarom oorvloediglik met ander deel.

Ontvang dus hiermee   -   doelbewus ietwat uitgestel   -  ons broodnodige dankie aan Die Burger om in 'n unieke geleentheid te kon deel waardeur nie net groot vreugde verskaf is nie, maar onsself ook daardeur verryk kon word.

No comments:

Post a Comment