"O, dônner...maar wragtag..." (BY, 17.01.2009) en "'n Boerbok bly 'n bliksem...'n beneukte boerboek." (DB,17.01.2009).
'n Mens hoef geen taalpuris te wees om te weet dat die aangehaalde gedeeltes nié aan goeie openbare taalsmaak voldoen nie. Kru taal is 'n vorm van geestelike intimidasie en/of aggressie ; 'n aantasting van menswaardigheid, en was nog nooit 'n kenmerk van 'n verfynde karakter nie.
Taalgebruik weerspieël my agting vir my taal en ook vir diegene op wie ek my rig in my taaluiting. Vir my reflekteer taalpeil iets van die beskawingspeil van mense ; daarom kan krutaal nooit 'n norm vir 'n beskaafde taalgemeenskap wees nie.
Ons land en sy mense benodig opheffing, wat taalopheffing insluit. Dit impliseer taalverheffing tot beskaafde taalgebruik ; 'n dinamiese "opwaartse beweging" van taalaanwending. Dit veronderstel 'n waardegedrewe taalgebruik soos deur algemene waardes, maar ook taalwaardes gerig.
Kru taal val nie lekker op die oor (en oog) nie, daarom stoot swak taalsmaak mense af, en betaal die koerantleser teensinnig daarvoor. In Van Alle Kante (DB,15.01.2009) sê Jason Lloyd, "Taal kan reggemaak word ; of jy dit nou verkeerd spel of praat."
Wanneer word die punt egter bereik - en wié bepaal dit - dat Afrikaans 'n "regmaak" nodig het? "Regmaak" impliseer 'n norm waarvan daar afgewyk is. Wat is - en wié bepaal - sodanige norm?
Lloyd sê : "...jy moet die verskillende vorme van register kan bemeester ; veral dié van jou moedertaal." Ek vertrou kru taal is nie een van die "registers" van Afrikaans nie. Kom ons toon 'n groter agting in ons omgang met Afrikaans.
No comments:
Post a Comment