Monday, 19 January 2009

Is dít waarvoor ons seuns moes sterf?

In die voorwoord tot Leandré Hanekom se boekie, Kinderhelde van die Vrystaat, pleit Gehard J.Beukes (bekende dramaturg?) in 1988 dat dié verhale van veel groter waarde vir ons kinders is as  "die uitlandse kamma-stories wat vandag ons televisieskerms tot vervelens toe vul."  Twintig jaar later blyk dit dat Beukes reg was ; volwasse Afrikaners ken nie meer hul volksverlede nie.

Hoewel nie van die Vrystaat nie, word in die laaste hoofstuk van dié boekie die verhaal van onder-korporaal Melvin Benecke se grensdood op 6 September 1987 deur luitenant H.Steenkamp beskryf. Met gemengde gevoelens het ek dié relaas van gebeure gelees : met trots én hartseer ; met dankbaarheid dat dié verhaal gepubliseer is, maar ook gelaat met onbeantwoorde vrae.

As maar één van sy oud-onderwysers aan die Hoërskool Brandwag op Uitenhage, het ek vir Melvin geken as een van my oud-leerlinge, soos wat ek ook vir Michael Loubser, Avril Jewaskewietz en Johannes Bruwer as my oud-leerlinge geken het, leerlinge van dieselfde skool wat óók tydens grensdiens gesneuwel het.

En nou die vraag in die lig van die bedenklik-agteruitgaande lot van ons Afrikanermense : Waarvoor het dié pragtige jong seuns, en ander sóós hulle, hul lewe moes opoffer? Terwyl die vroeëre Suid-Afrikaanse Weermag die kommunistiese Rusland en Kuba suksesvol buite ons landsgrense kon hou, het die liberale Trojaanse perd   -  bloedbroer van die kommunisme   -   die oorgawe-toneel binnelands voorberei. Is dít waarvoor ons seuns moes sterf?

As die feniks wat uit die apartheidsas verrys het, onderskryf die ANC-beheerde parlement 'n beleid van  "stille diplomasie" jeens die ZANU-PF-regeringsmonster, Robert Mugabe, en word hy (die ANC) só aandadig aan die moord op duisende Zimbabwiese burgers. Is dít waarvoor ons seuns moes sterf?

'n Deelnemer aan die voor-verkiesingsdebat op TV2 (Sondagaand, 11.01.2009) het gesê misdadigers hoort in die tronk en nié in die parlement nie. Is dít waarvoor ons seuns moes sterf?

1 comment:

  1. Ek en Melvin was saam tot in matriek aan die Hoerskool Brandwag, ek het hom geken! Ek het jare na sy dood eers daarvan verneem. En my hart is vandag nog seer! Dit alles so verniet!

    ReplyDelete