Saturday 31 January 2009

GRA-insig bly relevant en aktueel

Dat die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA)   -   gestig op 14 Augustus 1875   -   destyds al wit Afrikaners, binne taalkonteks, tipologies van mekaar onderskei het, is besonder insiggewend.

Die GRA-doel was  "Om te staan vir ons Taal, ons Nasie (volk) en ons Land", drie duidelik rigtinggewende norme vir Afrikaner-wees. Die GRA-manifes meld : "Daar is drie soorte Afrikaners. Daar is Afrikaners met Engelse hart. En daar is Afrikaners met Hollandse harte. En dan is daar Afrikaners met Afrikaanse harte. Die laaste noem ons regte Afrikaners."

Dit verduidelik die  "R"  in GRA wat verwys na 'n bepaalde tipe Afrikaner van wie gesê word : "Almal was nie ewe geleerd of belangrik nie, maar hul hart het reg geklop vir hul volk."  Wát 'n getuigskrif! Met die uitklaring van die  "R"  in die historiese GRA, wonder 'n mens of dit (die  "R" ) nog van enige hede-  of toekomsrelevansie vir die Afrikanervolk is.

Soos wat die GRA in staat was om Afrikanertipes binne taalkonteks te identifiseer, net so kan ons dit vandag ook nog doen, en dit binne 'n veel groter, diverse en komplekse nasionale kontekste-spektrum. Met die kennis en hulpmiddele waaroor óns vandag beskik, sou 'n matrys saamgestel kon word bestaande uit verskillende Afrikanertipes binne 'n kontekste-verskeidenheid waaruit afleidings prognosties met betrekking tot die toekoms van wit Afrikaners gemaak sou kon word ; derhalwe tegelyk 'n navorsingsuitdaging.

Kontekste waarbinne 'n veelvoud van Afrikanertipes aangetref word, is dié van die Afrikaanse taal, die onderwys en kerklike en politieke lewe. Dit bly 'n kenmerk van ons ondermaans-menslike bestaan om ook as volkse ("regte") Afrikaners mekaar op te soek en 'n onderlinge solidariteit met mekaar te vestig.

Wat 'n voorreg is dit nie om met  "ewe-tipe"  Afrikaners te identifiseer en te assosieer nie. Dié GRA-insig is ongetwyfeld relevant én aktueel, ook vir óns geslag Afrikaners.

No comments:

Post a Comment