Om oor die rassegrens te soen of nie, is opnuut die vraag. Die slinkse ANC-SABC benut tans op meesterlike wyse die hewige reaksie van 1985 wat die Sandra Prinsloo/John Kani-soen by wittes uitgelok het en waaromtrent Kani soos volg, korrek, opgemerk het: "...dit is nie my mense wat 'n probleem gaan hê nie. Dis haar mense" (DB,26.03).
Die subtiele invloed en beheer van die ANC-SABC oor die inhoud en rigting wat 7de Laan in die jongste tyd inslaan, word onmiskenbaar duidelik vir eie bevoordelende propagandadoeleindes aangewend. Antisiperende 'n soortgelyke reaksie by wittes as dié van 1985, word die Bernard/Nandi-soen (DB,30.03) aangewend vir geen ander doel as om daarmee in die openbaar onomwonde te probeer bewys dat wittes rassisties is nie.
In 'n verdere beklemtoning van die wit rassisme-aanklag, én met die doel om wittes onderling te probeer verdeel, beskuldig (wit) Bernard sélf ook sy (wit) ma van rassisme. Sodoende word die ma tot simbool van wit rassisme gemaak. Is die motief vir dié voorstelling nie ook self 'n blyk van rassisme nie? Dit is beslis geen "storm in 'n glas water" nie, maar bydraend tot die verdere openbaar verdagmakende rasetikettering van wittes.
'n Sepie wat sedert 2 000 ingestel was op gesinsvermaak, is egter deur die ANC-SABC gekaap en word nou, breinspoelend, vir propagandadoeleindes aangewend. Dit is laakbaar en onverantwoordelik om rasseverhoudings verder te vertroebel in 'n reeds oorverhitte rassensitiewe klimaat