Tuesday, 31 December 2019

Maak 2020 die jaar van waarheid




Die talle padsterftes, lewelose liggame langs snelweë aangetref, asook lyke gevind in die veld volgens nuusberigte het, enersyds, die waarheid van die dood, maar ook, andersyds, ook die dood van die waarheid in dié tyd in fokus geplaas.

Die druk op waarheid is aan't toeneem. Hy wie se geboorte ons met Kersfees herdenk het, het gesê: "Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore..." (Joh. 18:37). Kersfees staan dus duidelik in die teken van waarheid en wil óns ook herinner om vir/van die waarheid te getuig.

Vooruitstrewende samelewingsontwikkeling berus sterk op die wetenskaplike soeke en ontdekking van toepaslike waarhede en implementering daarvan in samelewingsbelang. Die norm vir lewe en vooruitgang is waarheidsoeke. Dit maak die bestyging van die beskawingsleer moontlik.

Hoe sien Suid-Afrikaners se ingesteldheid teenoor waarheid daaruit? Talle simptome wil daarop dui dat dit veel te wense oorlaat. In sy eenbedryf toneelstuk, "Ruwe erts", sê H.A. Fagan: "Dis ruwe erts, maar ek sien daar greintjies goud in blink"   -   simbolies ook van toepassing op Suid-Afrika.

Gun ons as landsburgers die versugting dat waarheid sal seëvier aan die einde van die Zondokommissie se ondersoek na staatskaping deurdat die waarheidsvyande ontmasker en gestraf sal word. Dit sal daardie "greintjie goud" verteenwoordig waarop ons hoop gevestig kan word dat meerdere sulkes daaropvolgend "ontdek" sal word sodat waarheid mettertyd in alle samelewingsektore sal triomfeer.

Met getuienislewering oor waarheid as besondere kenmerk van Sy geboorte, waarom dan nie 2020 verklaar tot "Jaar van die waarheid" nie?




Sunday, 22 December 2019

Onderskei tussen haat en teregwysing




Vanweë die sekulêre grondwet van SA kon boer Damian Engelbrecht nie deelname aan die TV-program, "Boer soek 'n vrou", ontsê word nie, dog die openbare polemiek in reaksie daarop was wel voorsienbaar.

Hy sê: "...ek is klaar met die Christendom, maar nie met Jesus nie..." Hy wil nie langer 'n Christen wees nie "...omdat Christene so liefdeloos en met haat...te velde trek teen gay mense" (Naweek 20.12). Sy redenasie oor nie-Christenwees is moeilik te begryp. Jesus is tegelyk Christus, daarom word Sy volgelinge Christene genoem, ook steeds Damian.

As mense is ons lewenslank oral gebind aan kontekstuele (spel-)reëls en/of gedragskodes. Dit geld ook vir Christengelowiges soos vervat in die Bybel wat sigself, in beide die Ou en Nuwe Testament, duidelik uitspreek oor selfdegeslag verhoudings. Dit plaas die Bybel in die brandpunt van dié polemiek.

Die Bybel is die enigste en primêre "arbiter/skeidsregter" tussen dié botsende standpunte. Selfonderwerpende aan die Bybelse gesag oor dié aangeleentheid, moet beide Damian en sy kritici tot selfondersoek kom en op grond daarvan met groot versigtigheid uitsprake lewer.

Sy belewing van liefdeloosheid en haat van mede-Christene berus natuurlik op hoe hy self laasgenoemdes se opmerkings subjektief vertolk, en die vraag is of hy absoluut korrek daaromtrent is. Dis moeilik te bedink dat alle opmerkings daaraan skuldig sal staan. 

Alles het te make met ons gesindheid jeëns Jesus, Sy Woord en ons medegelowiges. Die Bybel leer ons om die daad te veroordeel; nie die dader nie. Dit berus by God. Ten einde mekaar reg te help, het ons egter ook die opdrag tot vermaning en teregwysing van ons medegelowiges ontvang.

Duidelike onderskeiding tussen liefdelose haat en opdragtelike teregwysing kan Damian baie help.

(ngn)


  



Tuesday, 17 December 2019

Politieke korrektheid is 'n bedrieglike euwel



Politieke korrektheid (pol kor) praat nie in reguit taal nie, maar pas "uitfiltrering" van waarheid toe. Dit is nie goed te praat nie, en ons kan maar net wonder oor watter gewetenstipe sigself bemoei met dié waarheidsmanipulering.

Prof. Anton van Niekerk definieer pol kor as "...'n soort geveinsdheid ... wat daarvan wegskram om ... onreg en onbevoegdheid by die naam te noem, en wat ... ter wille van gedienstigheid ... sake só voorstel dat die waarheid ... verdoesel word ..."

Volgens hierdie definisie word ongemaklike waarhede uit die openbare domein gehou en deur die skyn van geloofwaardigheid vervang. Pol kor, as slaafse transformasieagent, vind veral 'n sterk bondgenoot in die media.

Pragmatiese omgang met waarheid is 'n kenmerk van pol kor. Waarheid geld wanneer dit sekeres pas; pas dit hulle nie, word die gedienstige verdoeselingsagent teen waarheid ingeroep. Dit dryf 'n verdelende wig tussen landsburgers in met polariserende gevolge.

Pol kor het 'n ruïnerende uitwerking op die so nodige nasionaal versoenende welwillendheid tussen rasse-  en kultuurgroepe wat slegs sporadies, kortstondiglik deur sportprestasies, bereik kan word. Korruptes skuil graag daaragter as handige skildwering terwyl potensiële fluitjieblasers daardeur geïntimideer word.

Hoe raak pol kor die jeug onderweg na volwassenheid? Moet ouers gedweë toesien hoedat hul kinders met halwe waarhede breinspoelend geïndoktrineer word totdat hulle geen snars meer weet wat die waarheidsfeite aangaande hul voorouers se bydrae tot die opbou van SA was nie? Is die vakonderrig in Geskiedenis vandag dalk 'n voorbeeld hiervan? Ek vra maar net.

Enige deelname aan pol kor versterk dié bedrieglike euwel.                                         




Wednesday, 4 December 2019

SA kan steeds by Plato (500 v.C.) leer



In sy grotallegorie of -mite wys Plato, Griekse wysgeer 500 v.C.,op volslae onkunde as die resultaat van gebrekkige opvoeding en onderwys.

Plato beskryf 'n klomp vasgekettingde mense sittende teen 'n grotmuur met slegs 'n uitsig op die oorkantse grotwand. 'n Brandende vuur agter hulle werp lig op dié grotwand. Wanneer iemand/'n objek agter en tussen hulle en die vuur beweeg, werp dit 'n skadu op die grotmuur voor hulle. Al wat hulle sien, is dié skadu's, gee name daaraan, en gee só vorm aan die werklikheidsafskynsel in hul grotbestaan.

Die donker grotomgewing met die skadubeelde van die onsigbare ware werklikheidsbeelde, simboliseer die gebrek aan ware insigtelike kennis. Vasgevangenheid in voormelde word deur die kettings gesimboliseer. Die skadubeelde is simbole van pseudo kennis.

Plato sê dié vasgekettingdes moet losgemaak en omgedraai word na die ligbron van die vuur waarin hulle mense/objekte as die ware werklikheid kan sien; onderskeibaar van die skynegtheid van die skadubeelde.

Die kerntema van Plato se allegorie is mense se onkunde aangaande die ware werklikheid en funksionering daarvan; vasgevang in onkunde en gebrekkige insig wat skynwerklikheid bied. Dit is nie toevallig dat hierdie mite ontstaan in die konteks van opvoeding en onderwys met toepassingsmoontlikhede ook in ander kontekste nie.

Die toepaslikheid van dié 2500 jaar-oue allegorie vir die SA onderwys-  en skolestelsel is voor die handliggend. Maar wat ook van kontekste soos dié van die SAL en Eskom   -   asook dergelikes  -  met hul reeds kwarteeu-oue rekords van volgehoue mislukking? Word daar met insigtelike kennis of dié van skyninsig, in lig-  of in skadu-omgewings, geopereer? 'n Platoniese "losmaking" en "ommekeer" is dringend nodig in landsbelang.                                   (ngn)




Tuesday, 19 November 2019

Respekteer reg op eie identiteitsvorming



Christi van der Westhuizen is by heelparty Afrikaners bekend vir haar fel kritiek teen hulle. Haar: "Afrikaner identity in post-apartheid SA remains stuck in whiteness", is tekenend daarvan.

Sy beweer dat Afrikaneridentiteit (Ai) na 1994 radikaal uitgedaag word, met haarself as 'n voorste uitdager. Maar waarom dan net Ai uitdagend uitsonder ? Wat ook van die ander SA identiteite?

Gesien deur haar "lens van ordentlikheid"   -  haar begrip vir die samehang van identiteits dimensies   -   is Ai vir haar egter van 'n minder "wit" aard as die identiteit van Engelssprekendes wat versterk word deur wêreldwye Anglo "witheid".

Sy sê Afrikaner "witheid" verskil paradoksaal van dié van die Engelse identiteit wat van 'n sosiale meerderwaardigheid getuig. Afrikaner teenstand teen laasgenoemde sou lei tot "volkstrots". Histories gesien, is sy korrek.

Dat sommige Afrikaners verengels, is ongelukkig waar. Sy beweer dat sodanige anglisering tot die versterking van Afrikaner "witheid" lei. Regtig? Behou sulke verengelsde Afrikaners steeds hul tipiese Ai ten spyte daarvan dat Afrikaans, 'n dimensie van Ai, deur Engels, 'n dimensie van die Engelse identiteit, vervang word?

Vir Van der Westhuizen behou verengelsde Afrikaners hul Ai en word diesulkes se "witheid" deur Engels versterk. Dus: in plaas daarvan om nie net "witheid" te transendeer nie, maar ook ras en rassisme (wat 'n bevooroordeeldheid), word Afrikaner "witheid" egter deur verengelsing versterk.

Bemoeienis met ander se identiteit om dit te wil beoordeel, en selfs te wil voorskryf, pas ons nie. Eie identiteitsvorming is deel van ons menseregte. Nee, laat ons waak teen beterweterige veroordeling van identiteite wat ons nie aanstaan nie. Respekteer liewer alle mense, ook wit Afrikaners se "volkstrots" as 'n dimensie van hul Ai   -   soortgelyk aan "etniese trots" aanwesig ook by ander groepsidentiteite   -   se grondwetlik demokratiese reg op eie identiteitsvorming.


Tuesday, 5 November 2019

Dankie vir aansteek van SA vlam van hoop




'n Belangrike vraag is of die uitslag van die Japanse 2019-wêreldbeker rugbytoernooi enige positief inspirerende uitwerking, in oordragtelike sin, op ons nasionale samelewing gaan hê. Wil ons nie graag sien dat dit tot veel méér as net verbeterde rasseverhoudings en  -welwillendheid sal lei nie? Dit beslis ook, ja.

Die 1995- en 2007-weneuforie was van korte duur. Kan dit dalk dié keer anders wees met die beker as simbool van toekomstige hoop; meer as net 'n landswye vertoontoer daarvan?

Hoop wat nie in vervulling gaan nie, vervaag mettertyd en verdwyn in die niet. Na herhaalde mislukkings in die verlede moes ons telkens by monde van afrigters die bekende cliché: "Ons het baie daaruit geleer", verneem. Van dit wat "geleer" is, het ons weinig in rugby- of nasionale konteks sien realiseer.

Van omkeerstrategieë, waarvan uiteindelik niks kom nie, het ons ook al dikwels verneem. En hier kom verras Rassie en sy spelers en bewerk 'n suksesvolle omkeerstrategie in Springbokrugby, in 'n relatief kort tyd, wat vriend en vyand verras.

Ons kan, en móét, ontginnend leer uit dié grootse (inter-)nasionale  prestasie; veral hóé dit behaal en wat dit geverg het, as uitdaging aan alle samelewingsektore om SA "om te draai" van 'n verloor-  (lees: armoede-, werkloosheid-, misdaad-  en korrupsiegeteisterde) na 'n wenland op politieke, ekonomiese en maatskaplike gebied.

Rassie en sy spelers het alles  -  ook seer en beseerde lywe  -  op die spel geplaas om sukses te behaal. Is alle Suid-Afrikaners bereid tot soortgelyke opofferinge in nasionale konteks ? Moenie wag op ander om te begin nie; begin self. 

Dankie aan Rassie en die Springbokspan vir die heraansteek van die SA vlam van hoop. 




Tuesday, 22 October 2019

Moenie kerk buite-Bybels beoordeel nie





In "Die sekularisasie van geloof" (18.10) spreek Koos Kombuis (KK) homself uit oor die NG Kerk. Die onmiddellike vraag is die vraag na die gesagsbasis van sy kritiek.

Die kerk ontleen sy gesag aan die Woord van God en vergelyk tegelyk die kerk met die Liggaam van Christus met Hom as Hoof daarvan, asook die kerk as Bruid van Christus met Hom as Bruidegom.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 29, waarsku Christengelowiges juis om versigtig te onderskei tussen die ware en valse kerk en laasgenoemde se misleiding.

KK se gesagsbasis kom aan die lig vanuit wat hy sê aangaande homself soos dat hy  "nie 'n aktiewe lidmaat van die NG Kerk ...of ooit weer sal wees nie...(en) ek weet nie eens of ek myself 'n 'Christen' wil noem nie." So, wat doen KK? Hy (ver-)beoordeel die kerk volgens beide buite-Bybelse sowel as buite-kerklike nie-legitieme gesag.

KK moet besef die kerk is nié 'n menslike, maar wel 'n Goddelike instelling, en kan nie volgens die onbetroubaar, bedrieglik, wispelturige en pragmatiese menslike natuur beoordeel word nie. Derhalwe 'n vriendelike beroep op KK om die Bybelse gesagsbasis
 van die kerk te respekteer en dit daarvolgens te beoordeel.

In verdere aanluiting by KK, ondersteun ek nie die NG Kerk se onlangse besluit "om op 'n meer demokratiese wyse om te gaan" met 'n Bybels opdragtelike aangeleentheid waarteen die Bybel homself by herhaling ondubbelsinnig uitspreek nie.

Die kerk het nie 'n mensgegenereerde "demokratiese" opdrag ontvang nie, wel Soli Deo Gloria in al sy doen en late. Staak dus, asseblief, alle buite-Bybelse (ver-)beoordeling van die kerk.




Wednesday, 2 October 2019

Tydige nasionale gesprek noodsaaklik




Indien nie die kernprobleem nie, is en bly oorbevolking een van die primêre oorsake wat ekonomiese groei, ontwikkeling en vooruitgang in SA strem. Die almal akkommoderende ideale balans tussen vraag en aanbod, oor die hele spektrum van lewensnoodsaaklike middele vir 'n menswaardige bestaan, bly 'n hersenskim in SA.

Een van die lelikste gesigte van oorbevolking is werkloosheid met sy legio van newe-effekte op veral ekonomiese en maatskaplike terrein. Dit raak die menswaardigheid van mense in hul diepste wese. Die geskiedenis verhaal van oënskynlik "tydelike oplossings" in die vorm van wrede menseslagtings, oorloë, hongersnood en dodelik aansteeklike siektes.

Is 'n herhaling van voorgemelde dit wat wag op 'n snel oorbevolkende wêreld te midde van onrusbarende tekens van klimaatsverandering? Is laasgenoemde 'n ingryping in bevolkingsaanwas wêreldwyd? Oorbevolking is 'n tydbom. SA self is vinnig aan't ontwikkel van sy eie indien iets drasties nie daaaromtrent gedoen word nie.

SA is  'n multikultureel saamgestelde samelewing waarbinne elke onderskeibare kultuurgemeenskap 'n eie siening van geboorteaanwas het. Sommige begeer baie kinders; ander weer 'n beperking. Is dit onredelik om van elke ouerpaar wat 'n kind verwek te verwag om vir so 'n kind se versorging verantwoordelikheid te aanvaar eerder as om dié selfopgelegde plig van ouerskap af te skuif op iemand anders of selfs die staat? Kinderverwekking is sekerliik nié 'n mensereg indien dit nie gepaard gaan met die kind se reg op behoorlike ouerlike versorging nie, of hoe?

Makliik sal die SA samelewing sekerlik nie konsensus bereik oor geboorteaanwas te midde van diepgaande en gevestigde tradisionele kultuurverskille daaromtrent nie. Verdien dit nie, hoewel sensitief, 'n dringende nasionale gesprek ter tydige voorkoming van 'n potensiële nasionale ramp nie? Ons almal se toekoms word daardeur geraak.





Tuesday, 17 September 2019

Watter gees het SA tans in sy greep?

'n Foto kan 'n duisend woorde vervang. Met sy skets op die voorblad van Die Burger (13.09) doen Fred Mouton presies dit. Hy skets 'n "monster", simboliserend van die skokkende nasionale geweld- en misdaadsyfers soos onlangs aangekondig.

Daar is tans 'n RSG-advertensie wat beweer dat ons gewete ons sal pla as ons nie ons TV-lisensies betaal nie. Hoe verblydend om te hoor van die moontlike voortbestaan van die persoonlike gewete, maar wat van die nasionale gewete?

Die gewetenskwessie is van die allergrootste belang vir ons dag. Waarom? Na die mate waartoe wettelose gedrag toeneem, móét dit verdiskonteer word ook in terme van die mate waartoe gewetenloosheid toeneem.

Benewens die duidelike verband tussen die gedragsensurerende gewete en wetteloosheid, sien Christene  -  sensusgewys die getalsterkste geloofsgemeenskap in SA  -  die verdere verband raak tussen die gewete en die gees wat dit beheer, dus: gees, gewete, gedrag (Rom 9:1;Gal 5:25).

Gedrag word bepaal deur die geestestipe wat op die gewete beslag lê. Mense, sowel vlees as gees, kan deur die onsigbare geesteswêreld manipulerend beïnvloed word indien jy jouself daartoe leen (Efes 6:12).

Mouton se simboliese figuur herinner aan 'n menslike voorkoms, maar dit is beslis nié. Let op die ore, oë, neus, mond, tande, hande, vingers en -naels. Vir Mouton moet dit dus 'n gees versinnebeeld. Herken ons dié gees?




Tuesday, 10 September 2019

Dié krisis raak ons almal




Die ANC is die hoofoorsaak van die teenswoordige onluste-krisis. Hiertoe dra by, onder meer, die ANC-leierskapskrisis, faksies se binnegevegte, onvermoë tot besluite-implementering en herhaaldelike leë verkiesingsbeloftes.

Die stereotiep-geworde "together we can do more" ter wille van "a better life for all" het vir die mees agtergeblewenes na 'n kwarteeu niks opgelewer nie. Die opgeboude frustrasie van teleurgestelde verwagtinge kom nou tot uitbarsting.

Die gebrek aan instromingsbeheer van Afrika-immigrante   -   ANC "pay back time"-beleid   -   plaas bomenslike druk op ons beperkte natuurlike hulpbronne. Uiteindelik deel al hoe meer in al hoe minder van die SA-koek. 'n Ontploffende bevolkingsaanwas vererger dié situasie.

'n ANC-verdeling in 'n Ramaphosa-  en Zuma-kamp en binnegevegte in 'n leierskapstryd, verdeel ook vanselfsprekend die tradisionele ANC-ondersteunersbasis in twee faksies. 'n Klimaat van wedersydse wrewel en antagonisme tusssen dié kampe vind uitdrukking in 'n woedeverskuiwing vanaf gepolariseerde partygenote na die "vreemdelinge" van buite SA.

Die kenmerkende solidariteitsmuur van Afrika-nasionalisme begin krake vertoon. Afrikastate se reaksie op geweld teen hul burgers alhier getuig daarvan. Vir die langdurig bedroë lojale ANC-ondersteuners het selfoorlewing 'n belangriker prioriteit as solidariteit geword. 

Ace Magashule, ANC sekr-genl, stook onlustepotensiaal verder aan met sy opmerking dat wittes ook "vreemdelinge" is. Die implikasie hiervan is duidelik   -   'n onbedekte dreigement jeëns wittes.

'n Belangrike vraag is egter of die ANC dié komplekse krisis ontlontend suksesvol sal kan bestuur? Dié krisis raak ons almal.



Tuesday, 3 September 2019

Los die verlede en fokus krities op die hede



Ek verwys na Jan-Jan Joubert se artikel: "Hoe die Groot Krokodil sy byt verloor het" (30.08). Hierin verwys hy na wyle oud-pres. PW Botha as "die kortgebakerde ou vuurvreter (met sy)...boelie geaardheid (asook dat)...die meerderheid van die land se bevolking hom absoluut verafsku het."

Ook sommige NP-ondersteuners het nie geredelik kon identifiseer met Botha se leierskapstyl nie, dog partylojaliteit sou nie toelaat dat die kind met die badwater en al uitgegooi word nie.

'n Vraag aan Joubert is egter of hy Botha enigsins billik gebalanseerd en krities konstruktief probeer beoordeel het, gemeet aan die nasionale eise, uitdagings en bedreiginge waarmee enige staatshoof  -  binne die unieke tydperk van sy ampstermyn  -  gekonfronteer word? Hierdie billike balans ontbreek opvallend.

Botha kry geen erkenning vir sy beskerming van die SA-burgery tydens die stedelike terreur van die ANC en die beskerming van ons landsgrense teen vyandige sosialisties-kommunistiese insypelaars nie. Vir hom het die ideologie van sosialisme-kommunisme gevaar gespel; vir sy opvolgers nie.

In sy artikel toon Joubert 'n ongevoeligheid vir Botha se naasbestaandes wat dit waarskynlik met ontsteltenis en as 'n openbare verleentheid moes gelees het. Joubert hou ook die bestaande verdeeldheid in Afrikanergeledere tussen die Botha- en De Klerk-ondersteuners lewendig. Dit is te betreur.

Waarom nie veel eerder hedegerig, in plaas van verledegerig, krities fokus op ons huidige demokrasie  -  gekenmerk deur vele eienskappe van bestaande kleptokrasieë en chaoskrasieë  -  wat die Bothabedeling vervang het nie? Joubert kan 'n konstruktiewe bydrae lewer tot die oplossing van SA-probleme deur na die oorsake daarvan in die hede te soek eerder as in die verlede.



Tuesday, 20 August 2019

Ekonomiese herstel 'n groter prioriteit as die NGV




Gedurende ekonomies voorspoedige tye slaap ons soos 'n Rip van Winkel, net om deur ekonomiese nagmerries wakker geskud te word. Ons ontkom nie die beïnvloeding van die wêreldekonomie nie. Die VSA-Chinese handelstwis en Brexit is voorbeelde wat potensieel ekonomiese nadele inhou. Ons eie ekonomie, egter, verg 'n indringend herstellende ondersoek.

Sosialisties-kommunisties geleide transformasie en ANC-onwilligheid om op te tree teen plundering van staatsbates, -ondermyning en -destabilisering deur staatskaping, korrupsie, diensleweringsverval, vandalisering van infrastruktuur en onproduktiwiteit   -   'n onuitputlike lys   -   het SA gevoer tot op die oewer van ons eie ekonomiese Styx.

ANC-partybelang geniet voorrang bo burgerybelang. Dié party laat sy ondersteuners toe om die ekonomiese gans wat die goue eiers lê tot op sterwens na te wurg. Op diesulkes het George Orwell se opmerking betrekking: A people that elect corrupt politicians, impostors, thieves and traitors are not (economic) victims ... but accomplices.

Om te onderskei tussen slagoffers van, en medepligtiges tot, die vernietiging van die SA ekonomie, is krities belangrik. Finansieel afhanklik van beleggingsopbrengste word nie-staatspensioenarisse se pensioene tans afwaarts aangepas, midde in die huidige kostestygingspiraal, vanweë ons gesaboteerde ekonomie   -   'n stryd om oorlewing vir talle senior burgers.

Met sy openbaar verklaarde Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) het die ANC landswyd 'n klimaat van revolusie gevestig. Die ideologies sterk gedrewe NDR ruïneer die SA ekonomie en verarm ons burgery. NDR-georiënteerd, gaan die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) armoede eskalerend laat toeneem. Dis roekeloos.

Nee, ANC, verlaat julle swewende lugborrel; kom af aarde toe en herstel eers ons chaotiese ekonomiese huis   -   'n groter prioriteit as die NGV.            (ngn)





Tuesday, 23 July 2019

Lei SABC-gespreksleiers beter op



Ons weet reeds dat invloedryk vooraanstaande swart leiers tevore gesê het dat swart mense nie rassisties kan wees nie; witmense wel. Diè tot norm aanvaarde siening word ongetwyfeld ook weerspieël in die MRK se politiek korrekte hantering van swart rassisme.

Die openbare debat oor rassisme, soos ook deur die SABC  as openbare uitsaaier hanteer, verdien ook die aandag. SABC-nuusuitsendings word telkens voorafgegaan deur die aanspraak dat dit "onafhanklik en onpartydig" is. Dit sluit aan by hul kern redaksionele waardes van gelykheid, nasiebou, diversiteit, menswaardigheid en deursigtigheid.

Wat van nuusuitsendings gesê word, kan egter nie altyd van hul programleiers se  -aannbiedings gesê word nie. Sommige gespreksdeelnemers word soms op blatante wyse toegelaat om eensydig alleen teen wit rassisme gal te braak. Getuig dit van onpartydigheid?

Programaanbieders mag nie toelaat dat die SABC as ongrondwetlike platform gebruik word vir ontoelaatbare beskuldigings teen wittes alleen nie. Gesprekke oor rassisme, voorgehou as inklusief van aard, ontaard dikwels in 'n eksklusiewe gesprek waartydens wittes in die beskuldigdebank geplaas word.

Diè rasverdagte SABC-gesprekvoerings, wat sommige deelnemers benut vir hul aanvalle op wittes, is teenproduktief vir die bevordering van rasseharmonie as 'n noodsaaklike voorwaarde vir gesonde nasiebou. Dit verhoog ongewensde rassespanning, -polarisasie en jaag die nasionale gemoedere op.

Die SABC moet gespreksleiers sodanig vooraf oplei   -   oor rasgevoelige onderwerpe soos rassisme   -   wat nie gespreksdeelnemers sal toelaat om, teenstrydig met die Grondwet en ook sy eie kernwaardes, rasveroordelende propaganda te verkondig nie.





Tuesday, 9 July 2019

'n Kommerwekkende verskuiwing



Na mate mense ouer word, neem sommige se bekommernisse dikwels toe. Die wêreldwye verval en agteruitgang van die Christendom vind ek kommerwekkend. Bestaan daar 'n meer fundamentele verskuiwing met ernstiger toekomsimplikasies as dit?

Derduisende stroom na vermaaklikheidsfeeste en sportbyeenkomste terwyl gemeentes sterf, want: kerkbywoning daal dramaties, kerke loop leeg, -deure gesluit en -geboue verkoop. Postmodernisme verklaar die kerk irrelevant. My kommer ongegrond? Wat lê aan die wortel hiervan?

Ons verneem dikwels: "We stand at the dawn of a new age". Die dryfkrag na 'n getransformeerde nuwe wêreldorde (NWO)  -  een wêreldparlement, polisie-  en weermag, onderwys-, juridiese-, monetêre stelsel en een wêreldgodsdiens  -  neem vinnig toe in momentum. 

In sy boek, "Mind Siege", noem dr.Tim La Haye dié snel ontwikkelende wêreldgodsdiens Sekulêre Humanisme (SH). SH het ontwikkel uit religieuse humanisme, onderweg na Planetêre Humanisme. SH verwerp Bybelse teïsme as mities en onwetenskaplik.

Ateïsties sterk gedrewe word SH, veral in die VSA en Europa, deur onderwysinstellings, openbare media en talle frontorganisasies versprei. SH-breinspoeling en -indoktrinasie moet die wêreldjeug vir NWO-burgerskap voorberei. SH oefen ook toenemend invloed uit op die beleidsbesluite van regerings.

Ateïsme, evolusionisme, amorele leefstyle, menslike selfgenoegsaamheid en globalisering is kenmerkende transformasie-agente van SH. Is enige hiervan sodanig "wetenskaplik"?

La Haye beweer SH is nie bloot net nog 'n filosofie en/of wêreldbeskouing nie, maar 'n godsdiens volledig gevestig op 'n ateïstiese geloofsbasis. Voorheen, sensusgewys, in hoofsaak christelik, is SA reeds tot sekulêre staat getransformeer in navolging van die wêreldgemeenskap onderweg na Planetêre Humanisme.





Wednesday, 26 June 2019

Meerderhede kom weg met wandade en moord



Toe bevolkingsgroepe, histories gesien, op verskillende ontwikkelingspeile mekaar ontmoet het, blyk dit dat die verder ontwikkeldes   -   ter wille van standaardebehoud   -   hulself teen die minder ontwikkeldes probeer beskerm het. In 1948 het die NP dit probeer doen deur 'n beleid van afsonderlike ontwikkeling, wêreldwyd volgehou apartheid genoem met doelbewuste negatiewe konnotasie.

Ek gesels met 'n afgetrede navorsingsassistent van 'n Australiese universiteitsprofessor. Sy vra my uit na toestande in SA. Sy deel haar persoonlike onrus waarmee sy die Aboriginees (A) se jongste gedrag in nasionale konteks waarneem. Hulle weier, byvoorbeeld, om die volkslied te sing, en vra my waarop dit sou dui. Dalk het die wyse waarop die A in die verlede deur die Australiese wittes behandel is iets daarmee te doen?

Daarop vertel sy van die groot onreg van die Australiërs teen die A gedurende die 19de en 20ste eeue toe eersgenoemdes laasgenoemdes se kinders by hulle weggeneem het en in of staatsweeshuise of in Katolieke sendinginrigtings geplaas het. A meisies moes dan met wit mans trou, en deur voortgesette ondertrouery moes die A-minderheid verdwyn binne die wit meerderheid. Rassisme in 'n erge graad. Was dit geslaag? Nee.

Ek vra haar of sy bewus is van die 45 A   -   in die 19de eeu deur Australiese polisie doodgeskiet, die koppe afgesny en gekook om hul skedels te kry   -   waarvan tien uitgesoek en na London gestuur is in 'n poging ter stawing van Charles Darwin se evolusieteorie. 'n Sendeling was 'n ooggetuie. Nee, sy weet dit nie. 

Dubbele wêreld-  en persstandaarde? Ongetwyfeld. Die wit Australiese meerderheid het egter heelwat vriende binne die sekulêr humanistiese en liberale Anglo-Amerikaanse omgewing. Daarteenoor het SA se minderheid wit protestantse christene weinig, indien enige.

Meerderhede kom dikwels weg met hul wandade teen en moord op minderhede. Daarvan is die nuwe SA een van die jongste voorbeelde.



Hier word SA-jongmense se talente waardeer



'n Eerste besoek aan ons diasporakinders  -  in die noordelike streek van die New Zealandse (NZ) suideiland -  het alle verwagtinge oortref. Ons is aangenaam verras deur die panoramiese uitsigte op heuwel-, berg-, vallei-  en seelandskappe.

Plantegroei is getooi in die allermooiste herfsskakerings van bruin, oranje, geel en rooi. Van Wyk Louw se: "Die jaar word ryp in goue akkerblare", geld universeel. Wat 'n geestesverkwikkende blootstelling in teenstelling met ons onseker sombere daaglikse SA-bestaan.

In die land van die lang wit wolk, silwervaring en skugter kiwi, word ook die legende van Pelorus Jack (PJ)  -  'n groot wit dolfyn  -  vertel. As Maorilegende sluit ook die westerse kultuur daarby aan.

Die see speel 'n kernrol in die mitologiese Maorikultuur. Daaruit het alle lewe, ook die mens en eilande (wat voorheen visse was), voortgekom. Seediere, soos PJ, het hul voorvaders vanaf Polenesië hierheen begelei.

Deur fotografering en dokumentering is die bestaan van PJ wel bevestig. Gedurende 1888 tot 1912 het PJ skepe vanaf Wellington (noordeiland) na Nelson (suideiland) vergesel en gevare op die seeroete "uitgewys". 

Waar die skilderagtige Frenchbergpas eindig by een van die talle see-inhamme is daar 'n gegote afbeelding van PJ vergesel van 'n kort beskrywing van dié legendariese dolfyn.

Legendes het my nog altyd gefassineer, waarvan sommige egter soms met 'n knippie sout geneem moet word. 

Groete vanuit natuurskone NZ waar SA-jongmense se kennis en vaardighede erken en konstruktief benut word; 'n jammerlike bateverlies vir ons eie eens welvarende nasionale ekonomie  -  self ook eersdaags 'n legende?





Tuesday, 5 March 2019

Wat sê kerkopsieners van dié uitdaging?




In Willemien Brümmer se "Die wiel moet maar net draai" (01.03), verneem lesers van ds. Louis van der Riet, eerste openlike gay NG Kerk-leraar, se onbeskaamde uitdaging aan dié kerk. Ek beperk my reaksie tot sy kerkuitdagende sienings van die huwelik en liefde.

Dié gay dominee vra (sekerlik nie uit Skrifonkunde?) waarom die huwelik alleen tussen 'n man en vrou moet wees. Vir hom is daar, volgens sy teologiese oortuiging, geen goeie rede daarvoor nie. Hy vra uitdagend: "Wie is die kerk in elk geval?" en sê, eweneens uitdagend,: "as ek...iemand vind en ek wil trou, gaan dit gebeur. Ja hier in die kerk." Hierdie uitdaging betrek nie net die kerk nie, maar ook Gods Woord waarin die kerk fundeer is.

Liefde in Skrifkonteks beklemtoon Christene se liefde vir God (agape) asook liefde vir die medemens (filia+eros). Van der Riet sê: "mense wat gay is, is vir my veel belangriker...(en) vir my die essensie van die evangelie." Sy gehoorsaamheid, ingesteldheid, passie en hoop   -   sê hy   -   is gesetel in 'n gemeenskap "om mense beter lief te hê." Oor die agape-liefde swyg hy soos die graf.

Van der Riet sê: "Ek hoop nie ek ...moet...konformeer tot die NG Kerk nie." Mag ons vra waarom hy hom dan in dié kerk bevind indien hy weier om die kerkspel volgens kerklik kontekstuele spelreëls te speel? Voorts mag ons ook vra hoe kerkopsieners soos die kerkraad, plaaslike Ring en selfs streeksinode, in terme van ons belydenisskrifte, op dié jong predikant se uitdaging van die kerk reageer?                       (ngn)






Tuesday, 26 February 2019

Soos Adams, vra ek ook maar net




Met die uitsondering van Vrydae kan Oos-Kaapse Die Burger-lesers nie meer dié koerant in papierformaat lees nie. Die Kaap se geslaan van die nuustromme aan die begin van 'n week se golftrillings hoor ons heel dikwels hier eers teen die einde van 'n week. Gevolglik weet ek ongelukkig nie wat die Britse LP, Jacob Rees-Mogg, oor die historiese AB-konsentrasiekampe gesê het en presies hoe Elias JJ Olivier daarop gereageer het nie.

In sy "Vergissing of selektiewe moraliteit?" (22.02) reageer Charl Adams egter op Olivier (19.02) wat slegs na die lewensverlies onder die Boere, en nie ook na die 15 000 swartes wat ook in kampe gesterf het, verwys. In aansluiting by sy brieftitel eindig Adams sy skrywe met: Ek vra maar net.

Olivier se alleenverwysing slegs na Boereverliese, en nie ook na swartverliese nie, is van 'n eksklusiewe aard. Dit wil lyk asof dit vir Adams eerder van 'n inklusiewe aard moes wees. Indien wel, vra ek myself af of dit dan die nuwe politiek korrektheidsnorm geword het dat ons voortaan altyd alleen maar inklusief te werk moet gaan en ons vryheid moet prysgee om nie ook soms eksklusief te werk te mag gaan nie.

Is die reeds bestaande politiek korrektheidsnorm dan ook alreeds omskep tot ons samelewing se moraliteitsnorm? Mag ons dan nie langer enigiets van die eie raaksien en beklemtoon sonder die voortdurend gedwonge inkorporering ook van die buite die eie nie? Soos Adams, vra ek ook maar net.



Tuesday, 5 February 2019

Help ander, ja, maar help ook die eie




Hulle woon dig saamgehok in die agterplaas van 'n spazawinkel in die onderdorp in lekkend verweerde woonwaens en kinderspeelhuisies (wendy houses)   -  werkloos, inkomsteloos en op aalmoese aangewese.

Dikwels staan hulle by verkeersligte en stopstrate met 'n blikkie in die hand, klop aan ons voordeure met versoeke om voedsel en/of geld, en krap selfs in vuilgoedsakke ten einde gesinne te kan onderhou, hulle wie se selftrots hulle lank reeds ontneem is met ons wat verkies om liewer anderpad te kyk as in hul oë.

Wie is die "hulle" wat, gestroop van hul menswaardigheid, onder haglike omstandighede leef? Vir my is hulle my ras-, taal-, geloofs-  en volksgenote wat 'n uitsiglose toekoms onder 'n onsimpatieke, dikwels wraaksugtige en korrupte ANC-regering tegemoet gaan.

My genootlike identifisering met dié uitgestotenes sal waarskynlik as rassisties, fundamentalisties en derhalwe deur sommige politiek korrektes as 'n gevaar vir die nasionale ideologie van sosialisme-kommunisme beskou word.

Op my rekenaarskerm verskyn daar gereeld 'n herinnering aan mammas van voorskoolse kleuters om tog nie daardie ekstra broodjies op 'n Vrydag vir ons Kwa Nobuhle-maatjies te vergeet nie. Prysenswaardig en verdienstelik dié uitreiking (nie hier gemeld as kritiek nie), maar wat dan ook van ons eie volksmaatjies wat swaarkry?

Durf ons toelaat dat die druk van politiek-korrek-wil-wees ons gesonde prioriteite-oordeel   -   betreffende ons ingesteldheid teenoor ons eie volkslede   -   sal beïnvloed? Laat ons derhalwe nie die een ding doen en die ander nalaat nie.








Tuesday, 15 January 2019

ANC maak onderwys sy ideologiese speelbal


Die nuwe skooljaar het skaars begin of SA word geskud deur die ANC, getrou aan sy aard, se rasfanatieke en -histeriese reaksie op Elana Barkhuizen van die Laerskool Schweitzer-Renecke se motiveerbare toepassing van die opvoedkundig-onderwyskundige beginsel van differensiasie (Afrika vertolk differensiasie as diskriminasie) in haar graad R-klaskamer.

Sedert 1994 toon die rasbehepte en  -integrasionistiese ANC gee begeerte om die SA onderwys-  en skoolstelsel op 'n gesonde opvoedkundig-onderwyskundige fondament te plaas nie. Vir die ANC dien die onderwys die doel van "nasiebou" soos gerig deur die ideologie van sosialisme-kommunisme.

Die ANC-onderwysbedeling stel kinders deur middel van subtiele indoktrinasie bloot aan bewussynstransformasie tot die aanvaarding van ideologiese eendersdenkendheid wat enige ras-, kleur-, geslags- of  geloofsdifferensiasie ontken, met  die uiteindelike doel van die verlies van onderskeidingsvermoë dienaangaande.

Kinders moet voorberei word vir burgerskap wat sal inskakel by 'n "grys" globaal-sekulêre nuwe wêreldbedeling. Daar bestaan geen ruimte vir andersdenkendheid oor taal, godsdiens,, die verlede, identiteit, etnisiteit en volkskap nie. Die kind word onbeskaamd van die eie kosbare kultuurerfenis beroof.

As een van sy kragtigste wapens in sy ideologiese arsenaal, spoeg die ANC vernietigende rassistiese vuur teeen alles en almal wat hom teengaan. Die  samelewingsaansien en professionele status van ons onderwys is lank reeds vernietig, in direkte verband tot ons sukkelend onbekwame ANC-bestuurde ekonomie.

In die ANC-ondersoek na die Laerskool Schweizer-Reneckevoorval sal opvoedkundig-onderwyskundige kriteria nêrens figureer nie. Die ANC, wat ons onderwys gekaap en vir eie ideologiese gewin tot speelbal getransformeer het, sal nou in die hof aan die hand van grondwetlik regsgeldige kriteria gekonfronteer moet word.



Tuesday, 1 January 2019

Put hoop in 2019 uit dié verwagting



Dr W McLoud wys in sy "Alles omtrent die opkomende antichristelike orde" daarop dat die beplanners van die nuwe wêreldorde (NWO) jare gelede al met die totale transformasie van die wêreldsamelewing begin het.

Christelike waardes en norme is die grootste struikelblok onderweg na een wêreldkultuur omdat dit God se alleengesag in die wêreld erken, die uniekheid van die Christelike geloof voorstaan, en "versoening" met ander gelowe (sinkretisme) afwys.

Vroeë Marxiste het gevind dit is tydmors om met Christene oor God se bestaan te redeneer. Vanaf 1923 vind die Frankfurtse Schule dat die westerse Christelike kultuurparameters deur die transformasie van bestaande seksuele waardes verander kan word.

Sedert 1934 het Herbert Marcuse se "make love, not war" en Antonio Gramsci se "long march through the institutions"   -   soos skole, kerke, die media en die vermaaklikheidswêreld   -   daarin begin slaag om Christelike waardes te vervang met saamwoon,  -slaap, buitehuwelikse seks, vuiltaal en vulgêre en "naakte" kuns.

Diegene wat nie die Christelike waardes onderskryf het nie, het hulself as "onderdruktes" tipeer en God voorgestel as 'n diktator wat onverdraagsaam teenoor die gepropageerde nuwe waardes staan.

"Politieke korrektheid"   -   met die media op die voorpunt   -   is een van die jongste dryfkragte agter die nuwe ideologie binne die NWO-kultuurrevolusie waarvolgens vroeëre kultuurnorme as outyds, uitgedien, regs, dominerend en onaanvaarbaar beskryf word, en mense bedrieglik tot die aanvaarding van NWO-waardes gekondisioneer word.

Te midde van al die toenemende onsekerheid wat ontkerstenende wêreldtransformasie meebring, het die pas afgelope kersgety Christene se geloofsekerheid egter opnuut versterk dat die Kripkind, by Sy wederkoms, die kop van die NWO-slang sal verpletter. Laat ons daarom, met dié hoopvolle verwagting en blye vooruitsig, 2019 tegemoet gaan.